Bestuur hittestres op jou veeplaas

Estimated reading time: 7 minutes

  • Temperature in die binneland was redelik hoog in Januarie en Februarie vanjaar en produsente was bekommerd dat dit besettingsyfers in bees- en skaapkuddes tydens die teelseisoen van Desember tot Maart sou beïnvloed.
  • Tydens die jaarlikse dragtigheidsondersoeke van vleisbeeste is die data ontleed.
  • By skaapooie is opgemerk dat baie kuddes ’n vertraging aan die begin van paring ervaar het.
  • Tydens ’n voorval het ’n Bos taurus-bul, wat in ’n rotsagtige kamp met baie grond aangehou is, op al vier pote se sole bloedblase ontwikkel gedurende ’n uiters warm tydperk.
  • Daar is verskeie riglyne wat gevolg kan word om die uitwerking van hitte op diereproduksie te beperk.

Temperature in die binneland was redelik hoog in Januarie en Februarie vanjaar en produsente was bekommerd dat dit besettingsyfers in bees- en skaapkuddes tydens die teelseisoen van Desember tot Maart sou beïnvloed.

Tydens die jaarlikse dragtigheidsondersoeke van vleisbeeste is die data ontleed en bevind dat bulle en moontlik koeie onaktief was gedurende die hittegolf, en/of dat bevrugting swak was. Die meeste koeie is suksesvol gepaar voor of nadat die hittegolf toegeslaan het, dit wil sê middel Januarie tot middel Februarie.

By skaapooie is opgemerk dat baie kuddes ’n vertraging aan die begin van paring ervaar het. Ons waarnemings tydens die toetsing van ramme se geslagsgeskiktheid is bevestig: Sommige ramme is negatief deur die hitte beïnvloed. Ramme met ’n hoë liggaamskondisietelling en langer wol was meer geneig tot swak semengehalte. Die optimale temperatuur van die testes vir semenproduksie is ’n paar grade laer as die liggaamstemperatuur van 39°C. As die dagtemperatuur 40°C oorskry, het dit ’n negatiewe uitwerking op vrugbaarheid. Die hoeveelheid bestraling vanaf die kaal grond is ook beduidend hoër.

Ramme in semi-droë streke het dikwels ’n laer besettingsyfer in die somer. Die grootste rede hiervoor is moontlik dat die diere te ongemaklik en huiwerig was om rond te beweeg, hoewel ander aspekte ook ’n rol kan speel. Volgens ervare produsente het die lampersentasie van paringskuddes in die berge waar dit koeler is, gedurende die somer verbeter.

Beskadigde pote

Warm, klipperige grond kan die sagte sole van jong lammers beskadig en tot mankheid lei.

’n Groot gedeelte van die droë westelike dele van die land bestaan uit kaal grond en rotsagtige gebiede sonder enige plantbedekking, wat uiters warm kan word. Ons het ’n groot groep gespeende en jaaroud vleisbeesverse waargeneem wat mank geword het as gevolg van die grondhitte en rotsagtige gebiede in hul kamp.

Meer as 30% van die groep se pote was so seer dat die verse nie na die water kon loop nie en dus ontwater het. Hulle is na ’n rivierkamp met skaduwee en ’n paar waterpoele verskuif, en het binne ’n week herstel. Tydens ’n ander voorval het ’n Bos taurus-bul, wat in ’n rotsagtige kamp met baie grond aangehou is, op al vier pote se sole bloedblase ontwikkel gedurende ’n uiters warm tydperk. Drie Bos indicus-bulle in dieselfde kamp is nie geaffekteer nie.

Tydens ’n droogte het ’n produsent sy ooie met droogtekorrels op ’n klipplaat gevoer terwyl die jong lammers op die warm klip rondgestaan en vir hul ma’s gewag het. Baie van die lammers het mank geraak nadat hul sole op die warm rotse gebrand het.

Daar is verskeie riglyne wat gevolg kan word om die uitwerking van hitte op diereproduksie te beperk.

  1. Water

Die voorsiening van genoegsame koel, skoon en smaaklike water is die belangrikste bestuursaksie om hitteverwante stres te verlig. Dit behels ook genoeg drinkspasie en voldoende vloei, wat verhoed dat bakke droog word. Die kudde of trop se gedrag tydens hul besoek aan die drinkbak sal oormatige mededinging en ’n vertraging in die hervulling van die trog aandui. Dit is dikwels waarneembaar by beeste wat groot hoeveelhede water tydens ’n hittegolf benodig. Dit is belangrik om toe te sien dat lammers die water in ’n drinkbak kan bereik, veral tydens baie warm weer.

Water se smaak kan ook inname beïnvloed, veral in warm tydperke. Gereelde skoonmaak van die trôe kan hierdie probleem beperk, maar hoë soutvlakke, swaelreuke en verrottende materiaal in die water kan steeds waterinname beïnvloed. Sommige produsente meen die gebruik van ’n chloortablet, wat eintlik vir swembaddens bedoel is, verbeter die smaaklikheid daarvan. Deur die tablet met tinfoelie te bedek en ’n klein gaatjie daarin te maak, verleng dit die vrystelling van die chloor.

Nog ’n eenvoudige manier om die smaaklikheid van water te verbeter en selfs die groei van alge te beperk, is om die water deur ’n baal koring, hawer of garsstrooi te laat sypel. Ooglopende probleme soos bobbejane, dooie voëls of ander diere in en om die dam kan ook die oorsaak wees waarom diere nie genoeg water tydens warm weer inneem nie.

2. Tydsberekening

Dit is vanselfsprekend om wolskape voor die warm seisoen te skeer. Ons het opgemerk dat jaaroud-ooie met lang wol geweier het om tydens hittegolwe te beweeg en heeltyd gelê het. Hul liggaamstemperatuur was 42°C, terwyl dié van hul eweknieë met kort wol 40°C of laer was.

Om lammers se sterte tydens erge hittetoestande af te sny kan tot dehidrasie lei. Die snywonde, veral as gevolg van die gebruik van ’n gastang, kan só pynlik wees dat lammers vir ’n paar dae nie genoeg melk of water inneem nie.

3. Skadu

In baie dele van die land is die gebrek aan bome ’n probleem. Diere hou tydens weiding hul koppe naby die grond; dus kan die weerkaatsing van hitte vanaf die grond sowel as die warm lug ’n negatiewe uitwerking op diere hê. Skaduwee bied aan diere ‘n geleentheid om te herstel.

Koeltes by die normale rusplekke het ’n positiewe uitwerking op ooie, aangesien dit tot verbeterde bevrugting en lamoorlewing lei. Op een plaas het ’n skadunet wat slegs 1,5m hoog was, koelte geskep wat deur swartkoprasse en wolskape benut is. Sommige produsente het ou dakplate gebruik, maar tot die besef gekom dat die struktuur minstens 2m hoog moet wees om lugvloei en afkoeling moontlik te maak. Skaduwee oor ’n kruipvoer-area bied ook ’n geskikte rusplek vir klein lammers en kalwers.

Bome kan beskutting teen die warm son bied en herstel tydens weiding moontlik maak.

4. Teeldiere

As klimaatsverandering en veral hittetoestande ’n konstante bedreiging word, moet produsente oorweeg om die genetiese samestelling van hul kuddes en troppe aan te pas. Baie rasse is beter aangepas by ‘n warmer klimaat. Dit is wel moontlik om binne bestaande rasse diere te identifiseer wat beter onder hittestoestande presteer, en om hulle as vervangingsramme en -ooie te selekteer om die kudde se hitteverdraagsaamheid te verbeter.

Skape met min of geen pigment is vatbaar vir sonbrand. Hul oë kan maklik beskadig word as die geswolle ooglede nie behoorlik kan toemaak nie en stof versamel.

Diere met donker velle en ligte hare is geneig om beter aangepas te wees vir hitte. Diere met swart kloue toon ook minder skade en kan die uitwerking van hitte beter as dié met wit hoewe weerstaan. Hitte-aangepaste diere is geneig om minder vet op die liggaam te hê en dit eerder in die stert te stoor, soos Persies en ander vetstertrasse. Kleiner diere hanteer ook hitte baie beter as groter rasse.

Gereelde waarneming van diere tydens warm toestande is uiters belangrik, aangesien hitteskade baie vinnig kan voorkom. Individuele diere wat ernstiger geaffekteer word, kan uitgeskot word om sodoende die ras se produktiwiteit en oorlewing te verbeter. – dr Johan van Rooyen, Steynsburg Dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen, kleinveekuddegesondheidspesialis, by 082 463 3087 (WhatsApp) of Wandile Khave, kuddegesondheidsbestuurder, by 066 393 6271.

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...