Daar word geglo dat kolostrum aan die kalf immuniteit bied teen alle siektes, maar volgens dr Grant van Lelyveld, tegniese en bemarkingsbestuurder: herkouers by Hipra Suid-Afrika, kan ’n kalf ook haar immuniteit en teenliggaampies opbou indien dit ingegee of ingespuit word. Immuniteit is egter iets wat sy self moet ontwikkel aangesien sy geen immuniteit na geboorte het nie.
Dr Riaan Mulder, ’n veearts van Uitenhage wat sy meestersgraad in hierdie onderwerp voltooi het, sê dat ’n pasgebore kalf feitlik geen teenliggaampies het nie en daarom moet sy voldoende biesmelk inneem, wat vir haar passiewe immuniteit gee en ’n kans bied om teenliggaampies te ontwikkel.
Die kalf kry eintlik net natuurlike immuniteit van die ma vir dié siektes waarteen sy ingeënt is.
Wat is immuniteit?
Immuniteit is die verdedigingsmeganisme wat mens en dier in staat stel om die skadelike uitwerking van siekteveroorsakende mikroörganismes soos virusse en bakterieë te beveg. Die immuunstelsel se doel is om vreemde organismes in die liggaam uit te ken en teenliggaampies daarteen op te bou.
Dr Mulder sê die koei en kalf se bloedvate in die baarmoeder laat nie toe dat teenliggaampies deurbeweeg nie en daarom is dit noodsaaklik dat die kalf kort na geboorte voldoende biesmelk inneem.
Die doel van kolostrum
Kolostrum is die melk in die koei se uier net na kalwing. Dit bevat bestanddele vanuit die koei se bloed en ’n belangrike deel daarvan is teenliggaampies teen siektes. Daar is ook verskeie immuunselle, groeifaktore, hormone, antimikrobiale faktore en belangrike nutriënte wat ’n rol speel in dermkanaalontwikkeling en wat noodsaaklike voeding aan die pasgebore kalf bied.
Dit is die teoretiese waarde van kolostrum, maar volgens dr Van Lelyveld is immuniteit eintlik ’n baie meer komplekse wetenskap.
Hy sê ook dat siektes in die praktyk daarop dui dat die kalf nie altyd die nodige immuniteit ontwikkel nie. “Sekere immuniteit is van korte duur en ons kry gevalle waar kalwers vrek weens bosluisaanvalle of anaplasmose, maar dan is dit dikwels omdat die moeder nie die siekte gedra het nie en ook nie genoeg immuniteit daarteen opgebou het nie.”
Dr Mulder stem saam. Volgens hom is daar nie ’n vaste patroon van immuniteit wat met biesmelk verbind kan word nie. “Dit kan van plaas tot plaas en selfs van seisoen tot seisoen verskil. Dit hang eerstens af van die inentings wat die ma ontvang het, maar ander faktore beïnvloed ook die gehalte van die kolostrum, soos die vorm van die spene (kan die kalf dit maklik vind en begin suig?), die grootte van die koei, die moeilikheidsgraad van die geboorte, die kalf se vermoë om op te staan, omgewingsfaktore en die ouderdom van die koei.
Waarom kalwers inent?
Volgens dr Van Lelyveld is die passiewe immuniteit wat die kalf van haar moeder kry van korte duur en is dit noodsaaklik dat die kalf voorberei moet word terwyl daar nog ’n ‘buffer’ of venstertydperk is. Die kalf se natuurlike immuniteit begin binne vier weke afneem en teen die ouderdom van vier maande, moet sy vir haar eie immuniteit kan sorg.
“Ons moet na sommige van die probleempatogene kyk en later die dier se immuniteit met entstowwe versterk, aangesien dit verskillende aspekte van die kalf se immuunstelsel stimuleer en só volledige beskerming bied,” verduidelik hy.
Wanneer om in te tree
Volgens dr Van Lelyveld moet die produsent in sommige gevalle kort na die kalf se geboorte intree en die kalf inent, terwyl daar in ander gevalle ’n rukkie gewag moet word om komplikasies te verhoed.
Hy glo die toepassing van basiese higiëne is die belangrikste manier waarop die produsent moet ingryp of betrokke raak. “ ’n Droë en warm omgewing vir die kalf, goeie voeding en water is elemente wat onmiddellik na kalwing beskikbaar moet wees. Dit behels eenvoudige dinge soos om seker te maak dat die kalf biesmelk inkry, om die suigaksie te stimuleer, die kalf droog te maak en te sorg dat sy en haar ma teen koue beskerm word.
“Die kalfhokke behoort soos ’n hospitaal beheer te word. Ruil beddegoed gereeld, hou voeremmers skoon en beheer plae soos vlieë, brommers en rotte. Maak seker diere het toegang tot skoon water sodat hulle nie dehidreer nie. Dit is alles voor die hand liggende aksies om kalfgesondheid te verseker en kalwers te help om immuniteit te bou teen siektes wat kan voorkom.
“Die doel is om ’n gesonde dier in te ent sodat die beste immuniteit gebou kan word. ’n Siek dier sal nie goeie immuniteit opbou nie,” sluit dr Van Lelyveld af. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Grant van Lelyveld by grant.lelyveld@hipra.com of skakel dr Riaan Mulder op 082 326 7584.
