Estimated reading time: 7 minutes
Die sogenaamde epidemiologiese driehoek is ’n handige voorstelling van hoe ’n kuddegesondheidsprogram gestruktureer kan word. Dit neem die drie faktore in ag wat betrekking het op die evaluasie van ’n dier of kudde se gesondheidstatus.
“Om ’n siekte te ontwikkel,” verduidelik Schabort Froneman, tegniese bestuurder by Zoetis, “is daar drie faktore wat gewoonlik ter sprake kom, naamlik die gasheer (die dier self), die betrokke patogeen (bakterie, virus of protosoa) wat potensieel ’n siekte kan veroorsaak, en die omgewing wat gunstig of ongunstig vir daardie patogeen en gasheer is.”
’n Tipiese voorbeeld van ’n gunstige omgewing waarin ’n patogeen sal floreer, is intensiewe behuisingstoestande waar die higiëne nie op standaard is nie. ’n Ander voorbeeld is vrotpootjie (patogeen) wat voorkom as dit baie reën (omgewing) en die kloue van die dier (gasheer) sag maak en letsels vorm. As die dier dan loop in ‘n kraal waar daar baie mis is (omgewing), kry die patogeen maklik toegang deur stukkende plekkies aan die hoef. Al drie faktore is dus in hierdie voorbeeld betrokke.
“As ‘n mens dus vanuit ’n bestuursoogpunt ’n spesifieke gesondheidsuitdaging die hoof wil bied, is dit baie handig om hierdie driehoek in ag te neem om ’n strategie te beplan. As jy byvoorbeeld in ’n voerkraal die mis uit ’n kraal verwyder voordat die volgende groep kalwers ingeneem word, dan maak jy ’n bestuursaanpassing aan die omgewing en die patogeen, want jy verminder die patogeenlading in die kraal. As jy aan die ander kant ’n entstof toedien, maak jy ’n verandering aan die gasheer se vermoë om patogene te weerstaan.
Schabort het vyf kuddegesondheidsfaktore geïdentifiseer wat ’n produsent moet aanspreek om sy kudde volhoubaar gesond te hou, naamlik biosekuriteit, genetiese seleksie, voeding, parasietbeheer en ’n inentingsprogram.
Lees meer oor die rol van die kuddeveearts in melkkudde-sukses hier.
1. Biosekuriteit
Biosekuriteit op die plaas het ten doel om die risiko dat siektes na jou plaas ‘ingevoer’ word, te verlaag. ’n Geslote kudde is waarskynlik een van die belangrikste faktore wat biosekuriteit kan verbeter. Tweede is om ’n stel maatreëls in plek te hê wat voldoende kwarantyn, gereelde toetsing en inenting teen siektes, beheer van besoekers en voertuie op die plaas, en omgewingsbestuur insluit.
Die invoer van siektes deur onbewustelik siek diere na jou plaas te bring, is seker een van die grootste biosekuriteitsrisiko’s, sê Schabort. Die sêding dat ’n mens maklik stoetbosluise of -wurms saam met nuwe diere inkoop, is baie waar.
Daar is gelukkig baie wat die produsent kan doen om dit te vermy, deur byvoorbeeld slegs diere van kuddes te koop waarvan die gesondheidstatus bekend is. ’n Strategie om siektes te identifiseer behoort ook saam met die plaaslike veearts opgestel te word, waarvolgens diere gereeld vir bepaalde siektes getoets word.
’n Kwarantynstrategie wat lank genoeg is vir onderliggende siektes om tot uiting te kom, of vir akute siektes om genees te word, is ook nodig. Daarmee saam moet inentingsprotokolle in plek wees vir nuwe diere wat die plaas binnekom, voordat hulle aan die res van die kudde blootgestel word.
Jou bestuurstrategie moet ook daarop gerig wees om blootstelling van die diere aan patogene te beperk. Dit behels onder meer die beperking van kontak tussen jou eie diere en dié van die buurman, kontak met wilde diere, en kontak met potensieel besmette voorwerpe soos klere, toerusting, kos en water. Diensverskaffers en besoekers kan ook onbewustelik patogene aan hulle klere of voertuie die plaas binnebring.
2. Genetiese seleksie
Schabort glo dat deur ’n weldeurdagte seleksieprogram in plek te hê vir eienskappe soos herkonsepsie, produksie en aanpasbaarheid, ’n mens by implikasie vir siekteweerstand selekteer.
“Dit is net gesonde diere wat gedy. Deur streng aan hierdie seleksiekriteria aandag te gee, selekteer jy diere wat ’n weerstand teen verskeie siektes en parasiete het. Merk diere wat gereeld siek is of behandel moet word en skot hulle uit. Oor tyd sal net die diere oorbly wat weerstand teen die sieke-uitdagings op jou plaas kan bied. Hiervoor is dit natuurlik nodig dat jy baie noukeurig rekord hou. Genomika hou hopelik hier ook baie potensiaal in.”
Die mikpunt, sê hy, is om ’n kudde te teel wat by die omstandighede waarbinne jy boer aangepas is, en wat weerstand het teen die siektes wat daar voorkom.
3. Voeding
Die boublokke van ’n funksionele immuunstelsel is die voedingstowwe wat die dier inneem. Sonder goeie voeding kan die immuunstelsel nie behoorlik op entstowwe reageer nie en is die dier geneig om siektetoestande op te doen.
Voedingstowwe word in twee hoofgroepe ingedeel, naamlik makro- en mikrovoedingstowwe. Makrovoedingstowwe sluit onder andere koolhidrate, proteïen en vette in. Dit is die basisgroep van voedingstowwe. Mikrovoedingstowwe soos vitamiene A, D en E het ’n regulerende funksie in die selle van die immuunstelsel, terwyl spoorminerale belangrik is vir ensiemreaksies.
Die immuunstelsel is baie doeltreffend om voedingstowwe te gebruik as dit gestimuleer word. Dit is dus veral gedurende tye van spanning dat diere ’n hoër voedingsbehoefte kan ontwikkel. Om dit te illustreer, wys Schabort daarop dat ’n dier se metabolisme tussen 10 en 13% kan versnel vir elke graad Celsius wat die liggaamstemperatuur bo normaal styg.
“Dit is waarom liggaamskondisie so belangrik is, want as ’n dier siek word, verlaag sy voerinname en maak hy van liggaamsreserwes gebruik om die nodige voedingstowwe te voorsien om die siekte te beveg. Dit is dus uiters belangrik dat ’n produsent sy plaas goed ken en die unieke tekorte wat mag voorkom, deur middel van ’n goeie onderhoudslek sal aanvul. Dit sal sy diere die beste kans gee om siektetoestande die hoof te bied.

Lees meer oor uitskotbeginsels met kudde vir winsgewendheid hier.
4. Parasietbeheer
Daar is verskeie interne parasiete wat onder wisselende omstandighede meer of minder van ’n probleem is, maar oor die algemeen is kalwers die meeste vatbaar vir interne parasiete. Dit is ook belangrik om te onthou dat diere wat onder spanning verkeer, siek is of nie korrek gevoer word nie, meer kwesbaar vir interne parasiete sal wees.
Wat eksterne parasiete betref, moet in gedagte gehou word dat baie van hierdie spesies draers van siektes is. Rooiwater, hartwater, knopvelsiekte, Slenkdalkoors en drie-dae-stywesiekte is alles vektoroorgedraagde siektes.
“Ten opsigte van die beheer van eksterne parasiete is minder nie noodwendig altyd beter nie,” waarsku hy egter. “In endemiese gebiede vir hartwater, byvoorbeeld, is dit belangrik dat jou vee voortdurend blootstelling moet kry aan die hartwaterparasiet om hul weerstandsvlak te onderhou.
“Daar is ’n balans vir sogenaamde ‘optimale gesondheid’, wat aan die een kant die direkte uitwerking van ’n bosluislading in ag neem, maar aan die ander kant die imuunrespons weens blootstelling, behoue laat bly.”
Die riglyn ten opsigte van die gebruik van beheermiddels, sê Schabort, is “so min as moontlik, maar soveel as nodig”.
5. Inenting
Die rede vir inenting is tweeledig. Aan die een kant wil jy verhoed dat diere vrek, en aan die ander kant wil jy swak produksie weens kliniese of subkliniese siektes verhoed.
“ ’n Inentingsprogram is soos om versekering uit te neem. As niks gebeur nie, het jy dit verniet gedoen, maar as daar ’n siekte-uitbreking sou wees, sou jou skade aansienlik hoër gewees het as die koste van die entstof. Jy gee die dier dus die biologiese hulpmiddels om die siekte die hoof te bied, sou dit daaraan blootgestel word.”
Entstowwe is egter nie onfeilbaar nie, beklemtoon hy. Dit verminder net die kanse aansienlik dat ’n dier ernstig siek sal raak. Daar is heelwat redes waarom ’n entstof soms nie doeltreffend is nie, insluitend liggaamskondisie of siektetoestande en ander spanningsfaktore tydens inenting.
Die entstof self mag dalk beskadig wees deur verkeerde hantering of antigeen-oorlading (gebruik verkieslik nie meer as een lewendige en twee dooie entstowwe op ’n slag nie). Verder is skraagdosisse uiters noodsaaklik vir ’n optimale immuunrespons.
Biesmelk, sluit hy af, is ’n belangrike faktor vir die ontwikkeling van weerstand teen siektes by klein lammers en kalwers. “As jy egter daardie klein diertjie te vroeg inent teen ’n spesifieke patogeen waarteen hy reeds passiewe immuniteit deur middel van die biesmelk ontvang het, kan die immuniteit van die biesmelk die doeltreffendheid van die entstof teenwerk.
“Die antwoord is om ’n inentingsprogram sodanig saam te stel, dat die diere op die regte tyd, met die regte entstof ingeënt en geskraag word.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Schabort Froneman by schabort.froneman@zoetis.com.
