HomeAgri NewsAstral weer winsgewend

Astral weer winsgewend

-

Estimated reading time: 3 minutes

“Alhoewel die omkeerstrategie van Astral ’n duidelike sukses is, is die maatskappy se bestuur nie tevrede met die dun winsmarge wat hulle vir die eerste helfte van 2024 kon behaal nie.”

Chris Schutte, die uitvoerende hoof van Astral, het dié opmerking tydens ’n onlangse media-sessie gemaak.

Gedurende die sessie is daar bekendgemaak dat Astral se omset met 4% gestyg het tot R10,4 miljard in vergelyking met R10 miljard vir die eerste helfte van 2023.

Die maatskappy se wins het met ’n indrukwekkende 461,2% gestyg tot R550 miljoen vir die eerste helfte van 2024. Die primêre rede vir die verhoogde wins is die herstel van die pluimvee-afdeling, wat in die eerste helfte van 2023 ’n verlies van R283 miljoen gely het. Dit was die eerste verlies wat die groep in twee dekades sedert sy notering aangeteken het.

Beurtkrag en voëlgriep was die vernaamste redes vir die maatskappy se swak prestasie in 2023 en ’n “herset, herfokus en her-begin”omkeerstrategie is geïmplementeer om die maatskappy uit die rooi te kry. Alhoewel geen tussentydse dividende verklaar is nie, is Schutte tevrede met die herstelproses. 

“Ons winsmarge op braaikuikens staan tans op 2,4%. Ideaal gesproke sal mens ’n winsmarge van tussen 7,5% en 10% wil sien. So, mediaberigte wat sê dat hoenderpryse oor die afgelope 12 maande dramaties gestyg het, is eenvoudig nie waar nie,” sê Schutte.

Lees meer oor Astral se verkoop van hulle Quantum Foods aandele hier.

Skuld gedelg

Die groep was verlede jaar genoodsaak om sy skuldvlakke tot meer as ’n miljard rand te verhoog, maar danksy die verbetering in kontantvloei kon hierdie skuld uiteindelik teen einde Maart 2024 tot R444 miljoen verminder word. “Dit is baie belangrik, want in die hoenderbedryf wil mens nie regtig skuld hê nie, omdat die winsmarges so laag is.”

Hoewel die maatskappy hul oorhoofse voer- en fabriekskoste dramaties kon snoei oor die afgelope ses maande, was dit nie moontlik om die dieselrekening aansienlik te verminder nie. Die gebruik van dieselkragopwekkers het Astral steeds R101 miljoen vir die ses maande gekos. Nietemin is Schutte tevrede met die doeltreffendheid van die maatskappy in vergelyking met ses maande gelede.

Graanpryse

Vanuit ’n aankopersperspektief het die El Niño-weerpatroon ’n negatiewe invloed op graanpryse gehad, aangesien vanjaar se verwagte mielie-oes drie miljoen ton kleiner as verlede jaar is, sê Schutte. Tog glo hy die South African Futures Exchange (Safex)-pryse is nie so sleg soos wat dit in vorige vergelykbare graanseisoene was nie. “Ons het al gevalle gehad waar die mielieprys rondom R5 500/ton gedraai het, so dinge kon veel erger gelyk het.”

Danksy die Rand/Dollar-wisselkoers is Schutte optimisties dat daar verdere afwaartse druk op graanpryse sal wees.

“Die swakker makro-ekonomiese omgewing, hoër werkloosheidsyfers en swak verbruikersbesteding het als ’n invloed op die verswakte markomgewing,” meen Schutte. “Ten spyte hiervan kry Astral se eenvoudige, maar robuuste aanslag dit reg om waarde met ons besigheidsmodel vir ons belanghebbers te ontsluit.”

Voëlgriep

Gary Arnold, die hoofbedryfsbeampte van Astral, waarsku dat alhoewel die amptelike syfers daarop dui dat die 2023-uitbreking van voëlgriep verby is, die siekte steeds ’n dreigende gevaar bly. Dit is veral belangrik omdat die winter op pad is. “Voëlgriepuitbreke tydens die Europese winter dien dikwels as ’n goeie barometer vir Suid-Afrika se komende seisoen. Aangesien beide Europa en Noord-Amerika ernstig deur voëlgriep geraak is, moet ons waaksaam bly vir moontlike plaaslike uitbreke. Dit is krities omdat Suid-Afrika op twee prominente migrasieroetes van wilde voëls, vanaf Europa en Asië, lê.”

Arnold sê hoewel Astral hoop dat daar binnekort ’n entstof teen voëlgriep vrygestel word, dit slegs as ’n hulpmiddel sal dien, eerder as ’n oplossing. “Selfs met ’n entstof sal besmette voëls steeds in kwarantyn geplaas moet word.” – Susan Marais, Plaas Media

Must Read

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se...