Estimated reading time: 5 minutes
Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar bekroon. Plaas Media/Stockfarm was die trotse borg van dié gesogte toekenning.
Telers en kuddes van alle beesrasse reg oor Suid-Afrika kan vir hierdie toekenning in aanmerking kom en die kriteria is gebaseer op meetbare kuddeprestasie, wat insluit:
- Die reproduksiedoeltreffendheid van die kudde.
- Deelname in prestasietoetsing met die oog op kuddeverbetering.
- Koeidoeltreffendheid (insluitend naspeense prestasie).
- Volledigheid en akkuraatheid van prestasierekords.
- ‘n Koeikudde met meer as 50 koeie.
- Kalwingsprestasie.
- Genetiese vooruitgang en tendense in die kudde.
- Die gebruik van moderne, wetenskaplike teeltegnieke.
Benewens hierdie kriteria kyk die beoordelaars ook na die teler se persoonlike bydrae tot die vleisbeesbedryf. Aspekte wat oorweeg word is leierskap, mentorskap en die ondersteuning van ander telers, kommersiële produsente en bedryfsrolspelers.
Christo boer op die Nama-Karooveld naby Venterstad in die Colesberg/Gariep-omgewing waar temperature in die winter dikwels onder -6°C daal en in die somer bo 42°C styg. Veeplaas het by Christo en Sandra op hul plaas, Dankbaar, gaan aanklop voor die ergste somerhitte getref het. Ons wou meer uitvind oor hulle uitsonderlike Tuli-stoet en natuurlik hulle resep vir ‘n volhoubare en winsgewende beesboerdery.
Wins danksy genetika
Christo se boerderysukses is ‘n weerspieëling van goeie bestuursbesluite. Hy koop van die beste beskikbare vroulike genetika in die mark en belê in hoë-gehalte bulle wat hy jaarliks by gerekende Tuli-stoettelers koop. Dit verseker dat sy kudde se genetika voortdurend verbeter.
Hy het aanvanklik met verskeie beesrasse geëksperimenteer deur hul winsgewendheid te evalueer. Die Tuli-ras het egter koning gekraai, en gewapen met bewese syfers het Christo in 2006 sy stoet op die been gebring.
“Ek was bevoorreg dat wyle Stefan van Wyk destyds my mentor was. Toe ek hom die eerste keer oor stoetboerdery uitvra, was sy vraag aan my: ‘Wat wil jy met jou stoet bereik?’ Dit het my diep laat dink en my tot die besef gebring dat ek die winsgewendste beeste in die Karoo wou teel. Vandag kan ek in alle eerlikheid sê ek glo dat die fokus in die toekoms toenemend na beesboerdery in die Karoo sal verskuif.”
Oor fenotipe en syfers
Stefan het ‘n uitstekende oog vir beeste se fenotipiese eienskappe gehad, terwyl Christo weer die BLUP- of best linear unbiased prediction-syfers onder hande geneem het. Die tipe diere wat hy gekoop het was gemeet aan ‘n balans tussen hierdie twee maatstawwe. “Ek het weggespring met bulle en koeie wat oor goeie genetika beskik en ‘n groot kapitaalbelegging beteken het – iets waaroor ek tot nou toe nog nooit spyt was nie.”
Die Tuli’s het hulself van meet af bewys, selfs te midde van ‘n ongekende agt-jaar-lange droogte wat talle boerderye gekniehalter het. “Ons koeie lê lang afstande in die bergagtige terrein op die plaas af op soek na kos en om hul kalwers groot te maak. Selfs tydens die droogte het hul stamina ons verbaas,” sê Christo.
“Die bulle moet die koeie in hierdie strawwe omgewing dek en ons maak gebruik van die multi-stoetbul teelmetode (multi-sire mating) waar die koeie self die bulle kies. Ons beeste se mortaliteitsyfers is laag, veral wat die persentasie speenkalwers betref. Die koeie verras my telkens wanneer hulle hul kalwers uit die berge afbring met ’n gemiddelde speengewig van meer as 50% van hul eie gewig. Die koeie se vermoë om in ons berge te oorleef, hul kalwers groot te maak en terselfdertyd weer dragtig te raak, is vir my net ongelooflik.”
Bestuur is maklik met meting
Christo het van die staanspoor af aan sy eie databasis ontwikkel om sy diere se belangrike prestasie-inligting fyn dop te hou. “Ek kan alles van die koei naspeur: haar geboorte, watter bul haar gedek het, elke kalf wat sy gehad het, die prestasie van elke kalf, hoeveel bul- en verskalwers daar is, geboortesyfers, gewigte, speensyfers, en dies meer.
“Wat die manlike diere betref, kan ek die winsgewendheid van elke bul bepaal. Ons gebruik multi-stoetbulteling en DNS-toetse om te bepaal watter bul die vader van ’n spesifieke kalf is.” Multi-teling stel hulle in staat om die dominante en beste bulle te identifiseer wat in strawwe omstandighede presteer, en om te verseker dat die nageslag ook sterk en geskik sal wees vir paring.
“BLUP-syfers help my om die diere te selekteer wat ek op die plaas nodig het en wat ook in die kommersiële mark sal presteer,” verduidelik Christo. “Die BLUP-syfers in stoetkatalogusse is besonder waardevol, aangesien dit my in staat stel om winsgewende beeste met potensiaal te koop wat in my kudde sal uitblink. Wanneer voornemende kopers die plaas besoek om bulle of verse te koop, bestudeer ons elke individu se syfers, asook my eie winsgewendheidsindekse en data. Ek kan ‘n dier se hele voor- en nageslag naspeur, sowel as die winsgeskiedenis van daardie lyn.”
Christo bereken die winsgewendheid van sy kudde deur die speengewig van ‘n kalf as ‘n persentasie van die moeder se gewig op speendatum te bereken. Sy stoetgemiddeld oor die jare is meer as 50% van die totale gewig van die koeie wat met die bulle gepaar is. Die gemiddelde speengewig is 210kg vir verse en 230kg vir bulkalwers.
Langtermynplanne
Die goue reël wat hy deurgaans op die plaas toepas, is ‘n volhoubare langtermynplan vir winsgewendheid. Hy som dit soos volg op: “Elke besluit en aksie moet tot die volhoubare langtermyn winsgewendheid van jou boerdery en kudde bydra. Die tweede belangrike reël is om jou grondgesondheid, weiding en veldproduktiwiteit voortdurend te verbeter deur jou weidingspraktyke te verfyn.” – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na christo@sizanani.com of skakel 082 572 9506.


