Estimated reading time: 4 minutes
- Die Afrika-bloubosluis en Pantropiese bloubosluis is ’n eengasheerbosluis wat wyd in Suid-Afrika voorkom en rooiwater en galsiekte oordra.
- Bontpootbosluis is ’n tweegasheerbosluis wat verskeie siektes, onder meer sweetsiekte en bosluisbytkoors by mense, kan oordra.
- Bruinoorbosluis is ’n driegasheerbosluis wat ’n groter probleem in die somermaande is, maar kan ook in die herfs ’n uitdaging wees.
- Bontbosluis is ’n driegasheerbosluis wat onder meer hartwater na beeste, skape en bokke oordra.
- Gereelde dip met doeltreffende middels is noodsaaklik.
Hewige bosluisaanslae en ’n toename in die voorkoms van die siektes wat deur hulle oorgedra word, soos rooiwater, galsiekte en hartwater, is ’n werklikheid in Suid-Afrika, veral wanneer omgewingstoestande gunstig is vir dié parasiete. ’n Doeltreffende beheerstrategie en goeie bestuur is dus noodsaaklik om die aanslag te bekamp.
Corné Pelser van Virbac sê verskeie bosluisspesies wat van ekonomiese belang vir die veeprodusent is, is veral tydens die herfs aktief. Na ’n nat somer met gunstige toestande wat tot in die herfs voortduur, moet produsente wakker wees en dipprogramme aanpas sodra bosluisgetalle toeneem.
Afrika-bloubosluis
Hierdie is ’n eengasheerbosluis wat wyd in Suid-Afrika voorkom en rooiwater en galsiekte oordra. Beeste is die vernaamste gasheer waarop al die stadiums van die bosluis (larf, nimf en volwasse) op een dier voorkom. Hulle voed ook op skape, bokke, wild, donkies en perde.
Onder gunstige toestande word die lewensiklus van die bosluis binne twee maande voltooi. Van die eiers oorwinter en broei eers in die lente uit, wat beteken vier geslagte kan jaarliks voorkom. Bosluisgetalle neem van Januarie tot April beduidend toe as gevolg van die parasiet se kort lewensiklus.
Diere behoort vroeg in die lente behandel te word om die groot getalle larwes en nimfe te verminder. Deur die somer behoort produsente kontakdipmiddels te gebruik en ’n strategiese dipprogram te volg.
Pantropiese bloubosluis
Dit is ’n eengasheerbosluis wat ook galsiekte en rooiwater oordra, maar kom nie so algemeen soos die Afrika-bloubosluis voor nie. Dit is weliswaar ook van ekonomiese belang om die bosluise in die streke waar dit wel voorkom, nes die Afrika-bloubosluis te beheer.
Bontpootbosluis
Dit is ’n tweegasheerbosluis wat betreklik algemeen in Suid-Afrika voorkom en verskeie siektes, onder meer sweetsiekte en bosluisbytkoors by mense, kan oordra. Hoewel hierdie bosluis in al die provinsies waargeneem is, kom sweetsiekte hoofsaaklik in die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en die noorde van KwaZulu-Natal voor.
Die siekte word deur die wyfie-bontpootbosluis oorgedra deur middel van ’n gifstof in haar speeksel wat ontsteking op die vel, in die slymvliese en inwendige organe van die dier waarop sy voed, veroorsaak. Sowat 20 tot 30% van die diere wat die siekte opdoen, kan vrek.
Diere behoort voorkomend gedip te word. Verder moet hulle stertkwaste en die deel net bokant die hoewe geïnspekteer word, waarna hulle behandel moet word indien bosluise sou voorkom.
Bruinoorbosluis
Dié driegasheerbosluis is ’n groter probleem in die somermaande, maar kan ook in die herfs ’n uitdaging wees. Dit kan erge gevalle van bosluistoksikose veroorsaak, en kan diere se produksie en reproduksie nadelig beïnvloed en tot vrektes lei.
Die bruinoorbosluis kan korridorsiekte na vee en verskeie wildsoorte oordra, en in sekere dele van die land kan dit ook Ooskuskoors veroorsaak. Die siektes kan slegs deur besmette bosluise oorgedra word. Die nageslag van die bosluise raak eers besmet nadat hulle op besmette diere gevoed het.
Die bosluise rig ook groot skade aan diere se ore. Diere moet gereeld ondersoek word om ’n doeltreffende beheerprogram te bepaal. Deur die beeste in die herfs en winter te behandel met doeltreffende middels wat die larwes en nimfe sal doodmaak, kan groot uitbrekings van die bosluise in die somer beperk word.
Bontbosluis
Dit is ’n driegasheerbosluis wat onder meer hartwater na beeste, skape en bokke oordra. Hierdie siekte veroorsaak dat vloeistof in die dier se liggaam ophoop, veral om die hart, longe en brein, wat tot talle vrektes kan lei. Die siekte word oorgedra wanneer ’n bosluis op ’n besmette dier voed en weer ’n ander dier byt.
Hartwater kan deur doeltreffende beheermetodes voorkom word. Die beste behandeling van diere wat die siekte opdoen, is om hulle in die vroeë stadium met antibiotika, soos dié wat oksitetrasiklien bevat, te behandel. ’n Bloedentstof kan ook gebruik word vir voorkoming of beheer.
Bosluisbeheer
Doeltreffende bosluisbestuur in die herfs behels ’n geïntegreerde benadering om te voorkom dat bosluise weerstand teen dipmiddels opbou en om siekte te beperk. Gereelde dip met doeltreffende middels is noodsaaklik. Weerstand teen dipmiddels kan beperk word deur gereeld middels met verskillende aktiewe bestanddele af te wissel.
’n Goeie beginpunt vir produsente is weidingsbestuur met die doel om bosluisgetalle te verminder, asook gereelde inspeksies en inentings om veral jonger diere teen siektes te beskerm, sê Pelser. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Corné Pelser by corné.pelser@virbac.co.za of skakel 082 399 4433.


