Estimated reading time: 5 minutes
Die November-uitgawe van Veeplaas het die reeks afgeskop met ’n verduideliking van ’n groep produsente in die Hanover-distrik wat ’n skaapvoerkraalprojek op die been gebring het. Hulle doel is om metodes te ondersoek wat meer waarde tot optimale bemarkbare speenlammers kan toevoeg.
Lees deel 1 hier: Vertikale groei in die lamkraal: Meer as net syfers wat klop.
’n Kenmerk van die projek is dat dit vir elkeen in die waardeketting – van die produsent tot die voerkraal en abattoir – ’n geleentheid skep om saam te gesels oor elkeen se aandeel en verantwoordelikheid in die waardeketting. In hierdie aflewering ondersoek ons data-insameling in ’n voerkraal en hoe produsente verskeie datapunte kan gebruik om, met reeds-bestaande kennis, minimale uitgawes en ’n optimale inkomste te bewerkstellig.
Die verbetering van tegnologie het die afgelope paar jaar ’n beduidende uitwerking op baie produsente se besighede en winsgewendheid gehad. Die interessante deel is dat tegnologiese vooruitgang op dié stadium ook beteken dat baie meer data ingesamel is as wat verwerk kan word. Die vraag is dus waar ’n mens die lyn moet trek.
Hoofpunte vir winsgewendheid
Wanneer voerkraaldata ingesamel word, is dit belangrik om eers die hoofpunte wat gemeet kan word te identifiseer. Daarna kan bepaal word of die inligting wel bruikbaar is in die vorm van data wat ’n ekonomiese impak op die besigheid sal hê. Enige verdere toevoegings of bykomende inligting word op hierdie stadium uitgesluit om te voorkom dat onnodige tyd aan die insameling van onbenullige data bestee word.
Die hoofpunte vir winsgewendheid in ’n voerkraal sluit in die aankoopprys, karkasprys, uitslagpersentasie (DP%), voerkoste, voeromsetverhouding (VOV) en gemiddelde daaglikse toename (GDT). Hoewel sommige faktore of situasies buite ’n mens se beheer is, kan dit by tye bestuur of gebruik word om besluitneming of resultate te verwesenlik. ’n Goeie voorbeeld hiervan is dat die produsent die produk tot ’n optimale prys kan bestuur, selfs al is die aankoopprys buite sy beheer.
Uitslagpersentasie behels die persentasie van die lewendige massa wat as ’n koue karkas opeindig. Om ‘n dier se uitslagpersentasie te bereken, word die karkasmassa deur die laaste lewendige gewig gedeel en met 100 vermenigvuldig. Die finale lewendige gewig, hetsy by die abattoir of in die voerkraal, speel ’n groot rol in verhouding tot die koue karkas, aangesien die prys volgens die kilogram koue karkasgewig bepaal word. Hoe groter die lam wat as bemarkbare karkas eindig, hoe meer is die lam werd.
Voerkoste is die rand/kg wat vir veevoer betaal word, vermenigvuldig met kg gevreet, om die totale koste van voer/dier tydens die afrondingsproses te bereken.
VOV dui aan hoeveel voer vir elke 1kg groei in lewendige massa gevreet word. Hoewel dit ’n belangrike punt is, is dit moeilik om op ’n individuele dier te meet. Met nuwe tegnologie kan daar egter na kraal- en groepvoeromsette gekyk word, wat baie insiggewend behoort te wees.
GDT verwys na die hoeveelheid kg/dag wat ’n dier binne ’n bepaalde tydperk groei. GDT is ook ’n belangrike syfer wat noukeurig in die voerkraal bestuur moet word.
Aankoopprys is die bedrag wat per kilogram lewendige massa vir ’n aangekoopte dier betaal word. Dit hou verband met die ideale aankoopgewig van ’n lam, aangesien elke kilogram wat jy op die lam kan toevoeg, die potensiaal vir wins inhou.
Karkasprys is die rand/kg wat vir die karkasgewig van ’n dier ontvang is. Die prys word deur gradering bepaal.
Hierdie hoofpunte lei weereens tot die gevolgtrekking dat geen individuele faktor alleenstaande is nie, maar eerder ’n kombinasie van faktore behels. ’n Dier wat volgens al die nodige punte markgereed is, maar op gradering tekortskiet, sal as gevolg van die verskil in karkasprys daarom ’n laer prys verdien.
Winsfaktore in die voerkraal
Die volgende punte speel dikwels ’n veel groter rol as wat ’n mens sou dink:
- Aanvangsgewig: Elke kilogram waarmee waarde toegevoeg kan word, dra tot winspotensiaal (gewigsverspreiding) by. Dit is daarom noodsaaklik om te bepaal waar die voerkraal se gelykbreek- of verliespunt van die aankoopgewig lê. Die antwoorde hierop rig jou aankoopbesluite.
- Klimaatstoestande: Hoewel die klimaat nie beheer kan word nie, kan bestuursbesluite wel so geneem word dat dit tot voordeel van jou voerkraalkudde aangewend kan word.
- Lamgehalte: Dié onderwerp sal in ’n latere uitgawe bespreek word; daar sal onder meer gekyk word waarom sekere lammers beter as ander in die voerkraal presteer, asook watter aspekte dit kan beïnvloed.
- Bestuur en tegnologie: ’n Verskeidenheid tegnologie is tot ons beskikking, maar wat is prakties werkbaar en beskikbaar vir jou voerkraalplan?
- Besluitnemingsprosesse: Deur die nodige data te gebruik, kan sekere opsies en keuses uitgevoer, gemeet en voortdurend aangepas word. Byvoorbeeld, met groepering en sosiale gedrag van lammers kan bepaal word of die lammers volgens geslag en gewig saamgevoeg is en of ’n struktuur vir optimale bestuur in plek is. Wat die waarde van dubbeldoelrasse se wol betref, kan die invloed van wol op die som ook ondersoek word.
Die uiteindelike vraag is: Wat kan met die beskikbare data gedoen word? Die antwoord lê in die datapunte wat inligting in optimale besluitnemingsprosesse omskakel, wat uit vrae soos die volgende kan voortspruit:
- Moet ek ’n lam afrond as ek weet hy maak nie vir my geld nie?
- Moet ek ’n dier langer aanhou, al is hy reeds slaggereed?
- Wat is die gelykbreekpunt (GDT) van my voerkraallammers?
– Hannelet Jordaan, DSS-bestuurder, BKB
In die volgende uitgawe van Veeplaas kyk ons na die res van die voerkraalprentjie. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na hannelet.jordaan@bkb.co.za of skakel 060 500 8190.

