Estimated reading time: 3 minutes
Daar behoort ’n monument vir boere in Suid-Afrika gebou te word. Dit was die slotsom van die bekende ekonoom dr Roelof Botha by die jaarafsluiting van die Harrismith Distriksboere-unie op Verkykerskop.
Die geleentheid is vanjaar deur die Swinburne-boerevereniging aangebied. Dié boerevereniging is een van ses lede van die Harrismith Distriksboere-unie. Die ander is Eeram, Aberfeldy, Verkykerskop, Mont Pelaan en Van Reenen. Al hierdie boereverenigings is ouer as 100 jaar, en Swinburne, wat in 1918 sy onstaan gehad het, is die oudste boerevereniging in die Vrystaat.
Dr Botha was die gasspreker tydens die jaarafsluitingsgeleentheid. Hy het aan die sowat 200 gaste gesê dat hy die draer van beide slegte en goeie nuus is: Die slegte nuus, het hy gesê, raak minder, wat opsigself goeie nuus is.
“Hoewel ons groeikoers die afgelope twee jaar pateties was, verwag ek dat ons vanjaar meer as 1% sal groei, en volgende jaar, glo ek, sal dit opskuif na 2%. Ons het in die onlangse verlede ’n ‘bonanza’ van goeie nuus gehad. Eerstens het die Europese Unie vir ons 17 miljard Euro bewillig om groen energie te ontwikkel. Verder is daar ’n groeiende besef van die dringendheid om infrastruktuur te herstel. In hierdie opsig het die Regering van Nasionale Eenheid ’n baie belangrike rol gespeel.”
Herstel is belangrik
Indien die land net daarop fokus om te herstel wat oor die afgelope dekade of wat onklaar geraak het, het hy beklemtoon, kan Suid-Afrika ’n groeikoers van tussen 4 en 5% sien. Daarmee saam is rentekoerse besig om te daal, die platinum- en goudprys is besig om stoom op te bou en die regering het ’n skitterende begroting gehad. Die staat se skuldverhouding is besig om te stabiliseer op vlakke wat in lyn is vir die gemiddeld van Suid-Afrika se portuurgroep.
“ ’n Besondere stukkie goeie nuus is dat ons in Julie-maand eenhonderdduisend meer vraghouers by ons vyf hawens as ’n jaar gelede hanteer het. Verder is die minister van openbare werke besig om die greep van die konstruksiemafia te breek,” het hy gesê.
Dr Botha is deel van ’n groep wat tans ’n verslag saamstel waarin hulle aan die regering motiveer dat die Reserwebank se monetêre beleidskomitee verander moet word om die privaatsektor groter seggenskap daarin te gee.
Monument vir boere
“Suid-Afrika is die 32ste grootste voedseluitvoerder in die wêreld. Die landbou is ’n strategiese bedryf. Daar is geen plaasvervanger vir voedsel nie. Die risiko’s wat landbouers moet neem onder uiters moeilike omstandighede, en spesifiek met die verbrokkelende infrastruktuur, is van so ’n aard dat ek glo daar behoort ’n monument vir hulle opgerig word. Hulle kry geen subsidie by die regering nie, in vergelyking met subsidies van tot 40% in Europese lande, en tog hou hulle aan om hulle eie kapitaal te belê in hulle bedryf en het hulle die Suid-Afrikaanse landboubedryf tot ’n wêreldleier uitgebou,” het hy gesê.
Tydens die geleentheid is verskeie oud-leiers van die Swinburne-boerevereniging vir hulle bydrae oor die jare vereer. Hulle is Piet Roets, Frans Badenhorst, Johan du Toit, Chris Kuntz, Boy Venter en Francois Poggenpoel. – Izak Hofmeyr, Plaas Media.



