Estimated reading time: 5 minutes
Na twee baie moeilike jare in die rooivleisbedryf, met pryse van speendiere sowel as karkasse wat laer was as in 2022, het die twenty twenty five, twenty twenty thrive sêding ook hierdie jaar vir veeprodusente waarheid ingehou. Pryse van speendiere het op ’n jaar-op-jaar-grondslag met ongeveer 14% beter vertoon, terwyl karkaspryse tot meer as 20% hoër was as ’n jaar gelede (Figure 1 tot 4).
Figuur 1: Weeklikse speenkalfpryse, 2022-2025.

Figuur 2: Weeklikse A2-beeskarkaspryse, 2022-2025.

Figuur 3: Weeklikse speenlampryse, 2022-2025.

Figuur 4: Weeklikse A2-lamkarkaspryse, 2022-2025.

Wie is die sondebokke?
Hoewel die hoër pryse baie verligting vir veeprodusente gebring het, is daar tog vrae oor wat aan die gang is. Wat het nou skielik verander? Gedurende die afgelope twee jaar se lae pryse is die sondebok vir die tendens oral gesoek en deur sommige partye duidelik uitgewys, verhoor en veroordeel. Die skuldiges was van die swak ekonomie tot die invoer van kalwers en lammers uit die buurlande. Dit was voerkrale wat min betaal omdat hulle meer geld wou maak en die kleinhandel wat nie die rakpryse wil laat daal nie – en daarom is die vraag en dus produsent se prys so swak.
Noudat die pryse hoër is, is daar skielik nie meer ’n sondebok op wie die skuld gepak kan word nie. Beteken dit dus dat al die partye wat die afgelope twee jaar die pryse laag gehou het, nou besluit het dat dit nie meer nodig is nie en die speletjie nou regverdig speel? Wanneer die pryse laag is, kan ons maklik dié of daai een blameer, maar wanneer die tendens omdraai is daar niemand om te bedank nie.
Vraag en aanbod
Myns insiens het die lae pryse van die afgelope twee jaar en die beter scenario wat hierdie jaar ontvou, weereens die werking van vraag en aanbod beklemtoon. Indien ons aan die speendiersituasie dink, was die aanbod van speendiere die afgelope twee jaar heelwat hoër as in die vorige paar jaar, aangesien baie produsente in voorheen droogtegeteisterde gebiede weer hul kuddes herbou het.
Daarmee saam was die koste van voer, meestal gekoppel aan die mielieprys, ons glad nie vergewensgesind nie, met pryse wat rondom R4 000/t gebly het, terwyl proteïenbronne (oliekoek) ook duur gebly het. Ander koste het oor die twee jaar ook skerp toegeneem, wat die voersom al hoe moeiliker laat klop het.
Aan die vraagkant vir speendiere was die toestande ook nie rooskleurig nie, en dit kan gesien word uit die karkaspryse wat ook laag was. Die vraag na vleis was heelwat laer weens die sukkelende ekonomie, relatiewe lae uitvoere en die groot aanbod van slagdiere. Uitvoere was, en is, glad nie waar ons dit graag sal wil hê om minder afhanklik van die binnelandse mark te wees nie. Die slotsom is dat ’n groot aanbod van diere, hoër koste in die ketting en ’n swakker vraag aan die verbruiker- en uitvoerkant, die pryse negatief beïnvloed het.
Faktore wat pryse aanhelp
Hierdie jaar het ’n paar van daardie faktore egter omgedraai. Die binnelandse aanbod van speendiere was sedert Desember 2024 laer as wat verwag was, en pryse het begin kop optel. Toe ons by Maart vanjaar kom, het die laer aanbod van speendiere aan die einde van 2024 weerkaats in die pryse van karkasse wat drasties begin styg het. Die binnelandse vraag het ook begin verbeter vanweë die dalende rentekoerssiklus, heelwat minder beurtkrag, en sedert die tweede helfte van 2024 het die uitvoervolumes van vleis ook drasties begin toeneem en pryse verder aangehelp.
Die groot vraag is egter of die beter pryse volhoubaar is en of dit net ’n kort oplewing is? Die kort antwoord is dat jou raaiskoot net so goed soos myne is. Die feit is dat die tendense om die prys te ondersteun beter lyk. Dit wil voorkom asof die aanbod tans laer is, terwyl die ekonomie en uitvoere op ’n beter plek is om die vraag te ondersteun. Ons moet wel daarop let dat korttermynskokke soos bek-en-klouseer wel die prentjie kan omkrap, maar ek glo dat die huidige situasie vir ’n jaar of twee volhoubaar kan wees.
Ten slotte
Dit wat oor die afgelope paar jaar in terme van pryse gebeur het, is weer ’n goeie voorbeeld van landboukommoditeitspryse se sikliese aard. Die pryse word deur vraag-en-aanbod faktore gedryf en soos hierdie drywers verander, verander die pryse ook. Indien daar sondebokke in die bedryf was wat pryse doelbewus laag gehou het om voordeel daaruit te trek, sou hulle die pryse mos steeds laag wou hou, want wie raak nou versadig vir buitengewone winste. – Dr Frikkie Maré, Rooivleisprodusente-organisasie
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan dr Frikkie Maré by frikkie@rpo.co.za.


