Nuwe baadjie vir 30-jarige Aartappelsertifiseringsdiens

Estimated reading time: 3 minutes

Die Aartappelsertifiseringsdiens (ASD) is vanjaar 30 jaar oud en vier dié mylpaal met ’n nuwe logo.

Dié logo is vanoggend (23 Julie 2025), tydens Aartappel SA se Navorsingsimposium in Pretoria, bekendgestel. Dit versinnebeeld die diens wat die ASD lewer, sowel as die ondersteuning van en samewerking met produsente en ander rolspelers in die bedryf wat sorg dat die plaaslike aartappelbedryf op ’n hoë standaard bly.

Gerhard Posthumus, voorsitter van die ASD-direksie, sê die ASD het grootliks die bedryf getransformeer omdat dit buitelandse erkenning aan die Suid-Afrikaanse bedryf gegee het. “As ’n mens variëteite van die buiteland af wil invoer, is die eerste vraag of daar ’n sertifiseringsliggaam in die land is wat die kontrole van volumes kan hanteer.”

Verder het Posthumus die werk van die ASD geloof omdat die diens gesorg het dat siek saadaartappels, wat ’n lae opbrengs bied, ’n nekslag toegedien word. “Vandag het selfs afgeleë kommunale boere ook toegang tot goeie, gesertifiseerde saad.”

Howel dié verjaarsdag ’n groot mylpaal is, beteken dit nie dat hulle by ’n eindbestemming is nie, waarsku Posthumus. Tewens, daar is vele uitdagings en geleenthede soos klimaatsverandering, veranderde markte, voedselsekerheid, en die groeiende Afrika-mark wat tydig hanteer moet word.

Die lang pad na aartappel-sukses

Hoewel die destydse Aartappel Produsente Organisasie in die verlede verantwoordelik was vir die handhawing van hoë standaarde in die bedryf, is die ASD in 1995 gestig met die doel om sertifisering van aartappelmoere op ’n hoër vlak te plaas sodat dit  aan wêreldstandaarde voldoen, en te sorg dat dit onpartydig en professioneel geskied.

Dit was ’n lang pad wat die ASD gestap het om die Suid-Afrikaanse aartappelbedryf te bring waar dit vandag is. Na drie dekades van harde werk bestaan die saadaartappelbedryf in Suid-Afrika vandag uit ’n netwerk van komitees en forums wat verseker dat die bedryf voortdurend kan groei en volhoubaar kan bly.

Dienste van die ASD

Die ASD sertifiseer elke jaar sowat 7 miljoen 25kg-sakke saadaartappels wat na lande soos Zimbabwe, Botswana, Eswatini, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Seychelles, Sint Helena, en Angola uitgevoer word. Verder sien ASD toe dat sowat 3 miljoen in vitro-plante geproduseer word, en sertifiseer 10 tot 11 miljoen miniknolle (tubers) as Generasie 0-aartappelmoere.

Sertifiseringsbeamptes voer ongeveer 5 000 landinspeksies uit, neem 3 700 monsters, en voer sowat 2 200 knolinspeksies uit om te verseker dat die hoogste gehalte-standaarde nagekom word.

ASD het Suid-Afrika se nasionale aartappelkultuur in ’n wêreldmededinger omskep wat verseker dat elke knol ’n verhaal van kwaliteit, veerkragtigheid, en innovasie vertel. – Koos du Pisanie en Susan Marais, Plaas Media

The wild side of nutrition

Estimated reading time: 4 minutes Various game animals roam the vastly different landscapes of South...

Geniet sukses met ’n goeie winterlekprogram

Estimated reading time: 4 minutes Deur ’n goed-deurdinkte winterlekprogram te volg, kan jy die toekomstige...

Dynamics of the South African lucerne hay industry (Part 4): Producer prices

Estimated reading time: 8 minutes The previous articles in this series focussed on aspects relating...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...