Estimated reading time: 2 minutes
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) in die Oos-Kaap nooi alle belangstellendes uit om aan vanjaar se MelkRun, geborg deur Edge Fitness Clubs, deel te neem wat 6 Julie op ’n melkplaas tussen Port Elizabeth en Jeffreysbaai by die Three Rivers Trails gehou gaan word.
Lees meer hier oor vanjaar se Suid-Afrikaanse Vereniging van Suiweltegnologie se simposium.
Wat die geleentheid ekstra spesiaal maak, is dat die deelnemers ’n unieke roete op ’n pragtige melkplaas tussen weidings, kalwers, en ’n melkstal gaan hardloop wat gewoonlik nie vir dagbesoekers oop is nie.
Die MPO in samewerking met Three Rivers Trails en Zsports Events SA het dié geleentheid van stapel gestuur om mense meer bewus van die Oos-Kaap se suiwelbedryf te maak – waar net meer as een derde van die land se melk tans geproduseer word. Die doel is ook om die publiek weereens aan die voedsaamheid van melk vir jonk en oud – en veral vir sportliefhebbers – te herinner.
Lees die nuutste Dairy Digits-verslag hier.
“Melk is nie net goed vir kinders nie,” sê Anri Wolmarans, die MPO Oos-Kaap se streeksbestuur. “Dit is ook ’n natuurlike sportdrankie wat propvol proteïene is om jou spiere te help herstel ná ’n oefensessie. Dit bevat onder meer elektroliete soos kalium en kalsium wat ’n mens benodig om te hidreer, en ook koolhidrate wat as ’n energie-aanvuller dien. Boonop is dit sommer lekker koud en verfrissend na ’n goeie oefensessie.
Die MPO wil graag ook ons insetverskaffers in die suiwelbedryf uitnooi om aan die prettige geleentheid deel te neem, en daarom word almal genooi om hul produkte op ’n informele wyse by die MelkRun uit te stal en saam met die produsente en publiek te kuier. Kom geniet die dag en beleef die plaaslewe en die krag van melk.” – Anri Wolmarans, MPO
Om aan die MelkRun deel te neem, besoek gerus die volgende skakel: https://easyentry.africa/melkrun/event-entry
Om meer uit te vind oor die Melkprodusente-organisasie in die Oos-Kaap, kontak Anri Wolmarans by 064 934 3951 of ec@mpo.co.za.