Estimated reading time: 6 minutes
Die meeste dele in die somerreënvalgebied is vanjaar deur redelike laat en wisselvallige reënval gekenmerk, met veral grasveldgedeeltes wat waarskynlik nie droëmateriaal (DM) volgens volle potensiaal geproduseer het nie.
Die gevolg is ’n wesenlike risiko dat volop ruvoer moontlik nie beskikbaar sal wees vir die totale wintertydperk nie, en meer so indien vroeë lentereën nie betyds kom nie. Deeglike en vroegtydige beplanning kan egter die winter se impak versag en gefokusde besluitneming vergemaklik.
Evalueer beskikbare hulpbronne
Die eerste stap is om bestek te neem van die huidige situasie en die hulpbronne wat beskikbaar is. Doen dus vroegtydig ’n opname van beskikbare voedingsbronne wat veldweiding, aangeplante weiding, oesreste, gebergde droë ruvoer, kuilvoer en self-geproduseerde graan insluit. Dit kan dien as ’n beginpunt van hoeveel vee suksesvol met die beskikbare voer oorwinter kan word.
Neem ook bestek van veldgehalte en volume, wat tipies ’n funksie is van die hoeveelheid reën wat geval het, maar ook die verspreiding daarvan en die veebelading van die veld in die groeiseisoen.
Geproduseerde hooi en kuilvoer se volume en gehalte moet ook bereken en bepaal word, hetsy deur visuele evaluasie en/of chemiese ontledings, afhangend van die skaal van die boerdery en die hoeveelheid materiaal. Op grond hiervan kan besluit word of voer gekoop moet word, en hoeveel ingekoopte voer nodig gaan wees om aan die diere se behoeftes te voldoen.
Veegetalle in perspektief
Dit is belangrik om jou veekudde(s) in fyn besonderhede te beskou. Punte van belang is die hoeveelheid vee wat oorwinter moet word, hul ouderdomme en produksiestadia, sowel as die produksiedoelwitte van die boerdery of boerderyvertakking(s).
Gaan volwasse vroulike diere se tande vroegtydig na om ou diere te bemark voor hul kondisie te veel agteruitgaan, en doen betyds dragtigheidsondersoeke waarvolgens beplan kan word hoeveel nageslag gebore gaan word en wanneer.
Dit is veral van belang by kleinvee waar met ultrasoniese skandering bepaal word hoeveel meerlinge verwag word. In veral ekstensiewe stelsels gaan ooie met baie meerlinge dikwels nie soveel lammers op droë winterveldweiding suksesvol kan grootmaak nie. Dit sal dus bykomende aandag en voedingsinsette verg.
Sonder hierdie opnames is deeglike beplanning eintlik onmoontlik, beide vir weidingsbeplanning en besluite oor strategiese aanvullende voeding sodat beskikbare weiding en ander voerbronne optimaal benut kan word.
Maak die nodige aanpassings
Indien die beskikbare hulpbronne nie voldoende is om in die volumebehoeftes van die aantal vee te voorsien nie, moet vee óf verminder word óf voer moet ingekoop word voor die aanvang van die droë, koue maande. Dit is noodlottig om met te veel vee die winter in te gaan en dan veral ruvoer te koop wanneer dit skaars en duur is. Dit knou winsgewendheid en kontantvloei, en plaas die boerdery in ’n situasie waar volhoubaarheid onder groot druk kan kom.
Die gevolg van te veel vee is boonop dat veld beskadig en groeikragtigheid benadeel word, langtermyn potensiaal kry ’n knou, en uiteindelik ly vee se reproduksie en produksie daaronder. Vleisbeeste wys dit baie vinnig en raak eenvoudig nie weer dragtig as hulle in swak kondisie kalf nie. Maak dus seker dat hierdie slaggate met goeie beplanning gesystap word.
Rol van aanvullende voeding
Die doel van goeie, strategiese, wetenskaplik-gebaseerde aanvullende herkouervoeding is om soveel as moontlik van die weiding en ruvoer se potensiaal te ontsluit.
Strategiese aanvulling (volgens ’n plan) van proteïen in verskillende vorme, makrominerale, spoorminerale en korrek-aangewende gekonsentreerde energie, kan uiters suksesvol wees om ruvoer optimaal te benut en produksie te verhoog, met uiteindelike hoër winsgewendheid. Navorsing oor die afgelope 50-plus jaar en praktyk het die waarde daarvan bewys.
Dit is egter noodsaaklik dat ’n goedbeplande program gevolg word en dat lek of ander voer nie lukraak voorsien word nie. Aanvullende voeding behoort gewysig te word na gelang van weidingstoestande of ander ruvoer wat gegee word, diere se produksie- en reproduksiestadiums, asook die doelwitte van die boerderyvertakking.
Myns insiens is ’n benadering van een lek regdeur ’n seisoen of jaar ’n baie ‘duur’ manier om aanvullende voeding te voorsien, aangesien dit nie werklik tekorte en wanbalanse doeltreffend en ekonomies oplos soos die weiding voortdurend verander nie. Verder word geen voorsiening gemaak vir vee in hul reproduksiesiklus nie. Raadpleeg dus ’n geregistreerde voedingkundige om te help met die nodige beplanning en samestelling van gepaste lekaanvullings vir spesifieke situasies en doelwitte.
Al kan strategiese aanvullende voeding soms kompleks lyk, is dit op ’n paar basiese beginsels gebaseer, waarvan ‘n fyn balans tussen voedingstowwe seker die belangrikste is.
Die oorgangstyd
Die proteïeninhoud en verteerbaarheid van grasveld daal merkbaar sodra saad in die laatsomer en herfs gevorm word. Dit maak aanvulling van veral proteïen, gewoonlik in die vorm van nie-proteïenstikstof (NPN, meestal in die vorm van ureum) belangrik vir die verbetering van ruvoerverteerbaarheid.
In hierdie opsig is dit altyd beter om vroeër eerder as later te begin, voordat vee se kondisie en toekomstige produksie daaronder ly. Dit is te duur om kondisie in die winter te probeer verbeter wanneer dit koud is en die veldgehalte nog swakker is. Doen dit eerder wanneer die natuur nog saamspeel en voedingswaarde bydra.
Sogenaamde oorgangslekke is ideaal vir hierdie doel en dien, soos die naam sê, as oorgang tussen tipies NPN-vrye somerlekke en NPN-bevattende winter- en droëseisoenlekke. Gewoonlik bevat hierdie lekke matige vlakke van NPN wat veiliger is indien dit sou natreën. Dit bied die rumenmikrobebevolking die geleentheid om by die groter volumes ureum wat deur die winterlekke ingeneem gaan word, aan te pas.
Die hoofdoel van die NPN is egter om, in kombinasie met swael, die rumenmikrobes se vermoë om swakker gehalte ruvoer ten volle te verteer, te verhoog. Voldoende minerale-inhoud, spesifiek fosfaat, is steeds noodsaaklik vir veral vleisbeeste wat hierdie tyd van die jaar waarskynlik groot kalwers het en/of dragtig is.
Vroeg- versus laatwinter
Tydens vroegwinter is die meeste vroulike diere dragtig en aanvulling van hoofsaaklik proteïen is belangrik om rumenmikrobes in staat te stel om die groot volumes droë ruvoer wat dan tipies in ekstensiewe stelsels beskikbaar is, te benut. Let egter daarop dat hierdie mikrobes ’n minimum hoeveelheid rumenbeskikbare energie benodig om die aanvullende proteïen, gewoonlik NPN, doeltreffend en veilig te benut. Dus is graan en melasseprodukte noodsaaklik, maar nie in groot hoeveelhede nie.
In die laatwinter is vroulike diere tipies ook laatdragtig, met gevolglike hoër voedingsbehoeftes, terwyl die volume DM minder kan begin raak. Afhangend van die spesifieke situasie gaan dit heel moontlik nodig wees om effens meer graan en/of bykomende ruvoer strategies te voorsien om vee se kondisie en dragtigheid te handhaaf, en te verseker dat die fetus(se) optimaal ontwikkel en uierontwikkeling suksesvol plaasvind. In die geval van kleinvee is die voorsiening van hoë-gehalte, natuurlike deurvloeiproteïen noodsaaklik vir kolostrumgehalte en voorkoming van dik biesmelk.
Die rol van makro- en mikrominerale moet nie onderskat word nie. Dit is raadsaam dat winterlekaanvullings byvoorbeeld die nodige fosfaat bevat ter ondersteuning van fetusgroei en energiemetabolisme, asook spoorminerale wat vir basies alle metaboliese prosesse noodsaaklik is. Soos altyd die geval is in NPN-bevattende lekke, moet swael in die regte verhouding tot stikstof ingesluit wees om die maksimum vertering van ruvoer te verseker.
Alternatiewe voerbronne
Dit is ongelukkig nie moontlik om hier in diepte uit te brei oor kuilvoer, aangeplante weiding, oesreste en gebergde ruvoer nie. Hierdie voerbronne, waar beskikbaar, kan uiters waardevol wees om vee suksesvol te help oorwinter. Soos met veldweiding, verskil die gepaste aanvullende voedingsprogram vir elke tipe en gehalte ruvoerbron. Dit is dus belangrik om die korrekte lekbenadering te volg om benutting te optimaliseer, en uiteindelik maksimum winsgewendheid.
Indien deeglike bestek van al die beskikbare hulpbronne, die veesituasie en ander faktore vroegtydig geneem word, en doelgerig en strategies daarvolgens beplan word, kan die winter se skerp tande getrek word of ten minste stomp gevyl word om die byt te versag. – Alheit du Toit, voedingkundige, Feedtek
Vir meer inligting, kontak Alheit du Toit by alheit@feedtek.co.za


