Monday, March 10, 2025

Graan SA deel suksesse met Prieska-boere

Estimated reading time: 3 minutes

Bestuurslede van Graan SA het Prieska se saaiboere onlangs besoek om die suksesse wat die organisasie behaal het met die boere te deel.

Richard Krige, die visevoorsitter van Gaan SA het dit duidelik gestel dat streek 25, waarvan Prieska ook deel is, die grootste bydraer van fondse van Graan SA is. Hy het verduidelik dat Graan SA vyf fokuspunte het waarop hulle konsentreer. Dit sluit in die optimalisering van plaasproduksie ten einde vir die boere maksimum wins te verseker, die uitbreiding van grense van produktiwiteit deur middel van die aanwending van tegnologie, die ontwikkeling van nuwe markte en om alle boere te betrek in die voedselstelsel van die land. Die uiteindelike doel is om boere te bemagtig om volhoubaar vir die toekoms en komende nageslagte te te boer.

Heleen Viljoen, ’n landbou-ekonoom van Graan SA, het met die boere gesels oor die suksesse en projekte wat hulle reeds in die pyplyn het. Hieronder het sy vertel van nuwe regulasies wat verwag dat elke plaas ’n pesbeheer-beampte moet hê of dat die boer ten minste oor ’n BSc-graad in Landbou moet beskik. Graan SA voel egter dit is ’n onpraktiese verwagting van die regering en hulle werk agter die skerms daaraan om hierdie saak aan te spreek.  

’n Paar van Prieska se saaiboere wat die vergadering met Graan SA bygewoon het, is van links Jan-Phillip Botha, Conrad Coetzee, AB Cilliers, en Jacques de Villiers.

Graan SA wil markte bou

Sy het ook verduidelik dat die ideaal is om weer graan per spoor te vervoer en Graan SA werk ook hard daaraan om hierdie ideaal te bereik. Sy het ook verwys na die talle buitelandse markte wat oor die afgelope paar jaar ontwikkel is en vir die boere bewys dat Graan SA baie moeite doen om nuwe markte te help ontwikkel vir die landbou.

Hierdie is aanduiding van markte wat Graan SA help ontwikkel het vir uitvoer van Suid-Afrikaanse graanprodukte.

Die laaste spreker van die dag was Lombard van Dyk, wat met die boere oor die lidmaatskap gesels het. Vir baie boere is dit ’n sensitiewe saak omdat hulle wonder wat hierdie organisasie vir hom as produsent doen. Lombard het ’n voorbeeld gebruik van ’n saaiplaas met 1000ha mielies waar ’n boer bv. R23 370 per jaar moet opdok om lid te wees, maar die voordele wat hy daaruit kan trek wat Graan SA vir hom beding, beloop sowat R360 000. Dit sluit voordele soos die dieselrabat, graderingkorting, Leaf Services en kunsmisgehalte-monitering in. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Baie boere wonder waarom hulle ledegeld moet betaal vir bedryfsorganisasies soos Graan SA. Lombard van Dyk het hierdie voorbeeld gebruik om vir die boere te wys watter voordele Graan SA vir hulle bewerkstellig het in vergelyking met die ledegeld wat hulle betaal.