Estimated reading time: 5 minutes
Dairy Monthly is ‘n maandelikse nuusbrief vir die melkbedryf en word deur Melk SA saamgestel. Lees gerus die nuusbrokkies hieronder om te sien wat in Januarie vanjaar op die Suid-Afrikaanse melkbedryf se voorstoep was.
Read this newsletter in English.
Insigte oor die Wêreldsuiwelberaad
Melt Loubser, president van die Suid-Afrikaanse Nasionale Komitee van die Internasionale Suiwelfederasie (SANCIDF) en ‘n raadslid van die IDF (hy is in Oktober verlede jaar verkies), het by die onlangse algemene vergadering van Melk SA ’n oorsig gegee van sy ervaring van die Wêreldsuiwelberaad wat in Oktober in Parys, Frankryk gehou is. Die beraad is goed bygewoon deur meer as 1 700 afgevaardigdes van regoor die wêreld.
Loubser het gesê Suid-Afrika se leidende rol in verskeie komitees en in die posisionering van die land se suiwelbedryf om op peil te wees met die beste in die wêreld, is bemoedigend. Hy het die magdom inligting bespreek wat deelnemers soos dr Mark Chimes en Christine Leighton na Suid-Afrika teruggebring het.
Die IDF bestaan uit 17 staande komitees wat aspekte van volhoubaarheid, voeding en gesondheid, asook voedselveiligheid en -standaarde dek. Verder is meer as 1 200 internasionale kundiges betrokke, van privaatinstellings tot vrywillige akademici van Oxford, Harvard en ander gesogte universiteite regoor die wêreld. Die IDF se lede is afkomstig uit 64 lande wat 74% van die wêreld se melkproduksie verteenwoordig.
Melkdiere word allerweë beskou as skuldige partye wanneer dit by omgewingsvolhoubaarheid kom. Dit is ‘n goeie voorbeeld, het Loubser gesê, van waar kundigheid vereis word om wetenskaplik te staaf dat sulke standpunte meestal oorvereenvoudig en dikwels feitelik verkeerd is.
Volhoubaarheid en dierewelsyn het die besprekings by die beraad tot ‘n groot mate oorheers. Hy het gesê dat die Parys-akkoord, wat ’n toevoeging tot die Rotterdamooreenkoms van 2017 is, ook onderteken is om aan die wêreld te wys hoeveel moeite gedoen word om omgewingsvolhoubaarheid te ondersteun.
Loubser het in sy eie aanbieding tydens die beraad aangedui dat Suid-Afrika se pogings hoofsaaklik daarop gemik is om produktiwiteit op plaasvlak te verhoog, met ’n sterk fokus op koolstofsekwestrering. Dit het aangesluit by ’n briljante referaat wat dr Heinz Meissner in hierdie verband gelewer het. Daarmee saam hanteer die Suid-Afrikaanse georganiseerde bedryf ook sake van gemeenskaplike belang op ’n gestruktureerde wyse, met die fokus op aspekte soos navorsing en ontwikkeling, en internasionale handel.
Loubser het afgesluit met ‘n opsomming van die regulatoriese uitdagings wat op bedrywe afgedwing kan word indien hulle nie kollektief sou optree nie.
Nuwejaarsboodskap van Nico Fouché, HUB van Melk SA
Onsekerheid was nog altyd deel van die wêreld waarin ons leef. Ek onthou my oom het in die 1970’s gesê dat hy nie kinders in hierdie deurmekaar wêreld wou inbring nie. As ons egter net op die negatiewe gaan fokus, is daar geen toekoms vir ons nie.
Onsekerheid en ongemak sal maar altyd deel van ons lewens wees, maar terselfdertyd is dit so dat die buitengewone krag van die menslike gees ons dra wanneer ons nuwe hoogtes moet bereik. Ek is dus dankbaar vir elkeen in die suiwelbedryf wat nie deur onsekerhede mislei word nie, maar met ‘n positiewe uitkyk op sy/haar doelwit bly fokus.
Ek kom daagliks mense teë wat bereid is om die ekstra myl te loop en die werk wat hulle doen as ’n roeping beskou, nie bloot net ’n werk nie. Ons salueer hulle!
’n Paar interessante uitdagings en geleenthede wag vanjaar op Melk SA. Ons het ons kommunikasiepogings verbeter om alle betrokkenes van nuwe en opwindende ontwikkelinge op hoogte te hou. Mag elkeen goeie gesondheid, vrede en sukses ervaar.
Wat u moet weet oor die statutêre maatreëls
As ’n nie-winsgewende organisasie is Melk SA sedert 2005 deur die minister van landbou aangewys om statutêre maatreëls (registrasies, rekords, opgawes en heffings) te administreer. Hierdie maatreëls word vierjaarliks gepubliseer, en ’n aansoeker kan ook die minister versoek om die maatreëls vir vier jaar op ’n slag te verleng.
Die vier-jaar tydperk geld sodat die Nasionale Landboubemarkingsraad
(NLBR) en die minister kan bepaal tot watter mate die maatreëls geadministreer, ingestel en afgedwing is; watter waarde die projekte/doelwitte tot die bedryf en ekonomie toegevoeg het; en watter vlak van ondersteuning die maatreëls steeds onder rolspelers in die bedryf geniet het.
Die huidige maatreëls sal teen die einde van vanjaar verval en die aansoekers (die MPO en/of Sampro) sal die minister waarskynlik versoek om die maatreëls vir nog vier jaar (2026 tot 2029) te verleng. Die MPO en Sampro is die twee lidorganisasies van Melk SA.
Vir 2025 is die heffing vir onverwerkte of roumelk 1,92c/kg (+4,35%), terwyl die heffingskoerse op ingevoerde produkte ’n soortgelyke verhoging beleef het. ’n Maksimum van 10% van die heffingsinkomste mag aan Melk SA se administratiewe funksie bestee word.
Die hoë mate van ondersteuning van rolspelers wat aan die statutêre maatreëls onderwerp word, is gerusstellend, aangesien dit die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf in staat stel om steeds op gemeenskaplike uitdagings te fokus.
Vir meer inligting skakel 012 460 7312, stuur ‘n e-pos na nico@milksa.co.za of besoek Melk SA se webtuiste https://milksa.co.za/