Estimated reading time: 3 minutes
Die afgelope paar weke spoel groot dele van die land omtrent weg met al die reёn. Tog bly die Vaaldam onder 30% van sy volle kapasiteit. Volgens data van die Departement van Water en Sanitasie, is dit duidelik dat die afgelope hoë reёnval egter ‘n definitiewe verskil gemaak het aan die stand van Suid-Afrika se damme.
Die Gariepdam, wat die grootste dam in Suid Afrika is, staan tans op 71% van sy volle kapasiteit van 5 129 100 000 m3, waar die Vaaldam in kontras leeg gehou word met ‘n 26,2% van sy volle 2 603 500 000 m3 kapasiteit.
Die onderstaande tabel wys die huidige data van verskeie damme in die Oranjerivierstelsel:
Dam | Kapasiteit (m3) | %vol (2025/01/08) |
Vaaldam | 2 603 500 000 | 26,2% |
Bloemhofdam | 1 243 000 000 | 66,0% |
Gariepdam | 5 196 100 000 | 71,0% |
Vanderkloofdam | 3 092 400 000 | 77,7% |
Hierdie data is van die Departement van Water en Sanitasie se webwerf ontvang.
Waarom word die Vaaldam leeg gehou?
In die Vaalsisteem is daar drie damme wat bo die Vaaldam voorkom en uiteindelik ook water aan dié dam voorsien. Hierdie damme is redelik vol, met die Grootdraaidam wat tans op 111,17% van sy kapasiteit staan, die Sterkfonteindam op 97,98% en die Saulspoortdam op 79,75% van sy totale kapasiteit. “Hierdie drie damme dien as beter opbergingsmaniere as gevolg van die hoё verdamping wat by die Vaaldam voorkom,” meen Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier Landbou-unie. Wanneer die Vaaldamvlakke onder 18% daal, sal daar water van die Sterkfonteindam beskikbaar gemaak word om aan die Vaaldam te voorsien.
In die geval van die Gariepdam, is dit nie moontlik om staat te maak op damme wat hoёr in die sisteem voorkom nie. Die Gariepdam se verdampingstempo is ook aansienlik laer in vergelyking met dié van die Vaaldam. Aangesien die Gariepdam die boonste dam in die Oranjerivier is, is dit die hoofopgaarbron van water, saam met die Vanderkloofdam.
Alhoewel die Katsedam en Mohaledam bó die Gariepdam in die Oranjerivier voorkom, word daardie water met ‘n tonnel na die Vaalriviersisteem gekanaliseer, en kan slegs water aan die Oranjerivier voorsien indien hulle oorloop.
Geen gevaar nog in sig
“Tans is daar geen vloedgevaar in enige van die riviersisteme in sig nie nie, slegs positiewe uitkomste,” meen Fourie. Boere tussen die Grootdraaidam en die Vaaldam mag wel effense verspoelings ervaar. Die massa water veroorsaak dat die rivier skielik ‘n vloei van 800m3 per sekonde ervaar, waar die rivier normaalweg teen 18m3 per sekonde vloei. Die watervlak van die rivier styg omtrent drie meter as nie meer nie, en na ‘n week sal die water weer daal na normaal indien daar nie nog reën val nie.
Volg hierdie skakel vir meer inligting: https://www.dws.gov.za/Hydrology/ – Elnieke Bronkhorst, Plaas Media.