Estimated reading time: 3 minutes
Anders as verlede jaar ís daar vanjaar bloutong-entstof in die Vrystaat beskikbaar, maar produsente moet gou spring, aangesien veral Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) se voorraad beperk is. Só sê Pieter-Daan Cilliers, voorsitter van die Vrystaat se dieregesondheidsforum.
Bloutong is ‘n virale siekte wat deur muskiete oorgedra word. Beeste kan bloutong kry, maar dis eerder ‘n siekte wat skape teister, sê Cilliers.
“As ‘n produsent nog nie diere ingeënt het nie, is nou ‘n goeie tyd om dit te doen. Februarie gaan te laat wees – veral vir diegene wat OBP se entstof wil spuit.”
Cilliers het vroeër die week met al die koöperasies in die provinsie geskakel en vasgestel dat daar 133 eenhede entstof (43 van OBP en 90 eenhede van Design Biologix) te koop is. ‘n Enkele eenheid kan 100 lammers inent. Dus kan 4 300 lammers met OBP se entstof geënt word en 9 000 lammers kan deur die privaatsektor se entstof beskerm word. “Dit beteken daar is voldoende entstof vir 13 300 lammers – maar ek weet daar is meer lammers as dít in die Vrystaat.”
Produsente versaak
Verlede jaar het OBP geen bloutong-entstof in die Vrystaat beskikbaar gemaak nie. Gevolglik moes produsente, soos Cilliers, hul kuddes deur middel van bestuurspraktyke probeer beskerm. Kortom is oningeënte diere van muskietbroeiplekke (soos vleie) weggehou om die risiko te verlaag. Ten spyte van dié pro-aktiewe stappe het Cilliers steeds vyf lammers aan bloutong verloor.
Daarom is hy dankbaar vir die privaatsektor wat produsente bystaan waar semi-staatsinstellings faal. “Ek weet Design Biologix se produk word teen ‘n premie verkoop, maar die staat versaak produsente op elke vlak. Die privaatsektor is uiteindelik ons redding.”
As mens die somme gaan maak, is daar egter ‘n besparing in tyd en arbeid met die privaatsektor-produk en daarom moet produsente mooi besin oor wat uiteindelik die mees kostedoeltreffende opsie sou wees.
“BLU-VAX word een keer gespuit en dis klaar. As die OBP-entstof egter gebruik word, moet daar drie keer gespuit word om dekking vir 26 verskillende bloutong-variëteite te hê,” verduidelik Cilliers en voeg by dat dié toedienings weke uitmekaar moet geskied.
Nóg parasietraad
“Goeie bestuurspraktyke kan produsente beslis help om minder parasiete op die plaas en meer geld in die bank te hê,” voeg Cilliers verder by.
Hoewel vorige generasies baie aan dosering geglo het, sê Cilliers dis belangrik om dié praktyk te herbesin.
“In die middel van die dag staan my skaap gewoonlik by die water en as die dam of waterkrippe lek, is dít waar parasiete opgetel word.” Daarom is dit belangrik dat produsente na hul suipplekke moet omsien. “Meeste produsente kyk nie na hul krippe nie en dís hoekom hulle so baie moet doseer.”
Cilliers het begin om in sy damme te klim en die alge te verwyder. Gevolglik drink die diere deesdae skoon water op die plaas en nou doseer hy net wanneer dit nodig is. “As die dier se drinkwater skoon is, is die kans dat hy gaan siek word, kleiner. Dít het my kudde se immuniteit ook versterk.”
Oor die afgelope jaar het hy sy ooie slegs een keer gedoseer en sy lammers, twee maal. “Buiten die arbeid wat mens spaar, spaar jy ook baie aan middels. Dit kos my R25 000 om my kudde een keer te doseer. Dus het ek verlede jaar R75 000 aan dosering gespaar.”
Cilliers sê dis belangrik om tussen inenting en dosering te onderskei. “Dosering vind oraal plaas, terwyl inenting met ‘n spuit onderhuids plaasvind.” Verder kan dosering beperk word deur goeie boerderybestuur, terwyl inenting nie wegbestuur kan word nie.
“Nes ‘n kind eenmalig teen siektes soos masels en polio ingeënt moet word, moet diere ook eenmalig teen siektes soos bloutong geënt word. Maar een keer is genoeg vir die dier se hele lewe.” – Susan Marais, Plaas Media

