Estimated reading time: 3 minutes

Vanjaar se Nasionale Landbou-jeugskoukampioenskap het van 22 tot 25 September in Middelburg, Mpumalanga plaasgevind. Altesaam 306 leerlinge van agt provinsies het aan die jeugskou deelgeneem. Dit sluit leerlinge van Limpopo (L), Mpumalanga (MP), Gauteng (GP), Noordwes (NW), Noordwes-Noord (NWN), Namakwaland (Nam), Vrystaat (VS) en KwaZulu-Natal (KZN) in. Die spanne van die Wes- en Oos-Kaap het weens bek-en-klouseer maatreëls onttrek.

  • Agter, van links, is Miané Pienaar (jnr, 2de, NW), Marizelle Erasmus (snr, 2de, NW), en Mianke van Rooyen (snr, 1ste, NW). In die middel, van links, is Luané Barnard (snr, 3de, MP) en Karla Geldenhuys (jnr, 1ste, NW). Voor, van links, is Tahlia Smuts (jnr-jnr, 1ste, NW) en Danische Barnard (jnr, 3de, MP).

Leerlinge het deur die loop van die jaar op provinsiale vlak in hul onderskeie kategorieë deelgeneem om hul plek by die nasionale kampioenskap te verseker. Hierdie kategorieë is perde, vleisbeeste, suiwelbeeste, vleisskape, wolskape, melkbokke, veselbokke, vleisbokke, varke, pluimvee, konyne, sierduiwe, wedvlugduiwe, kulinêre kuns, suiwelbereiding, fotografie, en Plaas Media se Toyota SA Nasionale Jeugskou Afslaerskompetisie.

Fotografie is ’n nuutjie en is vanjaar die eerste keer aangebied. Die afslaerskompetisie is vanjaar vir die derde keer aangebied en groei elke jaar.

  • Agter, van links is Janelda Koekemoer (jnr, 3de, NW), Sebastian Jansen van Vuuren (snr, 1ste, L), Liandri van der Steen (snr, 3de, Nam) en Dené Louw (jnr, 2de, MP). In die middel, van links, is Tiskin Evans (snr, 2de, GP) en Arno Viviers (jnr, 1ste, GP). Voor, van links, is Robert Koch (jnr-jnr, 2de, KZN) en David Koch (jnr-jnr, 1ste, KZN).

Besonderse prestasies

Noordwes het uiteindelik as algehele wenner uit die stryd getree. Die span het 21 goue, 16 silwer, en 12 bronsmedaljes in verskeie kategorieë ontvang, met agt kinders in vierde plekke en drie in vyfde plekke.

Vier spesiale toekennings vir algehele beste prestasie is oorhanding. Die beste prestasie grootvee-toekenning het aan Ilma Botha van Noordwes gegaan, Karina Swanepoel van Limpopo het die beste prestasie kleinvee ontvang, Chris Louw van Noordwes die beste prestasie kombuis, en Albertus Kühn van Namakwaland die beste prestasie in die statiese afdeling.

  • Agter, van links, is Hendrik Greeff (snr, 2de, NW), PJ Luttig (snr, 1ste, Nam), en Nalisha Cronjé (snr, 3de, MP). In die middel, van links, is Karina Swanepoel (jnr, 1ste, L), Zané van Wyk (jnr, 3de, NW), en Iné Celliers (jnr, 2de, L). Voor, van links, is Leanie Jansen van Rensburg (jnr-jnr, 2de, NW), Janlu Brand (jnr-jnr, 3de, NW), en Angelique Theron (jnr-jnr, 1ste, NW).

Verskeie provinsiale/spantoekennings is oorhandig. Die per kapita-trofee (minder as 30) is aan Namakwaland toegeken, met die per kapita-trofee (meer as 30) wat aan Noordwes gegaan het. Die provinsie met die meeste punte was Noordwes. KwaZulu-Natal het die geestrofee, een van twee nuwe toekennings die jaar, asook die administrasietrofee ontvang.

Die ander nuwe toekenning vanjaar was vir die span wat die beste biosekuriteitsmaatreëls in plek gehad het. Namakwaland het hierdie toekenning ontvang. Limpopo het die trofee vir die beste stalle ontvang.

Om die terugvoer video te kyk volg die skakel: https://www.youtube.com/watch?v=bcINTFdUYeg

Vir meer inligting oor vanjaar se uitslae, stuur ’n epos aan mepietersen@lantic.net. – Deidré Louw, Plaas Media