Estimated reading time: 9 minutes
- Bek-en-klouseer (BEK) het die potensiaal om bestaansboere, nuwe toetreders én gevestigde rolspelers in die waardeketting finansieel te verwoes. Die vraag is: Wil bedryfsleiers koers hou met die bestaande planne op die tafel of is nuwe strategieë nodig?
- Uit die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) se jongste verslag oor uitbrekings, blyk dit dat die grootste deel van Suid-Afrika voor Januarie 2019 BEK-vry was.
- Ons weet nie presies hoe BEK versprei word nie. Voorheen is veilings as die uiteindelike aansteeklike sondaar gebrandmerk. Verspreiding is egter nie tot veilings beperk nie. Die totale waardeketting is aan die risiko blootgestel.
- Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Rooivleisbedryfsinligtingsdiens (RMIS), sê die bostelegraaf en mediaberigte, wat dikwels op gerugte geskoei word, rig enorme skade aan.
- Dr Mark Chimes, Melk SA se veeartsenykundige raadgewer, sê tot dusver was aksies daarop gefokus om BEK in die vleisbedryf te bekamp, maar die uitbreking by sewe melkplase in die Oos-Kaap het ’n klemverskuiwing meegebring.
Bek-en-klouseer (BEK) is soos ’n veldbrand wat net nie wil ophou smeul nie en dit blyk dat die huidige reaksie daarop moontlik nie blitsig genoeg is om die probleem op te los nie. Intussen laat elke nuwe uitbreking – of gerug van ’n uitbreking – die gemoedere én vrese van uitvoerbeperkings opvlam.
Die siekte het die potensiaal om bestaansboere, nuwe toetreders én gevestigde rolspelers in die waardeketting finansieel te verwoes. Nugter denke en ’n daadwerklike plan is nou nodig om dié siekte die nekslag toe te dien. Die vraag is: Wil bedryfsleiers koers hou met die bestaande planne op die tafel of is nuwe strategieë nodig?
Uit die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) se jongste verslag oor uitbrekings, blyk dit dat die grootste deel van Suid-Afrika voor Januarie 2019 BEK-vry was. Nege uitbrekings het egter intussen plaasgevind en die tempo het vanjaar begin toeneem. Uitbrekingsinsidente verwys na nuwe BEK-besmettings wat aan een van die oorspronklike nege gekoppel kan word.
Lees meer oor die nuwe BEK-reëls hier.
Nie net by veilings nie
Sewe provinsies het oor die afgelope vyf jaar uitbrekingsinsidente aangeteken: Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en die Oos-Kaap. Sedert Februarie vanjaar het die staat feitlik maandeliks ’n nuwe uitbrekingsinsident aangemeld (Tabel 1).
Tabel 1: Opsomming van oop en geslote gevalle van BEK-uitbrekings per provinsie in die voormalige BEK-vrye sone tussen 1 Januarie 2021 en 30 Junie 2024. (Bron: DALRRD)
Provinsie | Aantal oop uitbrekings | Aantal geslote uitbrekings | Totale aantal uitbrekings | Aanvangsdatum van laaste aangemelde uitbreking |
Vrystaat | 21 | 20 | 41 | 7 Februarie 2024 |
Gauteng | 0 | 7 | 7 | 30 Augustus 2022 |
KwaZulu-Natal | 131 | 17 | 148 | 18 April 2024 |
Limpopo | 0 | 8 | 8 | 25 April 2022 |
Mpumalanga | 0 | 21 | 21 | 2 Augustus 2022 |
Noordwes | 0 | 18 | 18 | 22 November 2022 |
Oos-Kaap | 9 | 0 | 9 | 9 Junie 2024 |
Totaal | 161 | 91 | 253 |
Ons weet nie presies hoe BEK versprei word nie. Voorheen is veilings as die uiteindelike aansteeklike sondaar gebrandmerk. Verspreiding is egter nie tot veilings beperk nie. Die totale waardeketting is aan die risiko blootgestel.
Dít het duidelik geword toe BEK vroeër vanjaar by ’n voerkraal in Marquard in die Vrystaat bevestig is. Aangesien hierdie voerkraalgroep al ’n geruime tyd nie enige speenkalwers by veilings gekoop het nie, het dit die veronderstelling dat siekteverspreiding eksklusief by veilings plaasvind, verkeerd bewys, sê Willem van Jaarsveld, voorsitter van die BEK-forum.
“Besmette stoetkuddes in die omgewing van Potchefstroom – en veral die feit dat diere ingeënt is, sonder die toepassing van ’n F-brandmerk – het baie agterdog jeens die staat, voerkrale en die BEK-beheerstelsel in die algemeen veroorsaak,” sê Van Jaarsveld. Ook dié aannames was nie heeltemal korrek nie. Dit het duidelik geword toe die siekte onder melkbeeste in Humansdorp uitgebreek het, kort voor die nuus dat honderde vleisbeeste wat vir die uitvoermark bestem was, in Oos-Londen besmet is.
Bostelegraaf bring chaos
Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Rooivleisbedryfsinligtingsdiens (RMIS), sê die bostelegraaf en mediaberigte, wat dikwels op gerugte geskoei word, rig enorme skade aan. “Daar is gebreke in die stelsel en dit is so dat sekere inligting gekommunikeer kan word.” Daarom is tydens ’n gesprek tussen bedryfsleiers en die voormalige minister ooreengekom dat die RMIS, met betrekking tot die Oos-Kaapse uitbreking, as tussenganger tussen die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVasa) en die departement sou optree met die verspreiding van inligting van ’n veterinêre aard.
Olivier sê daar is twee vlakke van BEK-inligting: Amptelike inligting wat met veeartsenydienste verband hou, en algemene inligting wat vir alle rolspelers relevant is. “Tydens die mees onlangse geval in die Oos-Kaap, het die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) inligting van veeartse verkry nog voordat DALRRD sy ondersoek kon doen. Dit plaas onnodige druk op die staat en georganiseerde landbou om die situasie te rapporteer voordat ondersoek ingestel is.”
Ou strategie steeds van krag
Die staat se oorspronklike strategie teen BEK is steeds van krag en die bedryf berus by die wyse waarop die siekte tans aangemeld word. Op ’n internasionale vlak is dit die departement se verantwoordelikheid om uitbrekings by die WOAH aan te meld.
In Oktober 2022 het die voormalige minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, ’n regulasie neergepen ingevolge waarvan gesplete-hoef diere slegs beweeg mag word indien hulle vergesel word van ’n verklaring van die eienaar, dat die diere gesond was teen die tyd dat hulle vervoer is.
Verder moet alle nuwe skape, bokke en beeste op die plaas vir minstens 28 dae in kwarantyn gehou word. Artikel 11 van die Wet op Dieresiektes, 2002 (Wet 7 van 2002) plaas ’n wetlike plig op enige eienaar of bestuurder van diere om alle redelike stappe te neem om te voorkom dat hul diere met enige siekte besmet word en om die verspreiding van siektes van hul diere of grond na ander diere of eiendom te verhoed.
BEK bly ’n staatsbeheerde siekte en daarom moet enige verdagte kliniese simptome (speekselafskeiding, blase om die bek, mankheid of letsels om die hoewe) wat opgemerk word, dadelik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word. Sulke diere mag onder geen omstandighede verskuif word nie.
“Hierdie strategie is baie eenvoudig en het tot ’n groot mate baie min met die staat te doen, maar plaas ’n groot verantwoordelikheid op die bedryf en veral produsente,” sê Olivier. “Ons kan met reg vra of die bedryf die wet nakom met betrekking tot die verskuiwing van diere? Ek dink ons kan baie beter doen.
“Verskeie alternatiewe oplossings is reeds tussen die bedryf en regering bespreek om te kyk of daar nie ’n beter manier is om positiewe gevalle te toets nie. Dit is veral belangrik om ’n onderskeid tussen serologies positiewe gevalle en klinies positiewe gevalle te tref.”
Nuwe dimensie tot dilemma
Dr Mark Chimes, Melk SA se veeartsenykundige raadgewer, sê tot dusver was aksies daarop gefokus om BEK in die vleisbedryf te bekamp, maar die uitbreking by sewe melkplase in die Oos-Kaap het ’n klemverskuiwing meegebring.
“Die melkbedryf word meestal geken aan ’n hoë konsentrasie van diere, wat beteken dat die siekte baie makliker kan versprei. Sekere probleme is ook uniek tot die melkbedryf,” sê dr Chimes. “Eerstens veroorsaak BEK mastitis en speenletsels by melkkoeie, wat melkproduksie en melkgehalte negatief beïnvloed. Die somatiese seltelling in melk skiet soms die hoogte in, met die gevolg dat melkkopers nie die melk kan gebruik of verwerk nie. Indien die melkverwerker melkprodukte uitvoer, kan hulle ook hul uitvoerstatus verloor wanneer hulle melk van BEK-besmette plase ontvang.”
Om BEK-besmette melkbeeste van kant te maak is nie ’n eenvoudige taak nie. ’n Melkplaas het byvoorbeeld nie kampe waar bulkalwers vir die kwarantyntydperk gehou kan word nie, aangesien dié diere gewoonlik kort na geboorte verkoop word. Diere mag ook net by ’n BEK-gesertifiseerde abattoir geslag word en die enigste abattoir wat tans BEK-melkdiere wettig mag slag, is in Limpopo. Van die uitdagings sluit die uitskot van koeie in. Hierdie koeie moet in kwarantyn geplaas word en kan slegs by die gesertifiseerde kwarantyn-abattoir geslag word.
Dr Chimes sê dit is moeilik om ’n abattoir te oortuig om BEK-diere te slag, aangesien die besigheid onmiddellik sy uitvoerstatus sal verloor. “Verder moet die karkas vir minstens 24 uur opgehang word, sodat die pH-vlakke tot onder ses kan daal voordat dit saam met ander karkasse in die yskas gehang kan word. Die abattoir moet ’n ontbeningsafdeling hê en alle afval moet op die regte wyse op die perseel verbrand word.”
Daar is ook goeie nuus
Die WOAH sê hierdie hoogs aansteeklike virusinfeksie is kommerwekkend, omdat 75% van alle BEK-onkoste in lae- tot laer-middel-inkomste lande aangegaan word. Voorheen het lande met BEK-gevalle gesukkel om diere en dierlike produkte uit te voer, as gevolg van streng handelsbeperkinge deur ander lande om die risiko vir BEK-verspreiding daar te beperk.
Vroeër vanjaar het die WOAH se wetenskaplike kommissie egter besluit dat dierlike produkte én diere wat teen BEK ingeënt is, of waar BEK deur die betrokke land binne kompartemente bestuur word, wel uitgevoer mag word.
Die WOAH-goedkeuring kan ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se nasionale kudde bied, maar dit moet eers talle administratiewe hekkies oorkom. Die Suid-Afrikaanse regering, veebedryf en handelsvennote se reaksie op die WOAH-besluit sal egter die deurslag gee.
Olivier glo naspeurbaarheid en selfregulering sal uiteindelik die antwoord bied. “Dit is belangrik dat alle rolspelers onthou dat die bestaande regulasies op die Wet op Dieresiektes geskoei is. Nie-nakoming kan tot kriminele vervolging lei.”
Vir meer inligting, kontak dr Mark Chimes by mark@melksa.co.za, Dewald Olivier by dewald@rmis.co.za of Willem van Jaarsveld by info@fmdforum.co.za. – Susan Marais, Veeplaas
BEK-forum sien groot gebrek
Willem van Jaarsveld, voorsitter van die BEK-forum, sê Suid-Afrika faal tans op talle vlakke met siektebekamping. Hy meen die volgende kwessies moet dringend opgelos word:
- Denkwyses oor BEK moet by alle betrokkenes verander.
- Selfregulering moet deel van Suid-Afrika se kultuur word.
- Rolspelers se houdings teenoor mekaar moet verander.
- Die staat se beheptheid met mag moet verander.
- Naspeurbaarheid is nie meer ’n idee nie – dit is ’n voorwaarde.
- Kompartementalisering moet nie meer as ’n blote moontlikheid gesien word nie en moet saam met naspeurbaarheid ingestel word.
- Die realiteite van die huidige situasie en hoe dit binne internasionale markte hanteer behoort te word, behoort ons toekomstige optredes te rig.
- Die daarstel van ’n biosekuriteitswet is dringend noodsaaklik.
Van Jaarsveld sê die grootste uitdaging met BEK is die geloof dat dié siekte nie so erg is nie en dat die staat dit as ‘n manipulasie-instrument gebruik. “Na alles wat al gebeur het, gesê is en bewys is, kan ek nie verstaan dat daar nog plek is vir sulke idees nie. Die probleem is dat niks wat ’n verskil kan maak, afdwingbaar is nie.”