Thursday, December 12, 2024

Wolhamel-lammerprojek en Noordoos-Kaapse skeerkampioenskap

Estimated reading time: 2 minutes

Die eerste rondte van die Witkop-landbouvereniging in die Noordoos-Kaap se wolhamel-lammerprojek, is tans in volle swang. Die doel van die projek, wat deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) ondersteun word, is om die waarde van ‘n wolhamelvertakking as ‘n alternatiewe inkomste op ‘n skaapplaas in die huidige ekonomiese klimaat te demonstreer.

Die ingeskrewe hamels bly op die eienaar se plaas waar die produsent self hul voeding bepaal. Die skape bly ook die eiendom van die produsent en slegs die wolvagte dien as inskrywingsfooi.

Volgens Jan van der Walt by BKB, het vanjaar se inskrywings op 22 April gesluit en neem 56 groepe produsente van regoor die land deel. Die oogmerk is om dit ‘n jaarlikse instelling te maak en diegene wat die inskrywingsdatum misgeloop het, sal geleentheid kry om vir 2025 se projek in te skryf.

Meet van wolhamel-data

Een van die oogmerke is om die waarde van die nuutste diere-identifikasieplaatjies (met ‘n QR-kode), op kuddevlak, by ‘n produsent se skaapkraal op die plaas te demonstreer. Die splinternuwe QR-kode oorplaatjietegnologie, BKB se DSS-stelsel, word aangewend en kan data tot in die fynste besonderhede ontleed.

Nadat die wolhamel-lammers ingeskryf is, word hulle maandeliks geweeg en geskeer. Die finale weeg van die hamels en die beoordeling van hul vagte, sal op 6 September op die plaas Kroonvlei, 40km buite Burgersdorp, plaasvind. Die geleentheid beloof om ‘n goeie vertrekpunt te wees vir diegene wat belangstel en dit oorweeg om vir volgende jaar se projek in te skryf.

As ‘n meevaller word die Noordoos-Kaapse skeerkampioenskap ook op dié betrokke dag op Kroonvlei aangebied.

Vir meer inligting, kontak Jan van der Walt by 082 376 6178 of Walter Price by 072 831 0051. – Carin Venter, Veeplaas


NWKV-skaapdag: Klein verstellings, groot veranderings

Biologiese oplossings vir suksesvolle wolskaapproduksie was die tema van ’n boeredag wat onlangs op Eeram, naby Harrismith in die Vrystaat, aangebied is. Die dag is deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), in samewerking met verskeie insetverskaffers, gereël.