Estimated reading time: 4 minutes
Die voortslepende veediefstalkrisis in Noordwes benadruk die noodsaaklikheid van ‘n identifikasiemerk vir vee.
Boeta du Toit, provinsiale bestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die provinsie is ’n brandpuntgebied in terme van veediefstal.
Dit is die grootste misdryf in die provinsie en maak sowat 60% van die misdaadsyfer uit. Hierdie syfer is gebaseer op ’n studie wat deur Willie Clack onderneem is. Hy is die senior lektor in penologie aan Unisa en voormalige voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum (NVVK).
’n Wetlike verpligting
Volgens Du Toit kan die mislukte ondersoek en oplos van veediefstalvoorvalle dikwels toegeskryf word aan die feit dat vee nie duidelik geïdentifiseer kan word nie. Dít terwyl wetgewing duidelik voorsiening maak vir ’n doeltreffende indentifikasiesisteem. Die merk van vee is kragtens die Wet op die Identifikasie van Diere, 2002 (Wet 6 van 2002) verpligtend en plaas die polisie en die bedryf in ’n gunstiger posisie om veediefstal te bekamp. Daarmee saam vergemaklik dit die proses om gesteelde vee terug te vind.
Du Toit sê die RPO in Noordwes neem ‘n sterk standpunt in dat vee-eienaars ’n waarskuwing moet ontvang en dan in die hof moet verskyn wanneer hul vee nie gebrandmerk is nie, eerder as om elke keer skulderkenningsboetes (J534-vorm) te betaal.
Lees meer oor biosekuriteit in Suid-Afrika hier.
Proses vir die identifikasie van vee
Du Toit sê die identifikasie van vee bly uiters belangrik vir die toepassing van biosekuriteitsmaatreëls veral ten opsigte van veesiektes soos bek-en-klouseer.
Dit bly egter vir die bedryf ‘n uitdaging dat vee sonder ’n brandmerk of tatoeëring nie geïdentifiseer kan word nie. Die wettige eienaar kan dus nie geïdentifiseer word nie, tensy DNS- monsters geneem word. Dit is ’n duur en tydrowende proses.
In die praktyk word gesteelde vee in baie gevalle verkeerdelik teruggegee aan misdadigers en nie aan wettige eienaars nie, juis omdat eienaarskap nie deur brandmerke bewys kan word nie. “Na regte moet daardie vee wat nie gemerk is nie, verbeurd verklaar word aan die staat en verkoop word, maar met die huidige manipulasie van die sisteem word vee teruggee aan die persoon wat van diefstal verdink en aangekla word.”
Hy sê die feit dat die nasionale veebrandregister verouderd is bly ook ’n enorme uitdaging. Daar is honderde duisende geregistreerde brandmerke wat nie meer in werking is nie. Die RPO wend tans ‘n poging aan om ‘n sisteem op die been te bring waar produsente opnuut moet registreer en sodoende ontslae te raak van verouderde brandmerke. Dit sal ‘n gesuiwerde sisteem tot gevolg hê.
Met die situasie tans word vee-eienaars opnuut aangemoedig om hul wetlike verpligtinge ten opsigte van die identifikasie van diere na te kom. Christo de Wet, voorsitter van Agri Potchefstroom, sê die eerste stap wat produsente kan neem om hulself teen veediefstal te beskerm, is om hul diere duidelik te merk. Hy sê met veral die diefstal van beeste, is dit teleurstellend dat wanneer gesteelde diere sonder merke opgespoor word, daar geen bewyse deur eienaars gelewer kan word dat dit hul diere is nie.
Hierdie diere word dan geskut. Die diefstal van beeste het in die afgelope jaar en ’n half aansienlik in hierdie distrik toegeneem. De Wet versoek produsente om veediefstalvoorvalle by die polisie aan te meld sodat die ware omvang daarvan in die land weergegee kan word.
Handleiding van belang
Die NVVK se handleiding vir veediefstalvoorkoming dek alle aspekte van veediefstal en die bekamping daarvan. Volgens hierdie handleiding is ’n wettige en permanente merk die eerste verdedigingslinie teen veediefstal. Die beginpunt is dat eienaars van beeste, skape, bokke en varke ’n identifikasiemerk by die registrateur van diere-identifikasie registreer.
Du Toit sê die handleiding het sy oorsprong in Noordwes en het daarna uitgebrei na nasionale handleiding wat deur al die rolspelers aanvaar is. Hierdie handleiding word gebruik vir die opleiding van veediefstaleenheidbeamptes asook vir die nasionale vervolgingsgesag se aanklaers.
Vir meer inligting, kontak Boeta du Toit by 082 388 1722 of by dutoitboeta@mweb.co.za of Christo de Wet op 082 926 9070. – Christal-Lize Muller, Plaas Media