Herkouerdiere is ruvoerbenutters en moet dienooreenkomstig bestuur word. Die vertrekpunt vir suksesvolle oorwintering lê daarin dat die produksiestelsel en die hulpbronaanbod in fase met mekaar moet wees. Produsente met slegs natuurlike weiding het beperkte opsies, maar waar oesreste beskikbaar is raak die opsies heelwat meer.
Met die uitgangspunt van rumendiere as ruvoerbenutters, fokus hierdie artikel op die effek van droëmateriaal op die kuddeprestasie vir oorwintering.
Voedingsbehoeftes van diere
Dit spreek vanself dat diere se voedingsbehoefte sal afwissel volgens hul produksiesiklus. Volgens die Nasionale Navorsingsraad (NRC) se standaarde, benodig ’n 450kg droë koei 4kg energie en 0,57kg proteïen per dag om onderhoud te handhaaf. Dieselfde koei se voedingsbehoefte neem met 25% toe ten opsigte van energie twee maande voor kalf. Haar proteïenbehoefte verdubbel gedurende hierdie tydperk.
’n Veldbestuurstelsel tot voordeel van vee én veld
Daarbenewens moet ’n koei se kondisiepunt tydens kalf 3 tot 3,5 wees om herkonsepsie vir ’n ekonomies aanvaarbare tussenkalfperiode te verseker. Die syfers is nie so belangrik as die beginsel dat ’n hoogproduserende dier se voedingsbehoefte tot méér as verdubbel teenoor dié van ’n droë dier nie.
Wat bied die hulpbron?
Elke plaas se unieke hulpbronsamestelling verskil en sal ooreenkomstig met die produksiestelsel wat gevolg word, beïnvloed word. Figuur 1 illustreer die proteïenaanbod van ’n hulpbron wat net uit natuurlike veld bestaan, teenoor die proteïenbehoefte van ’n koei wat in die vroeë lente kalf. Hierdie figuur is tipies vir Suid-Afrikaanse omstandighede wat as ’n reël ’n proteïentekort gedurende die wintermaande ondervind.
Dit is by uitsondering dat daar ’n proteïentekort in die hoogsomer sal voorkom, selfs in ’n hoogproduserende vleisbeeskudde.
Figuur 1. Proteïenbehoefte van koei vs veldaanbod.
Anatomie van winterveld
Vee het die vermoë om spesies met hoë voedingswaarde uit te soek. Gedurende die winter is hierdie eienskap veral van belang waar diere die vermoë toon om tot soveel as 9% proteïen uit dieselfde veld te selekteer. Dit is op veld wat gedurende die somer gespaar is en diere die geleentheid bied om te selekteer.
Namate droëmateriaal se smaaklikheid afneem sal diere minder daarvan benut. Die inname van raaigrashooi kan so hoog as 3% van liggaamsmassa wees, met mieliestronke wat so laag as 1,4% kan wees. Met lae inname van swak gehalte droëmateriaal, word daar nie aan diere se onderhoudsbehoeftes voldoen nie. Aanvulling speel wel ’n rol om die probleem op te los maar navorsing het getoon dat selfs 1,5kg produksielek nie ’n proteïentekort op swak veld kon ophef nie.
Met veldbenuttingsmodelle waar veld intens benut word en diere minder keuse tot seleksie het, is dit so dat diere oorwinter op ‘jonger’ weiding waarvan die gehalte beter is. Die diere se totale dieetgehalte sal egter swakker wees, wat sal aanleiding gee tot ’n groter behoefte aan aanvullings.
In die praktyk
Die evaluering van ’n 46% proteïenlek gedurende die winter van 2013, het goeie data gegenereer wat aanvulling onder verskillende toestande goed illustreer.
Scenario 1: Koeie in kalftyd op winterveld – In hierdie scenario is lakterende koeie op veld oorwinter met hooi gedurende die laatwinter. Lekinnames het by 480g proteïen/dag begin en rondom 380g per proteïen/dag gestabiliseer. Diere was aan die begin moontlik southonger. Die daling in inname gedurende September was weens veld wat begin bot het.
Weens droëmateriaalgehalte asook produksie wat nie in fase met die hulpbron was nie, is die volgende waarnemings gemaak:
- Kondisiepunt het met 0,6 gedaal gedurende die winter.
- Koeimassa het met 16% afgeneem oor die wintertydperk.
- Proteïeninname was baie hoog, met gepaardgaande koste.
Die scenario is uit ’n navorsingsoogpunt geskep om waardes aan die praktyk te koppel. ’n Proteïenlek alleen is onvoldoende vir hierdie produksieklasdiere en ’n produksielek tesame met goeie gehalte hooi word derhalwe aanbeveel.
Scenario 2: Koeie in kalftyd op winterveld/oesreste – In hierdie scenario het koeie laatherfs gekalf op veld en is daarna oorgeskuif na oesreste. Figuur 2 toon die effek van droëmateriaalgehalte op lekinname, met ’n skerp styging tot 650g proteïen/dag nadat die veld uitgevreet geraak het. Hierna volg ’n drastiese daling in lekinname op varsgestroopte oesreste waarvan die gehalte goed is, met ’n stabilisering van proteïeninname tussen 250 en 280g/dag wat normaal is vir diere onder hierdie omstandighede.
Die volgende waarnemings is gemaak:
- Kondisiepunt het gedurende die winter met 0,1 toegeneem.
- Koeimassa het gedurende die wintertydperk met 0,4% toegeneem.
- Proteïeninname was binne die norme.
- Sterk, gesonde kalwers met koste-doeltreffende aanvulling.
- Proteïenaanvulling was noodsaaklik op oesreste, maar voldoende.
Figuur 2. Proteïeninname (g/dag) van agt tot elf jaar oue koeie. (Dryveld 46, Winter 2013)
Tekens in die mis
Diere se mis bied ’n goeie aanduiding van rumengesondheid. Ureumbevattende winterlekke is noodsaaklik om mikrobewerking aan te moedig en droëmateriaalinname te stimuleer. Indien mis droog en bolvormig is, dui dit op onvoldoende mikrobe-aktiwiteit en ’n proteïentekort.
Korrekte voervloeibeplanning
Diereprestasie verbeter en aanvullingskoste daal wanneer voervloeibeplanning reg is en in fase met die hulpbronaanbod geskied. Dit dikteer vanselfsprekend ’n lentekalfseisoen. Veldgehalte en kwantiteit is die primêre drywers vir winterlekinname. Op veld wat genoegsaam is en seleksie-opsies bied, kan so min as 180g proteïen per dag aangevul word. Dit behels 450g lek met ’n 40% proteïeninhoud.
Namate veld verswak en diere se dragtigheidstatus vorder, neem proteïeninname normaalweg toe en kan dit tot 250g/dag wees. Indien inname te hoog is, dui dit gewoonlik op ’n ruvoertekort. Gedurende laatwinter in die kalfseisoen kan dit nodig wees om bykomende energie te verskaf, maar dit is nie ’n vaste reël nie.
Afhangende van omstandighede, kan tussen 0,5 en 1kg mielies of melassemeel per dier per dag saam met die proteïenlek verskaf word. Baie koue winters kan aanleiding gee tot ’n groter afname in die diere se kondisie. Bykomende energie-aanvulling kan help om dit te voorkom.
Waarop dit neerkom
Byvoeding moet geskied in ooreenstemming met dit wat die hulpbron bied en die produksiestadium waarin die diere hulself bevind. Vanuit ’n produksie- sowel as ekonomiese oogpunt, moet slegs die tekort aangevul word en diere moet die veld maksimaal gebruik as voedingsbron. Dit is dan ook vanselfsprekend dat een aanvulling nie heeljaar aan die kudde se behoefte kan voldoen nie. Gedurende die somer moet fosfaat en gedurende die winter proteïen aangevul word. Net klipsout voldoen nie aan een van die behoeftes nie.
Suksesvolle oorwintering is nie alleen afhanklik van ’n proteïenlek nie, maar bestaan uit ’n paar elemente:
- Voldoende droëmateriaal van redelike gehalte vir die hele winter.
- ’n Produksiestelsel en hulpbronaanbod wat mekaar komplementeer.
- Proteïenaanvulling (noodsaaklik) met energie (bykomend) na gelang van ruvoerbron gedurende die laatwinter. – Izak Hofmeyr en Johan Mouton, tegniese bestuurder: navorsing en ontwikkeling vir herkouers, RCL Foods
Vir meer inligting of bronverwysings, kontak Izak Hofmeyr by izak@plaasmedia.co.za.