Bloutongvirus (BTV) is ’n nie-aansteeklike, insekoorgedraagde siekte wat seisoenaal deur hitte, vog en ryp aangedryf word. Die virus word deur bytende muskiete en muggies aan herkouers soos skape, en tot ’n mindere mate bokke en beeste, oorgedra.
BTV begin gewoonlik in September kop uitsteek en bereik ’n klimaks vanaf Januarie tot begin Maart. Die vektore vrek dan met die eerste ryp en tydens die kouer maande van die winter.
Oordrag van BTV
Dr Steve Cockcroft, ’n veearts van Adelaide in die Oos-Kaap, meen dat voorkoming altyd beter as genesing is, en sê dat die virus oorgedra word deur vektore wat hoofsaaklik op die blootgestelde gedeeltes van skape, soos die ore, gesig, rondom die vulva en uier, sowel as die voorste oksels, voed.
Dit kan na ander diere oorgedra word wanneer insekte wat op skape voed, na beeste of bokke oorbeweeg. Dié diere word dan draers of gashere.
Die virus val die mure van die bloedvate in die gasheer aan en die skade veroorsaak dat plasma uit die bloedvate lek.
“Vloeistof sal in verskillende organe, soos die longe, begin ophoop of die gesig laat opswel. ’n Opvallende simptoom is letsels aan die pote, wat dit baie pynlik kan maak vir skape om te loop, terwyl die ingewande tot ’n mindere mate ook aangetas kan word.”
Die virus is baie gevaarlik vir ’n fetus, veral binne die eerste twee maande van dragtigheid. Aangesien die brein van die fetus gedurende die eerste tien weke van dragtigheid ontwikkel, sal ’n ooi met bloutong tydens vroeë dragtigheid óf aborteer, óf ’n lam met breinskade en ’n groot skedel hê.
Dr Dave Waterman, ’n veearts van Stutterheim in die Oos-Kaap, sê dat die vektore laagliggende, nat gebiede verkies, meestal ná die laat somerreën. Hulle is veral aktief in die aande. Hy waarsku dat toestande ná droogtes skape ook meer kwesbaar kan maak vir insekoorgedraagde virussiektes. Daarom is dit noodsaaklik dat al die nodige inentings toegedien word.
Simptome en diagnose
BTV is geneig om ’n probleem te wees by ongespeende lammers, pasgespeende lammers wat sensitief is vir die virus, of jong skape wat uit ’n gebied kom waar BTV nie ’n groot faktor is nie.
Die siekte kan veroorsaak dat ’n skaap in die veld lomerig lyk en van die kudde afgesonder is. Die volgende simptome kan ook ’n aanduiding van bloutonginfeksie wees:
- ’n Temperatuur van tussen 39,5 en 41°C.
- Sianose van die tong (wat dit ’n blou voorkoms gee), geswelde bek of lippe, oop sere aan die tandvleis waar die voorste tande insny, neusafskeiding en geswolle oë en ore.
- Koronêre bande (die deel tussen die hoef en wol) wat ’n rooi tot blouerige kleur het. Dit dui op bloeding binne die hoewe en kan lamheid veroorsaak.
- Diere wat vinnig moeg word weens ’n gebrek aan suurstof wanneer die kudde aangedryf word. Dit kan ook op ’n sekondêre infeksie soos pasteurella dui.
- Diarree.
Volgens dr Cockcroft is bloeding van die aorta net bokant die hart ’n spesifieke nadoodse teken van bloutonginfeksie.
Voorsorg- en beheermaatreëls
Daar is 24 verskillende virale stamme en elkeen is baie spesifiek. Onderstepoort Biologiese Produkte het ’n lewendige entstof vir BTV beskikbaar. Die entstof bestaan uit die volgende fraksies:
- A: Bevat die belangrikste stamme.
- B: Dra matig belangrike stamme.
- C: Het minder algemene stamme.
Al drie entstoffraksies moet drie weke uitmekaar toegedien word; inenting moet gedurende Julie en Augustus gedoen word en teen September voltooi wees.
“Probleme kan kop uitsteek indien inentings op die verkeerde tydstip gedoen word, byvoorbeeld gedurende die dektydperk of tydens dragtigheid. Ons raai boere aan om hul ooie nie binne die eerste twee maande van dragtigheid in te ent nie. Dit beteken dat geen inenting vanaf ’n week of twee voor dekking, tot die tiende week (of dag 70) van dragtigheid, mag plaasvind nie.”
Omdat dit ongeveer twee maande neem om semen te produseer, mag ramme ook nie minder as twee maande voor die dekseisoen, of tydens dekking, ingeënt word nie, verduidelik hy verder. Die beste tyd is ná die dekseisoen.
Lammers moet met A-, B- en C-entstof ingeënt word, met drie weke tussen elk. Alhoewel die etiket voorskryf dat lammers tussen vyf en ses maande oud ingeënt moet word, is daar gevind dat lammers reeds vanaf die ouderdom van vier tot ses weke BTV kan opdoen. “Vroeë inenting help geweldig om die oorlewingskoers van die lammers teen speentyd te verhoog. Hulle kan dan ses of sewe maande later weer saam met die res van die kudde ingeënt word,” sê dr Cockroft.
Volgens dr Waterman is die BTV-entstof baie doeltreffend, mits daar geen kortpaaie gevat word nie. Hy beveel ook aan dat ooie nie in vroeë dragtigheid of in die dekperiode ingeënt word nie. “Dit is egter veilig om ooie wat langer as drie maande dragtig is, in te ent.” – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Steve Cockcroft by 046 684 0484 of 083 431 3258 en dr Dave Waterman by 043 683 2223 of stuttvet@hazeldean.co.za.