Wurmweerstandigheid is en bly ’n tameletjie, selfs al het jy ’n goeddeurdagte wurmbeheerprogram vir jou vee. Veeplaas het met kenners gesels oor doeltreffende wurmbeheer en die voortslepende probleem van weerstandigheid.

Veearts en emeritus professor, dr Gareth Bath, sê produsente moet kennis dra van die interne parasiete wat in spesifieke gebiede voorkom. “Die peervormige slakwurm kan onvoorspelbare maar verwoestende uitbrekings van diarree veroorsaak. Sandveld-haakwurm kan ernstige bloedarmoede in droë gebiede veroorsaak, terwyl die groot lewerslakwurm en bilharzia ’n probleem in die noordelike gebiede is. Hierdie parasiete dra grootliks by tot die kompleksiteit van interne parasietbeheer in Suidelike Afrika.”

’n Holistiese wurmplan

Volgens dr Hanré Bredenkamp van Afrivet, moet produsente begin om van ander metodes as slegs ontwurmingsmiddels gebruik te maak om parasietpopulasies te beheer en besmetting onder diere te bekamp.

“Verskeie konsepte kan holisties saam ingespan word om die ontwikkeling van wurmweerstand te voorkom. Dit is dus belangrik om ’n proses in plek te hê om die doeltreffendheid van die middels wat op die plaas gebruik word, te monitor en sodoende vinnig die eerste tekens van weerstand te herken.”

Lees meer oor lintwurms.

Dr Johan van Rooyen, ’n veearts by Steynsburg Dierehospitaal, sê dat gereelde miseiertellings ’n belangrike aspek van ’n doeltreffende parasietbeheerprogram is. Biosekuriteit is ook belangrik, net soos sorgvuldige rekordhouding van siektes, vrektes, behandelings en beweging. Produsente moet in ag neem dat voerkrale ál strenger raak en op gesondheidsertifikate begin aandring om die risiko van siektes te verminder. “Dit gaan al moeiliker raak om besmette diere uit te skot.”

Hoekom weerstandigheid?

Maar waarom raak parasiete weerstandig teen doseermiddels? Dr Bredenkamp meen die hoofrede is biologiese en genetiese meganismes wat wurms teen die gevolge van die ontwurmingsmiddels beskerm.

“Weerstandige wurms ontstaan as gevolg van ’n rare genetiese mutasie wat hulle die vermoë gee om die dodelike effek van die ontwurmingsmiddel te oorleef. Hulle dra dan hierdie weerstand geneties oor na hul nageslagte.”

Volgens dr Bath is dit oor die langtermyn gevaarlik en onvolhoubaar om op wurmbeheermiddels staat te maak. Dit het wêreldwyd gelei tot veelvuldige weerstand teen onder andere rondewurmmiddels. Suid-Afrika het as ’n leier op dié gebied na meer volhoubare en holistiese metodes begin kyk om wurms in skape te beheer.

“Die uitdaging is om produsente te speen van hul afhanklikheid van wurmmiddels en hulle te oorreed om ’n wye verskeidenheid metodes te gebruik. Dit verg egter meer bestuursinsette en beplanning,” sê dr Bath.

Die haarwurmprobleem

Dr Alan Fisher, ’n afgetrede staatsveearts van Queenstown, hou haarwurm voor as die belangrikste sondebok onder wurmmiddelweerstandigheid, veral in somerreënvalgebiede.

“Ek glo die hoofrede vir die probleem is dat die natuur nie toegelaat word om sy gang te gaan nie. Diere word kunsmatig aan die lewe gehou deur onoordeelkundige dosering. Hoe meer wurms aan ’n spesifieke wurmmiddel blootgestel word, hoe vinniger gaan weerstand ontwikkel. Om die hele trop bloot te stel aan dosering in die belang van ’n paar swak individue, is nie logies nie.”

Die bekende Famacha-stelsel om bloedarmoedevlakke te bepaal, is ’n eenvoudige toets om haarwurm in vatbare skape in die somerreënvalstreke te identifiseer, meen dr Fisher. Vir die doeltreffende aanwending van doseermiddels, beveel hy die gebruik van nouer spektrum wurmmiddels asook afwisseling tussen verskillende produkte aan.

“Dit hang van plaas tot plaas af watter wurmmiddels ten beste aangewend kan word. Dit is ook goeie praktyk om periodiek miseiertellings te doen om die doeltreffendheid van die verskillende middels op elke spesifieke plaas te bewys.”

Die bekende veeartskonsultant, dr Faffa Malan, sê die kanse is goed is dat haarwurms wat nié deur ’n spesifieke aktiewe doseermiddel van kant gemaak is nie, weerstandig sal wees.

“Dié parasiete besmet gewoonlik die sogenaamde ‘skoon’ kampe met hul weerstandbiedende eiers, wat deur die diere uitgemis word. Dit lei daartoe dat die volgende rondte dosering verniet is. Wanneer die diere gedoseer word, word al die vatbare wurms doodgemaak, maar die weerstandiges bly agter en word die meerderheid wurms in die diere. Dít is wanneer baie produsente die fout maak om hul diere wéér te doseer en die situasie net vererger.”

Suksesvolle wurmbeheer

  • Versterk gasheerweerstand en aanpasbaarheid: Begin met al die faktore wat weerstand teen parasiete in diere bevorder, bv. ramseleksie, uitskot van ooie, goeie voeding, genoeg blootstelling aan wurms, die beheer van ander siektes en kwarantynmaatreëls.
  • Verminder die parasietlading: Verminder die tyd wat diere in ’n kamp is asook weidingsdruk. Wissel weidingspesies af en vermy gevaarpunte.
  • Evalueer die weiding: Evalueer weidingsfaktore soos die hoogte van weiding, spesies en selfs die afloophelling.
  • Let op besproeiing en grondtipe: Humiditeit, grasbedekking en swaar, kleiagtige grond skep ideale omgewings vir wurmoorlewing.
  • Moniteer: Miseiertellings, wurmweerstandsbepalings, veemoniteringsmaatstawwe, en weer- en weidingkontrole is belangrik.
  • Optimiseer dosering: Implementeer doelgerigte, selektiewe dosering, volg produkaanwysings en behandel net diere met tekens van wurmbesmetting. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting of verwysings, kontak die outeur by carin@plaasmedia.co.za.