Die gesegde dat ’n mens eers moet kruip voor jy kan loop, is op baie fasette van die lewe van toepassing. Dit geld ook in die voedingsproses van groot- en kleinvee. ’n Kalf of lam is eintlik monogastries tot sy rumen sodanig ontwikkel is dat hy ruvoer kan verteer. Tot dan behoort kruipvoer ’n deel van die dier se voedingsprogram te vorm.

Klik hier om die artikel in Engels te lees.

In die eerste paar maande van die kalf of lam se ontwikkeling, is die rumen nog nie behoorlik ontwikkel nie en besit die dier nie die vermoë om ruvoer te verteer nie. Al het die kalf of lam reeds vier pense, word die rumen uitgesluit en voedingstowwe word binne die melkpens verteer. Frederick van der Walt, ’n tegniese adviseur by Veekos SA, sê die kalf of lam se voeromset is op hierdie stadium baie doeltreffend en daarom moet daar gepoog word om die dier volgens sy maksimum genetiese potensiaal te laat groei.

In ’n tegniese artikel oor die onderwerp, het wyle dr Jasper Coetzee, wat ’n kenner op die gebied van skaapproduksie was, beklemtoon dat tot 50% van die lam se voedingsbehoeftes op vier tot ses weke oud deur kruipvoer en gras, tesame met die ooi se melk, voorsien word. Nadat die ooi piekmelkproduksie bereik het, neem haar melkproduksie af en die lam ontwikkel ’n tekort aan noodsaaklike voedingstowwe wat nie deur weiding voorsien kan word nie, maar wel deur kruipvoer.

Waarom kruipvoer?

Frederick sê kruipvoer word sodanig saamgestel dat die lam of kalf se rumen maksimaal ontwikkel word. Ervaring het hom geleer dat lammers vanaf sewe dae oud tot speenouderdom, op drie of vier maande, kruipvoer kan kry. Kruipvoer kan van 2,5 of drie maande, tot en met speentyd op sewe maande, aan kalwers gegee word.

Veeboerdery, verduidelik hy, is ’n aaneenlopende bedryf wat nie kan stilstaan nie. Omdat die natuur sy normale gang moet gaan, is deel van die produsent se bestuursprogram daarop gemik om sekere prosesse vir die vee op sy plaas, te vergemaklik. Kruipvoer is een van die hulpmiddels om prosesse vir die vroulike diere op die plaas makliker te maak. Dit haal eerstens baie druk van die koei of ooi af, omrede die kalf of lam nie heeltyd net wil drink nie. Tweedens kry die kalf of lam ook droëmateriaal in wat die rumen vul en alle voedingstekorte aanvul.

Koeie en ooie herstel ook vinniger ná die lam- en kalfseisoen weens die laer massaverlies. Hulle vaar dan ook beter met herbesetting. Sodoende verbeter die kalf- en lampersentasies op die plaas.

Ander voordele van kruipvoer, verduidelik Frederick, is dat dit help om lammers en kalwers swaarder of vroeër te laat speen. Dit bevorder die ontwikkeling van die rumen en die lam of kalf pas dan makliker in die voerkraal aan. Omdat die rumen vinnig en volledig ontwikkel, kan die kalf of lam gouer gespeen word. Dit verhoog die diere se weerstand teen speenskok en verseker beter massatoename.

Verskillende kruipvoermengsels

Daar is uiteraard ’n verskil tussen kruipvoermengsels vir beeste en skape. Uit proewe wat gedoen is, sê hy, is gevind dat beeskalwers hoë energievlakke kan hanteer. Volgens hom is van die belangrikste aspekte van goeie gehalte kruipvoer dat dit ’n hoë deurvloeiproteïen moet bevat, maar geen ureum nie. Volgens navorsers bevat kruipvoer tussen 16 en 20% proteïen, terwyl die energie-inhoud (graaninhoud) so hoog as moontlik moet wees. Lammers benodig ’n voer met hoë-gehalte proteïene en voldoende energie om optimaal te presteer.

Frederick meen die gebruik van kruipvoer is ’n noodsaaklikheid vir enige winsgewende veeboerdery en daarom moet daar liefs nie van ’n lae-gehalte kruipvoer gebruik gemaak word nie.

“Dit help nie jy voorsien swak kruipvoer tydens die kalf of lam se mees kritieke ontwikkelingstadium nie. Jy gaan net jou geld mors. Koop dus eerder hoër gehalte kruipvoer; jy gaan beter groei kry by jou lammers en kalwers,” sê Frederick. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Frederick van der Walt by 054 331 1351 of
082 432 7900.