Thursday, October 17, 2024

Hier is !Xhariep-streek se 2024-wenners

Estimated reading time: 4 minutes

!Xhariep Landbouskrywers het onlangs erkenning gegee aan boere en landboukundiges wat die leiding in die landbou in die streek neem. Die !Xhariep-streek se 2024-finaliste vir Boer van die Jaar, Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou en Wetenskaplike van die Jaar is by ’n toekenningsgeleentheid by die Tangram Restaurant, Durbanville Hills Kelder, Durbanville, aangewys.

Peter Pentz, voorsitter van !Xhariep Landbouskrywers het in sy verwelkoming gesê die landbousektor se sukses word aan spanwerk toegeskryf, en nie aan ’n individuele strewe nie. Die landbou floreer uit gedeelde bydraes van boere, navorsers, beleidmakers en die private sektor. Samewerking is noodsaaklik om verandering in ons land te bring deur probleme te identifiseer en op te los, sowel as om nuwe geleenthede te skep.

Met die Landbouskrywers SA-toekennings word landbourolspelers vereer vir hul uitnemendheid in die landbou en ook vir hul pogings tot die bevordering van volhoubare boerderypraktyke, die versterking van voedselsekerheid, die bevordering van landelike ekonomieë en die verbetering van die beeld van landbou in Suid-Afrika, het Pentz gesê.

2024 se finaliste

Die Wes- en Oos-Kaapse finaliste wat om die Nasionale Boer van die Jaar, Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou van die Jaar en Wetenskaplike van die Jaar gaan meeding, is:

Wes Kaapse Boer van die Jaar vir 2024: André Brink van Groot Phesantekraal Boerderytrust, Durbanville. Die boerdery is ’n goed gediversifiseerde gemengde boerdery (kleingraan, kleinvee, vleisbeeste en wyndruiwe). Die vierde en vyfde geslag van die Brink-familie, André en sy seuns Rennie en Jeandre, is vandag aan die stuur van die boerdery. Groot Phesantekraal is 100% ’n familie-onderneming met André wat verantwoordelik is vir die oorhoofse bestuur en die identifisering van nuwe geleenthede vir uitbreidings en waardetoevoeging.

Die Wes-Kaapse Toetreder tot Kommersiële Boerdery vir 2024: Sheena Paulus van Tri Toad-kwekery, Philippi. Haar dinamiese kwekery spesialiseer in die kweek van premium groente-, kruie- en blomsaailinge, en verskaf saailinge aan kleinhandeltuinsentrums soos Stodels, die Kaapse Tuine en Buco. Sy het ook vennootskappe met Food & Trees for Africa aangegaan om vrugtebome te versprei, terwyl sy terselfdertyd betrokke is by mededingende verkrygingsprosesse om met landbouprojekte saam te werk. Haar uiteenlopende kliënte sluit ook kommersiële boere in.

Oos-Kaapse Toetreder tot Kommersiële Boerdery vir 2024: Thulani Magida van Juta Agritech, Qonce (voorheen King William’s Town). Magida boer op 28ha van 45ha kommunale grond en het sy boerdery gediversifiseer om groente soos botterskorsie, pampoen, kool en aartappels in te sluit, sowel as ’n florerende varkboerdery. Hy lewer landboukonsultasiedienste aan nuwe-era boere, met die fokus op begroting, kontantvloeibestuur en besigheidsbeplanning.

Die Wes-Kaapse Wetenskaplike van die Jaar vir 2024: Dr Erna Blancquaert, ’n wingerdbou-akademikus, navorser en dosent aan die Universiteit Stellenbosch. Dr Blancquaert se kundigheid in wingerdstresfisiologie is instrumenteel om die dringende uitdagings wat klimaatsverandering inhou, aan te spreek. Deur haar innoverende navorsing rus dr Blancquaert boere toe met noodsaaklike kennis en raad om by onvoorspelbare klimaatstoestande aan te pas, wat volhoubaarheid en produktiwiteit binne die Suid-Afrikaanse wynbedryf verbeter.

Landbou se bydrae in Wes-Kaap

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, was die gasspreker en het die belangrikheid van landbou in die provinsie en groter streek beklemtoon. “Die landbougebied in die Wes-Kaap is slegs gelyk aan 10% van die totale landbou-oppervlakte in Suid-Afrika, maar die Wes-Kaap is verantwoordelik vir 55% van Suid-Afrika se uitvoer van primêre landbouprodukte.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

“Volgens die mees onlangse data dra die landbousektor R73 miljard tot die provinsie se ekonomie by. Primêre landbou dra 4% by tot die provinsiale ekonomie en sekondêre landbou 7%. Met ’n totaal van meer as 11% beklemtoon dit die massiewe waarde van die hele landbouwaardeketting en die bedryf se bydrae tot werkskepping.”

Volgens Strydom is landbou in die provinsie in ’n goeie toestand, ten spyte van die uitdagings rondom stormskade. Hy het ook die Wes-Kaapse Departement van Landbou se bydraes as ’n positiewe faktor uitgelig.

Die 2024 Wes-Kaap finaliste ding met finaliste uit ander provinsies mee om die gesogte Nasionale Boer, Wetenskaplike en Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou-toekennings. Die toekennings vind op Vrydag 15 November 2024 in Pretoria plaas. – Hugo Lochner, Plaas Media

Trigomoniase: As jy nie toets nie, sal jy nie weet nie

Estimated reading time: 4 minutes Trigomoniase is die algemeenste geslagsoorgedraagde siekte ter wêreld by ekstensiewe...

Verantwoordelike versorging van melkkalwers

Estimated reading time: 7 minutes Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en...

Cattle selection decisions based on objectives, resources and environment

Estimated reading time: 9 minutes Genetics are a crucial aspect of the livestock industry, influencing...

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...