Tuesday, March 11, 2025

Vleiskenner: “Sagte vleis moontlik vir álle rasse”

Hoewel diere met meer Bos taurus-gene se vleis gewoonlik sagter is as ’n dier met meer Bos indicus-gene, is die vleissagtheidsgeen in alle rasse teenwoordig, het ’n vleiskenner, prof Arno Hugo, vanoggend op die laaste dag van die LRF Veeskool by Aldam gesê.

“Die verskil in vleissagtheid word deur ensieme veroorsaak,” het die dosent van die Universiteit van die Vrystaat se Departement van Dierewetenskappe, gesê. Bos indicus-rasse bevat meer kalpaïene, wat die werking van vleissagtheidensieme inkort. Dis egter belangrik om te besef dat vleissagtheid ’n genetiese eienskap is waarvoor geselekteer kan word. “Die werklikheid is dat daar meer variasie binne die vleis van ’n enkele beesras is as wat tussen verskillende beesrasse is.”

Prof Hugo sê ander faktore, soos hoe die dier voor slagting en karkas ná slagting hanteer is, het ook ’n beduidende invloed op vleissagtheid. Iets soos die veroudering van vleis speel hier ’n deurslaggewende rol. “Selfs ’n dier wat geneties meer geneig is tot sagter vleis kan steeds taai vleis oplewer as dit nie reg hanteer word nie.”

Om doeksagte vleis eenmalig op te lewer is egter nie goed genoeg nie. Die vleisbedryf se Achilleshiel is die lewering van ’n produk wat altyd op ’n sekere standaard is. “Konsekwentheid is die grootste probleem vir die vleisbedryf. Net een verbruiker se slegte ervaring kan beteken dat ’n handelsmerk 800 kliënte verloor. Die werklikheid is dat mense met mekaar gesels en deesdae vind hierdie kommunikasie op sosiale media plaas.”  

Verbruikersbehoeftes

Die verbruiker van die toekoms lyk baie anders as ’n verbruiker van ouds. “Binnekort gaan geen kos meer tuis voorberei word nie. Produsente moet hiervan kennis neem en dink hoe hulle klaargemaakte etes kan produseer.”

Prof Hugo sê buiten vir gerief stel moderne verbruikers baie belang in die gesondheids- en genesingswaarde van sekere voedselgroepe. “Ons moet verbruikers se siening van die voedingswaarde van rooivleis verander. Dít is die toekoms van beesvleisverbruik. Baie verbruikers het steeds wanopvattings oor vleis, soos dat dit hartsiektes kan veroorsaak.”

Tewens, verbruikers moet ingelig word dat vleis propvol noodsaaklike minerale soos yster is. “Yster is veral belangrik vir jong vrouens van Afrika, wat dikwels meer yster in hul diëte nodig het.”

Moderne verbruikers wil weet dat kos hulle gesond kan hou en siektes kan voorkom. Daarom moet die goeie nuus uitgedra word dat vleis kanker en hartsiektes kan help voorkom, sê prof Hugo. – Susan Marais, Plaas Media

Beef and sheep carcass block test and its relevance in South Africa

Estimated reading time: 11 minutes The last official block test performed on South African beef...

Relevansie van die bloktoets vir Suid-Afrikaanse bees- en skaapkarkasse

Estimated reading time: 11 minutes Die laaste amptelike bloktoets op Suid-Afrikaanse bees- en skaapkarkasse is...

Die bestuur van somatiese seltelling in melkbeeste (Deel 1)

Estimated reading time: 5 minutes Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van...

On buying a cheaper Chinese vehicle

Estimated reading time: 4 minutes Gert, our farm mechanic, often gets consulted by young staff...