Estimated reading time: 7 minutes
- Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en gehalte as deur volhoubaarheid, wat produsente dwing om tussen dierewelsyn en volhoubare produksie te kies.
- Respondente in studies was oor die algemeen ontevrede met die praktyk om kalwers binne dae na geboorte van hul moeders te skei, en het beswaar gemaak teen die slaggery van manlike kalwers op ’n jong ouderdom.
- Die bestuur van kalfbehuising is uiters belangrik, met faktore soos ventilasie, beddegoed, verhitting, en sosialisering wat kalfvrektes kan beïnvloed.
- Kalwers wat in groepe grootgemaak word, is beter aangepas vir verandering, groei beter en hanteer pynlike prosedures beter as kalwers in enkelbehuising.
- Pynbestuur tydens prosedures soos onthoorning en kastrering is noodsaaklik om stres te verminder en die immuunstelsel te verbeter, wat herstel en groei bevorder.
Ons is almal tot ‘n mate skisofrenies – verantwoordelike burger aan die een kant en verbruiker aan die ander. Teoreties gesproke is ons bereid om meer te betaal vir verantwoordelik-geproduseerde voedsel, maar wanneer ons in die supermark is, is ons geneig om eerder die goedkoper voedselitems in die waentjie te laai.
Dit is hoe dr Mark Chimes, projekbestuurder vir dieregesondheid en -welsyn by Melk SA en veeartsenykundige konsultant by die Suiwelstandaardagentskap (SSA), ’n onlangse webinar oor die verantwoordelike grootmaak van melkkalwers ingelui het. Wat verbruikersvereistes jeens voedselprodusente in die algemeen, en melkprodusente in die besonder betref, het hy gesê dit is belangrik om hierdie ‘skisofreniese’ eienskap van verbruikers in ag te neem wanneer navorsingsresultate ontleed word.
Wat verbruikers wil hê
’n Europese opname dui byvoorbeeld daarop dat verbruikers hulle aankoopbesluite eerder baseer op dierewelsyn, smaak en gehalte, as op volhoubaarheid. Dit het bepaalde implikasies vir produsente wat moet besluit of hulle hul geld gaan bestee aan meer volhoubare en koolstofnegatiewe produksie, of eerder aan dierewelsyn.
Prof Nina von Keyserlingk van die Universiteit van Brits-Columbië het soortgelyke studies in Noord-Amerika, Europa en Australië gedoen oor opvattings rakende koeiwelsyn op melkplase, voor en na besoeke aan sulke plase. Die meeste respondente het tot die gevolgtrekking gekom dat koeie op melkplase nie sleg behandel word nie, maar ook nie die beste lewe geniet nie.
Dit was duidelik dat respondente wat aanvanklik gedink het koeie word sleg behandel, verras was oor die hoeveelheid sorg wat elke dier ontvang. Aan die ander kant was die meeste respondente ontevrede met die feit dat kalwers binne ’n paar dae ná geboorte van hul moeders geskei word, en dat manlike kalwers op ’n jong ouderdom geslag word.
’n Wetenskaplike benadering
’n Ondersoek is ook gedoen oor die gevolgtrekkings van wetenskaplike referate oor die werklike invloed op kalf- en koeigesondheid wanneer kalwers op ’n jong ouderdom van hul ma’s weggeneem is, pleks daarvan om hulle langer daar te hou. Ten opsigte van kriptosporidiose het twee van die navorsingsprojekte ’n verbetering aangeteken wanneer kalwers by hul ma’s gebly het, twee het agteruitgang getoon, en vyf het min verskil gewys.
Wat vrektes betref, het ses referate ’n verbetering aangedui wanneer kalwers by hul moeders gehou is, twee het geen werklike verbetering aangeteken nie, en drie het ’n negatiewe resultaat getoon. Mastitis het die mees sprekende uitslag getoon. In 11 uit 18 navorsingsprojekte het dit ’n positiewe uitwerking gehad om die kalf by die moeder te hou, sewe was onbeslis, terwyl nie een ’n negatiewe uitkoms getoon het nie.
Die opname het ook aangedui dat die respondente nie tevrede was met kalwers wat van hul moeders weggeneem is en in ’n groep saam of by ’n pleegkoei geplaas is nie. Die grootste beswaar was dat jong kalwers enigsins van hul moeders verwyder word. Dit blyk dat dit, veral in Europa, ’n algemene praktyk is.
Die kwessie van kuddegrootte, sê dr Chimes, is waarskynlik die bepalende faktor in die melkprodusent se benadering tot die skei van ‘n koei en kalf. Dit is aansienlik ingewikkelder om ’n kudde van 1 000 koeie te bestuur as ’n kudde van 80 koeie. ’n Ander benadering is om dalk te vra: Melk ek 1 000 koeie, of melk ek tien troppe van 100 koeie, of selfs 20 troppe van 50 koeie? ‘n Hersiening van die bestuurstelsel kan moontlik antwoorde bied tot verbruikers se vrae.
Bestuur kalfbehuising
Die bestuur van kalfbehuising is uiters belangrik. Trouens, sê hy, die persoon wat die kalfgrootmaakeenheid bestuur, is die enkel-belangrikste faktor wat kalfvrektes op ’n melkplaas bepaal. Sleutelfaktore by kalfbehuising is ventilasie, voldoende en gemaklike beddegoed, doeltreffende verhitting, voorkoming van trekke en behoorlike sosialisering.
Indien daar wel ’n moontlikheid van siekteverspreiding in ’n groepbehuisingopset bestaan, kan kalwers twee-twee saam gehuisves word. Sodoende kan een kalf net een ander kalf beïnvloed. Elke paar moet egter genoeg beweeg- en speelspasie hê.
Dit is bewys, sê dr Chimes, dat kalwers wat in groepe grootgemaak word, baie meer aanpasbaar is by verandering, beter vreet en pynlike prosedures skynbaar beter weerstaan. Groepe van minder as tien diere is optimaal, aangesien dit makliker is om te bestuur en te monitor, terwyl afknouery en oor-en-weer suig minder voorkom.
Dit is nie maklik om genoeg kontak tussen ‘n koei en kalf te bewerkstellig nie. “Hoewel daar talle moontlike stelsels is, verg almal spesifieke bestuursinsette. Dit is baie moeilik om daagliks ’n kudde van 1 000 koeie van hul kalwers te skei. Dit is vir groot kuddes dus uiters onprakties.”
Ideaal gesproke moet ’n kalf 20% van sy liggaamsgewig per dag drink. “ ’n Drie-maande-oue Holstein-kalf wat op speen staan, weeg ongeveer 80kg en behoort dus sowat 16ℓ melk per dag in te neem. Dit is in elk geval hoeveel ’n kalf van sy ma sou kry.”
Menslike interaksie
Studies oor die kalwergedrag in enkelbehuising ná menslike kontak (vyf minute se krap onder die ken ná voeding) het ’n merkbare positiewe effek aangeteken. In gedeelde behuising was daar ’n vermindering in kalwers wat aan mekaar suig en kalwers het langer gelê in die uur na voeding en menslike kontak, ongeag die tipe behuising waarin hulle was. Dit was duidelik dat kalwers ‘n behoefte het aan kontak met ander lewende wesens.
’n Algemene fout van enkelhokbehuising in Suid-Afrika is dat dit te nou is. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) bepaal dat ’n kalf moet kan opstaan, lê en omdraai sonder om aan die kante van die hok te raak. ’n Praktiese oplossing vir te nou hokke is om elke tweede afskorting te verwyder en kalwers in pare te huisves.
Soliede mure tussen hokke wat kalwers verhoed om mekaar te sien, is ‘n groot nee. Dieselfde oplossing geld – breek elke tweede skeiding af om paarbehuising te skep. Hokke wat opgelig is en gaasdraad as vloer het, is onaanvaarbaar. Dit skep ‘n trek en tesame met die gebrek aan sagte beddegoed, is dit uiters ongemaklik en wreed.
Bestuur van pyn
Dr Chimes sê dit is uiters belangrik om voldoende pynstillers te verskaf tydens pynlike prosedures soos onthoorning en kastrering. “Pyn veroorsaak stres en stres benadeel die immuunstelsel, wat die waarskynlikheid van siekte verhoog. Die onderdrukking van pyn, daarenteen, bring mee dat die kalwers gouer begin vreet, beter groei, vinniger gewig optel en beter immuunstelsels ontwikkel. Gevolglik is hulle meer bestand teen infeksie.”
Pynbestuur kan ook baie doeltreffend wees by diarreegevalle. Anti-inflammatoriese middels verdoof maagpyn, wat meebring dat siek kalwers vinniger herstel.
Voer en speentyd
Melkkalwers word gewoonlik langdurig te min gevoer, het dr Chimes beklemtoon. “Die minimumstandaard in Suid-Afrika is 10% van liggaamsgewig in melk in verdeelde voedings. Dit is egter ondervoeding. Die ideaal is 20% van liggaamsgewig in melk per dag in verdeelde voedings.”
Daar is enorme langtermyn voordele verbonde aan genoeg biesmelk gedurende die eerste ses lewensure, en daarna voldoende volumes melk tot en met speentyd. Daar is afdoende bewyse dat ’n vers wat goed gevoer is vinniger sal groei, vinniger haar teikengewigte sal bereik, gouer op hitte sal kom en vroeër dragtig sal raak. Sy sal ook in haar eerste laktasie meer melk produseer.
Suipkalwers
Die behandeling van sogenaamde suipkalwers is ’n hoogs omstrede kwessie onder verbruikers. Manlike kalwers word dadelik van hul moeders verwyder en op ’n baie jong ouderdom geslag. “Die SANS vir kalfsvleis bepaal dat kalwers nie op ’n ouderdom jonger as 21 dae geslag mag word nie. Baie suipkalwers word egter van die plaas afgehaal, reguit na die abattoir aangery en geslag, en dan as kalfsvleis verkoop, of in troeteldierkos gebruik.
“Daar is ook baie gevalle van mishandeling van hierdie suipkalwers, veral met betrekking tot ondervoeding. Dit lei tot sieklike en swak kalwers. Vervoer is ook ‘n kwessie – die SANS bepaal tans dat kalwers jonger as tien dae nie vervoer mag word nie.”
Die beste oplossing vir suipkalwers is waarskynlik om aan kalwers ’n geldwaarde te gee deur van geslagsbepaalde semen gebruik te maak. Die toppresterende koeie in ’n kudde word geïnsemineer met vroulik-bepaalde semen met die oog op vervangingsverse, terwyl die onderste persentasie van die kudde met manlik-bepaalde semen van vleisbeesbulle geïnsemineer word. Hierdie kruisings het ‘n groter monetêre waarde en kan aan voereenhede en uiteindelik voerkrale verkoop word. – Izak Hofmeyr, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel dr Mark Chimes by 074 510 7316. Besoek ook die Suiwelstandaard-agentskap se webwerf www.dairystandard.co.za vir meer inligting oor toepaslike wetgewing en goeie praktyke.