Veldbrande hou ’n bedreiging vir mens en dier in, en rig jaarliks miljoene rand se skade in Suid-Afrika aan. Goeie opleiding van brandbestrydingspanne, doeltreffende toerusting, brandbane en voorbrande is noodsaaklik om die verwoesting van veldbrande te stuit.
Brande wat deur weerlig of ander natuurlike gebeure gestig word, het waarskynlik die mens aan vuur bekendgestel, wat sy lewe in die vroegste tye dramaties verander het. Vandag is die sorgelose en onverantwoordelike hantering van vuur deur mense die grootste oorsaak van dikwels rampspoedige veld-, bos- en bergbrande.
Wie met vuur speel …
In sowat 70% van Suid-Afrika se natuurlike omgewing was veldbrande deur die eeue deel van die natuur. Die kuns is om dit met moderne verstedeliking en landbou-ontwikkeling so natuurlik as moontlik te bestuur. Namate al meer mense in stede woon, weet hulle ál minder van veldbrande en raak die risiko vir die ontstaan en verspreiding daarvan ál groter.
Hoewel die COVID-19-inperking baie bedrywe lamgelê het, verseker die organisasie, Working on Fire (WOF), dat daar in Limpopo alleen 540 brandbestryders gereed staan om brande tydens die brandseisoen, wat in dié gebied amptelik op 1 Junie begin, te help beheer.
Brandbestryding is ’n noodsaaklike diens en die organisasie se brandbestryders is gereed om die gemeenskap en boere by te staan om hul eiendom teen veldbrande te beskerm en die omgewing te bewaar. Die brandbestryders is op 25 punte deur die provinsie gestasioneer om vinnig by brandpunte te kan uitkom.
Opleiding en voorsorg ’n móét
Nicoléne Neveling, besturende direkteur van Nevaqu Fire and Rescue, sê opleiding en waaksaamheid is noodsaaklik om jou eiendom teen veldbrande te beskerm. ’n Boer kan nie wag tot ’n brand sy plaas bedreig en dan opdragte begin gee nie. Van plaaswerkers tot toesighouers moet vroegtydig opgelei word, sodat hulle presies weet wat om te doen en hoe om die toerusting te gebruik as die vlamme begin aankom.
Toerusting moet in stand gehou word asof daar elke dag ’n brand gaan uitbreek. Die personeel moet goed toegerus wees met beskermende klere en toerusting wat altyd reg is vir gebruik. Dit sal bepaal of ’n brand onder beheer gebring kan word of nie.
’n Deurdagte brandbestuursplan met ’n beheerstruktuur is noodsaaklik sodat almal weet wie gekontak moet word, watter toerusting nodig is en watter take en opdragte gedelegeer moet word. Wanneer die vlamme nader dreun is daar nie tyd om verantwoordelikhede toe te deel nie. Dit behoort reeds ingeoefen te wees tot dit feitlik tweede natuur is.
Daar moet ook brandbane wees wat skoongehou word. Boere behoort lede van ’n brandbeskermingsvereniging te wees, hul versekering moet op datum bly en die opbou van brandbare materiaal en indringerplante moet beheer word, veral in valleie. ’n Mens moet in gedagte hou dat ’n brand vinniger bergop as bergaf versprei.
Voorgeskrewe vereistes
Die meeste mense dink hulle is goed voorberei om brande te beveg en te beheer, maar daar is minimumvereistes wat deur die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) voorgeskryf word, soos aangedui in Tabel 1.
As ’n boer nie genoeg mense en toerusting het om daaraan te voldoen nie, beveel Nicoléne aan dat ’n skriftelike ooreenkoms met bure aangegaan word sodat dit gesamentlik nagekom kan word.
Tabel 1: Minimumvereistes voorgeskryf deur die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande.
Eiendomgrootte (ha) | < 10 | 11-25 | 26-100 | 101-500 | 501-1 000 | 1 001-4 000 | 4 001- 10 000 | 10 000 > |
Brandbestryders | 1 | 2 | 4 | 9 | 10/20* | 15/30* | 25/40* | 30/50* |
Spanleier/eienaar | ~ | 1 | 1 | 1 | 1 | 3 | 3 | 4 |
100% katoen-oorklere en -hemp | 1 | 3 | 5 | 10 | 11 | 18 | 28 | 34 |
Brandbestryder-handskoene | 1 | 3 | 5 | 10 | 11 | 18 | 28 | 34 |
Brandbrille | 1 | 3 | 5 | 10 | 11 | 18 | 28 | 34 |
Balaklava/Wildland-brandmasker | 1 | 3 | 5 | 10 | 11 | 18 | 28 | 34 |
Leerstewels (geen staalpunte) | 1 | 3 | 5 | 10 | 11 | 18 | 28 | 34 |
Bakkie Sakkie (min 200ℓ) | ~ | 1 | 1 | 1 | 1 | 2 | 2 | 3 |
Watertenk (min 1 000ℓ) | ~ | ~ | ~ | 1 | 1 | 2 | 2 | 3 |
Harkskoffels | ~ | 1 | 2 | 5 | 10 | 15 | 20 | 20 |
Brandslaners | 1 | 4 | 5 | 10 | 15 | 20 | 40 | 40 |
Rugsakke (min 15ℓ) | 1 | 2 | 3 | 4 | 10 | 10 | 20 | 20 |
Drupfakkel (drip torch) | ~ | ~ | ~ | 1 | 1 | 2 | 3 | 3 |
Selfoon | ~ | 1 | 1 | 1 | 1 | 1 | 1 | 1 |
Handradio | ~ | ~ | ~ | 1 | 2 | 4 | 4 | 5 |
Mobiele radio | ~ | ~ | 1 | 1 | 1 | 2 | 2 | 2 |
Noodhulpkassie | ~ | 1 | 1 | 1 | 2 | 2 | 5 | 5 |
Doeltreffende brandbane
Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande vereis dat elke grondeienaar in ’n gebied waar veldbrande kan uitbreek, brandbane moet maak. So ’n brandbaan moet breed genoeg en vry van brandbare materiaal wees om te verseker dat die vlamme nie daaroor kan spring nie.
’n Brandbaan hoef nie noodwendig gebrand te wees nie. Dit kan bestaande paaie op die plaas wees wat gereeld en breed genoeg opgeskraap is. Die bane kan met ’n ploeg, skotteleg of tandimplement gemaak word deur die brandbare materiaal in die grond in te werk, of die plantegroei kan in die somermaande met ’n chemiese onkruiddoder gespuit en verwyder word.
Indien die bane gebrand word, moet aangrensende bure minstens 14 dae vooraf skriftelik in kennis gestel word. Dit is ook raadsaam om die plaaslike brandbeskermingsvereniging en/of boerevereniging in kennis te stel en aansoek te doen vir ’n brandpermit.
Waar plase aan mekaar grens, moet al die grondeienaars of hul verteenwoordigers teenwoordig wees en dié wat nie self brand nie, moet genoeg mense aan hul kant van die heining hê om te verseker dat die brand nie daarheen versprei nie. Alle brandbane moet deeglik onderhou word om die verspreiding van ’n brand te beheer.
Die algemene aanbeveling is dat brandbane aan die einde van die groen seisoen gemaak word en dat die weer, klimaat, terrein en toestand van die plantegroei (brandbare materiaal) in ag geneem word om te bepaal wanneer dit geskik is om dit te doen.
Waak teen wegholbrande
Dit is baie moeilik om ’n brand in sterk wind te beheer, al is daar genoeg brandslaners en brandbestrydingstoerusting. Wanneer daar groot hoeveelhede brandstof op die grond is, is die vuur geneig om lugstrome te veroorsaak wat bykans dieselfde uitwerking het as ’n dwarrelwind en dit kan die brand vinnig laat versprei. Waak daarteen dat die voorsorgmaatreël om ’n brandbaan te skep, nie in ’n wegholbrand ontaard waarin mense en diere kan omkom nie.
Brandbane behoort minstens 5m wyd te wees. Die goue reël is egter eerder te wyd as te smal. Waar die gras en ander brandbare plante ruig en hoog is, moet dit minstens 20m wees. Die wet vereis dat dit breed en lank genoeg moet wees dat daar ’n redelike kans is dat dit die verspreiding van brande sal keer.
Op plase waar daar vee is, moet kaal plekke voortydig geïdentifiseer word waarheen vee gebring kan word om hulle teen die brand te beskerm. Indien die brand die pad daarheen versper, moet die mense weet wat die alternatiewe planne is.
Die gebruik van voorbrande
Wanneer ’n wegholbrand ’n plaas bedreig, kan voorbrande gemaak word waar ’n klein brand gestig word om in die rigting van die aankomende vlamme te brand. Dit kan uitstekend werk, mits dit vroeg genoeg gemaak word om ’n brandbaan teen die aankomende brand te vorm.
Dieselfde sorg moet egter geneem word dat die voorbrand nie self in ’n wegholbrand ontaard nie. ’n Mens moet ook voortdurend seker maak dat die brand agter jou deeglik geblus is. Stompe en kole wat smeul, kan nuwe brande laat ontstaan.
Brande kan ook gebruik word om oortollige ou materiaal (suurveldweidings) te verwyder. Die impak van beplande of wegholveldbrande op weiding word egter dikwels onderskat. Prof Hennie Snyman van die Universiteit van die Vrystaat, sê dit is veral in die droër dele waar die negatiewe invloed op die produksie van weiveld eers ’n jaar of twee later gevoel word.
Boere moet daarna streef om gebrande weiveld so gou as moontlik weer optimaal te laat funksioneer. In die eerste seisoen ná die brand, moet die veld kans kry om heeltemal uit te groei voor dit weer bewei word.
Gebrande veld verwelk ook met die geringste vogspanning, nog lank voordat daar sprake van ’n werklike droogte is. Dit is omdat daar ’n groot afname in die wortelmassa en -produksie van die plante is. Weiveld in droë gebiede produseer tydens die eerste groeiseisoen ná ’n veldbrand die helfte minder gras as ’n soortgelyke weiveld wat nie gebrand is nie.
Vir meer inligting, kontak Nicoléne Neveling by 072 840 0205 of nicolene@nevaqu.co.za.
– Andries Gouws, Veeplaas