Estimated reading time: 7 minutes
- Oor tyd het ’n mark vir turksvyblaaie as plantmateriaal egter ontwikkel, wat toe hulle hooffokus geword het.
- Hulle het hierdie blaaie toenemend in ons veeboerdery begin benut.
- In ’n volwasse boord met ’n stand van 1 000 plante/ha, is dit baie moontlik om rondom 100 ton nat materiaal per jaar beskikbaar te hê.
- Turksvye is hoofsaaklik ’n bron van energie met ’n lae ruproteïeninhoud.
- Ten spyte van hierdie vereiste bestuursinsette, glo Dewald dat turksvye ver onderskat word wat betref die rol wat dit in ’n gemengde boerdery kan speel.
Die oorspronklike mikpunt met die drie Van der Berg-broers van Witkraal-boerdery by Petrusburg se turksvy-aanplantings, was om turksvy-olie te maak en die turksvye ook as noodveevoer te benut. Oor tyd het ’n mark vir turksvyblaaie as plantmateriaal egter ontwikkel, wat toe hulle hooffokus geword het. Dit het meegebring dat Dewald, Rudolf en Christof ’n hele reeks kultivars gevestig het om in ’n wye vraag te voorsien.
“Hoe meer hektare ons onder turksvye gevestig het,” sê Dewald, “hoe meer blaaie het beskikbaar geraak omdat ons gereeld moet snoei. Ons het hierdie blaaie toenemend in ons veeboerdery begin benut. Dit is hoe ons al hoe meer onder die indruk gekom het van die rol wat turksvye in ’n voervloeiprogram kan speel.”
Hy sê hulle kry so twee keer per jaar ’n uitbreking van turksvymot, wat vereis dat alle aangetaste blaaie afgesny en uit die boord verwyder moet word. In die proses kom tonne plantmateriaal af, wat as veevoer gebruik word.
Die vrugtemark
Intussen het die broers op vrugteproduksie ook begin fokus, en lewer onder andere vrugte aan Freshmark. Dit het veroorsaak dat nog meer blaaie afgesny word om die bome skoon en in die regte vorm te hou.
“Ons het nou altesaam 120ha onder turksvye, waarvan die helfte nou twee jaar oud is. Oor ’n jaar sal ons dus in ’n posisie wees om van die blokke te begin bewei. ’n Blok moet skoongevreet word en dan vir twee jaar rus om te herstel. Die idee is om die turksvye in die sogenaamde maermaakmaande te benut, om daardie voertekort wat tipies in die vroeë lente voorkom, te oorbrug.”
Afgesien hiervan word die boorde van ongeveer Februarie af gesteriliseer, deur van die blaaie wat met turksvymot besmet is af te haal en oorryp vrugte af te pluk. Dan word die boorde wat vir vrugteproduksie geoormerk is, in die winter gesnoei. Dit veroorsaak dat daar eintlik vir die grootste deel van die jaar honderde tonne blaaie en soms vrugte vir veevoer beskikbaar is.
Voer vir vee
“In ’n volwasse boord met ’n stand van 1 000 plante/ha, is dit baie moontlik om rondom 100 ton nat materiaal per jaar beskikbaar te hê. Dit beteken rondom tien ton droëmateriaal (DM)/ha, wat jou sowat 660 weidingsdae/ha, of dan ongeveer twee grootvee-eenhede (GVE)/ha gee.”
Dit is egter belangrik dat die vee nie net die turksvyblaaie moet vreet nie, waarsku Dewald. Hulle het ’n ander bron van rumateriaal ook nodig. As die boorde bewei word, dien die natuurlike veld in die boorde tussen die rye hierdie doel tot ’n mate.
“Een van die wonderlike voordele van turksvye as veevoer is dat daar nie ’n gegewe snytyd is nie. Ek is nie bewus van enige ander voer wat net so op die land gehou kan word, sonder dat jy gehalteverliese het nie. Turksvyblaaie is 365 dae van die jaar vars en gereed om gevreet te word. Jy hoef dit nie te baal en iewers op te berg nie. As jy die blaaie moet afsny, en jy pak dit mooi in die koelte, bly dit vir ’n hele paar maande ongeskonde en smaaklik. Selfs al begin dit vog verloor en verdroog, bly dit steeds smaaklik en eetbaar.”
Goeie voedingswaarde
Turksvye is hoofsaaklik ’n bron van energie met ’n lae ruproteïeninhoud, sê hy. Turksvye wat bemes word, se ruproteïeninhoud verhoog tot ongeveer 8% op ’n droë basis. Turksvye is dus ’n waardevolle onderhoudsrantsoen.
Turksvye wat spesifiek vir voer aangeplant en behoorlik bemes is, se tipiese voedingswaarde sal min of meer soos volg lyk:
- DM: 9 tot 10%.
- Proteïen op ’n droë basis: 8%.
- Energie op ’n droë basis: 6,6MJ/kg (vergelyk met mielies wat sowat 12 tot 13MJ/kg bevat).
- Ruvesel op ’n droë basis: 15%.
“As skape se rantsoen ’n groot persentasie turksvye bevat,” verduidelik Dewald, “is hul mis baie nat en kan dit voorkom asof die diere diarree het. Navorsing het egter getoon dat die slymgom in die blaaie vir die nat mis verantwoordelik is.
“Slymgom word nie in die verteringstelsel afgebreek nie en bind die water sodanig dat dit nie uit die dermkanaal geabsorbeer kan word om die tipiese droë skaapmis te vorm nie. Hierdie nat skaapmis stink nie soos tipiese diarree nie, wat daarop dui dat dit nie deur patogene of ’n wanfunksie van die verteringstelsel veroorsaak is nie.”
Vee se prestasie
Dit is nog te vroeg vir werklik objektiewe syfers ten opsigte van veeprestasie. Dewald glo egter dat die turksvye ’n noemenswaardige rol kan speel om die drakrag van die plaas te verhoog. “Ons hawer het byvoorbeeld vroeg in Julie opgeraak, en ons voer die sowat 200 ooie met lammers sedertdien net turksvyblaaie, met ‘n klein bietjie kaf en sjokolademielies. Hul kondisie is uitstekend.
“Ek het nog nie syfers om die lammers se groei te meet nie, maar aangesien ek andersins diep in die moeilikheid sou gewees het, weet ek dit werk vir my. As ek nie die turksvye gehad het nie, sou dit my ten minste ’n rand per ooi per dag ekstra gekos het aan sjokolademielies as die ooie moes teruggaan veld toe.”
Turksvye, waarsku hy egter, is nie ’n wondergewas nie. As voerbron het dit beperkings en dit verg definitief spesifieke bestuursinsette. Aanplantings moet byvoorbeeld goed omhein wees – vee en wild soos koedoes, duikers en steenbokke kan ’n nuwe aanplanting in een aand verwoes. As alternatief moet die produsent bereid wees om ontslae te raak van probleemdiere. As die plante ouer as twee jaar is, is die skade wat kleiner bokkies soos steenbokke en duikers aanrig egter minimaal.
Sonder jaarlikse bemesting kan die plant nie naastenby sy produksiepotensiaal bereik nie en boet die produsent ’n baie groot persentasie produksie in. Die plant sal in die winter geel word weens ’n tekort aan stikstof en baie meer vatbaar wees vir rypskade. Stikstof het voorts ’n baie voordelige invloed op die ruproteïeninhoud van die blaaie.
Besproeiing verbeter produksie
Besproeiing is nie oral van toepassing nie, maar in dele waar die reënval onder 300mm per jaar is, word dit aanbeveel met die oog op voldoende produksie.
Gereelde boordinspeksies, minstens een of selfs meer kere per maand deur goed-opgeleide werkers, is noodsaaklik om te kyk vir enige tekens van cocheniel en cactoblastis. Cocheniel moet net daar op die blaaie gedood word. Blaaie wat tekens toon van cactoblastis-besmetting moet onmiddellik afgesny en vir skape of beeste gevoer word. Dit is uiters belangrik om die afgesnyde materiaal dadelik uit die boord te verwyder.
Indien rypskade voorkom, moet alle blaaie wat tekens van rypskade en gevolglike vrot wys, summier afgesny en aan vee gevoer word. Dit is weereens uiters belangrik om die materiaal wat afgesny is, dadelik uit die boord te verwyder.
Enige voornemende produsent moet besef dat ’n boord turksvye met dieselfde aandag en deeglikheid as enige ander boord of aanplanting hanteer moet word. Hoewel die plant selfs in ’n groot deel van die droër gebiede van Suid-Afrika sonder besproeiing geplant kan word, het die boorde steeds versorging nodig en moet dit jaarliks soos enige ander boord bemes, gesnoei en skoon van siektes gehou word.
Ten spyte van hierdie vereiste bestuursinsette, glo Dewald dat turksvye ver onderskat word wat betref die rol wat dit in ’n gemengde boerdery kan speel. Hy sê vir elke hektaar turksvye wat hy plant, kan hy twee ekstra beeste aanhou.
Vir meer inligting, skakel Dewald van der Berg by 072 576 9828. – Izak Hofmeyr, Plaas Media