Wednesday, October 16, 2024

Trigomoniase: As jy nie toets nie, sal jy nie weet nie

Estimated reading time: 4 minutes

  • Trigomoniase is die algemeenste geslagsoorgedraagde siekte ter wêreld by ekstensiewe beesboerderye wat natuurlike dekking gebruik.
  • Bulle van alle rasse is vatbaar vir die infeksie en permanent-besmette bulle is die hoofbron van besmetting.
  • Trigomoniase bring aansienlike winsverliese mee, waaronder minder kalwers ná besmetting en verhoogde siektebeheerkostes.
  • Die belangrikste beginsel by die beheer van trigomoniase is die jaarlikse toets van bulle deur die veearts voor die teelseisoen begin.
  • ’n Geslote kudde is die antwoord op siektevrye diere, met die aanbeveling om slegs skoon, getoetste bulle met ’n teelgeskiktheidsertifikaat aan te koop

Trigomoniase is die algemeenste geslagsoorgedraagde siekte ter wêreld by ekstensiewe beesboerderye wat natuurlike dekking gebruik. In Suid-Afrika is die endemiese siekte die eerste keer in 1937 gediagnoseer en sedertdien kring dit al hoe verder uit. Dit kom veral in die sentrale deel van die land voor, wat ooreenstem met die gebiede met die meeste groot kommersiële vleisbeeskuddes.

Trigomoniase word deur ’n protosoön, Tritrichomonas foetus, veroorsaak deurdat die parasiet die slymvlies van voortplantingsorgane parasiteer. Dit word net deur natuurlike dekking van die bul na koeie of verse oorgedra. Kunsmatige inseminasie kan gebruik word om oordrag te beperk, mits die semen afkomstig is van bulle wat nie die siekte onder lede het nie. Dit is waarom die siekte baie min in die melkbeesbedryf voorkom.

Ouer bulle as draers

Bulle van alle rasse is vatbaar vir die infeksie en permanent-besmette bulle is die hoofbron van besmetting. Bulle jonger as vier jaar wat besmet word kan nog tot ’n mate ’n infeksie oorkom, maar in ouer bulle is die besmetting gewoonlik lewenslank en sonder sigbare kliniese tekens. Hierdie ouer bulle is dus meestal die draers van die siekte.

Oordrag vind net plaas wanneer ’n besmette bul ’n koei/vers op staande hitte dek. Die organisme groei dan op die slymvlies van die baarmoeder en het ’n negatiewe uitwerking op die inplanting van die embrio, asook vroeë afsterwe en resorpsie van die fetus. Dit gee soms ook aanleiding tot aborsie in die latere stadium van dragtigheid.

Koeie wat die infeksie opgedoen het en na blootstelling immuniteit ontwikkel, kan hulself in sekere gevalle ná verlies van die fetus weer ‘skoonmaak’ om weer dragtig te raak. In ’n kleiner persentasie van koeie waar die fetus afgesterf het, word die fetus nie volledig geresorbeer nie en ’n toestand bekend as piometra (etteraansameling in die baarmoeder) kan ontstaan.

Trigomoniase bring aansienlike winsverliese mee, waaronder:

  • Minder kalwers ná besmetting as gevolg van vroeë embrionale afsterwe en aborsies.
  • Slag van positief-getoetste bulle met ‘n gevolglike slagwaarde wat laer is as die genetiese waarde.
  • Minder vervangingsverse wat beteken dragtige vervangingsverse of koeie moet ingekoop word.
  • Verlies aan rente weens laat kalwing in kronies-besmette kuddes.
  • Siektebeheerkostes wat die totale siektebeheeruitgawes van die kudde aansienlik verhoog.
  • Bemarkingsverliese weens ’n uitgerekte kalfseisoen.

Beheer van trigomoniase

Die belangrikste beginsel by die beheer van trigomoniase is die jaarlikse toets van bulle deur die veearts voor die teelseisoen begin. In ’n geslote kudde met ’n baie hoë dragtigheidspersentasie kan die toetse tweejaarliks gedoen word. Al die bulle in ‘n kudde wat vir teeldoeleindes gebruik word moet getoets word, veral stoetbulle.

Die kudde moet eerstens vry wees van die siekte voordat bulle voor verkoop, as ’n groep getoets word. Sou een of meer bulle positief toets, is dit noodsaaklik om met die veearts saam te werk om die siekte so vinnig as moontlik in die kudde uit te roei.

Algemene vrae oor die proses in ’n besmette kudde, sluit in:

  • Is dit ’n stoetkudde wat manlike en vroulike teeldiere verkoop, of ’n kommersiële vleisbeeskudde wat speenkalwers aan die voerkraal verkoop?
  • Hoe groot is die kudde? Hoeveel koei- of versgroepe is daar? Word op meer as een plaas geboer?
  • Kan die koeikuddes in ‘skoon’ en ‘besmette troppe’ verdeel word?
  • Kan kunsmatige inseminasie gebruik word?
  • Is jong kommersiële bulle beskikbaar vir dekking in die ‘besmette’ troppe?
  • Moet ’n entstof in verstroppe oorweeg word?

Hierdie uitroeiplan moet in samewerking met ’n veearts opgestel en deurlopend toegepas word, totdat die kudde ná ’n jaar of twee jaar weer vry van die siekte toets.

’n Geslote kudde is die antwoord op siektevrye diere:

  • Hou grensdrade in ’n goeie toestand.
  • Raak ontslae van bulle en koeie wat draadspring.
  • Koop slegs skoon, getoetste bulle met ’n teelgeskiktheidsertifikaat wat deur ’n veearts uitgereik is.
  • Toets bulle weer voor gebruik, al is hulle uit ’n gesertifiseerde negatiewe kudde ingebring.
  • Hou enige bul wat die plaas verlaat en terugkom, in kwarantyn totdat hy getoets en skoon bevind is.
  • Plaas vreemde bulle en koeie op die plaas in kwarantyn en toets hulle.
  • Toets bulle vir trigomoniase voordat semen getap word.
  • Gebruik ’n beperkte teelseisoen van maksimum drie maande.
  • Indien meer as 2% aborsies of skielike aborsies voorkom, moet ‘n ondersoek gedoen word om trigomoniase uit te skakel.
  • ’n Entstof wat geïnaktiveerde T. foetus-organismes bevat, is beskikbaar.

Vir meer inligting, kontak jou plaaslike kuddeveearts. – Carin Venter, Plaas Media

Verantwoordelike versorging van melkkalwers

Estimated reading time: 7 minutes Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en...

Cattle selection decisions based on objectives, resources and environment

Estimated reading time: 9 minutes Genetics are a crucial aspect of the livestock industry, influencing...

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...

Boosting communal sheep production

Estimated reading time: 8 minutes The National Wool Growers’ Association (NWGA) has significantly increased wool...