Thursday, September 19, 2024

TLU SA streef na beter landbou-omgewing

Estimated reading time: 7 minutes

Tegnologie, saamstaan en regeringsamewerking is die bene waarop ’n vooruitstrewende landbou-omgewing gebou sal word.

Dit het aan die lig gekom tydens die TLU SA se kongres wat vroeër die maand in Pretoria plaasgevind het. En ten spyte van enorme uitdagings, is produsente tog versigtig optimisties oor die toekoms, het Henry Geldenhuys, herkose TLU SA President, gesê.

’n Groot rede vir dié positiwiteit rus op die skouers van die nuwe minister van landbou, John Steenhuisen, en die oop deur wat die landbou-organisasie deesdae beleef wanneer hulle by die Departement van Landbou aanklop. 

Luister na onderhoude met die TLU SA-kongres sprekers op RSG Landbou hier.

Politiek

Minister Steenhuisen het ’n virtuele groeteboodskap gestuur waarin hy by die boere om samewerking tussen primêre landbou en die staat gepleit het. “Dit sal die sektor laat groei en tot werkskepping lei.”

Steenhuisen, wat ten tyde van die kongres op ’n staatsbesoek in China was, het gesê produsente bly noodsaaklik vir voedselsekerheid en benadruk dat Suid-Afrika boere elke dag, drie keer per dag, nodig het. “Julle kan verseker wees dat hierdie minister agter, saam en met jou is in die pogings om die sektor te laat groei.”   

Roland Henwood, ’n politieke kenner verbonde aan Unisa, het benadruk dat produsente nie voortdurend in die verlede moet leef nie, maar eerder na die toekoms moet kyk. “Nes ’n saaiboer vir die toekoms plant en veeboere ook vir die toekoms boer, moet politiek toekomsgerig wees.”

Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA, en Willie Clack, kriminele navorser verbonde aan Unisa.
Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA, en Willie Clack, kriminele navorser verbonde aan Unisa.

Henwood het die Suid-Afrikaanse politieke omgewing van 1994 en 2024 ontleed en ook ’n bietjie gekyk na hoe die pad na 2029 kan uitspeel. “In Suid-Afrika kyk ons te veel terug, eerder as om vorentoe te kyk. Dit is belangrik om terug te kyk, maar ons kan nie gevangenes van ons verlede word nie. Dit maak dit onmoontlik om vorentoe te beweeg.”

Dis belangrik om te besef dat die volgende vyf jaar moeilik gaan wees, omdat binnegevegte in die ANC steeds voortwoed, terwyl opposisiepartye ál meer lyk asof hulle stagneer en fragmenteer. “Die probleem met baie van ons opposisiepartye is dat dit deur persoonlikhede aangedryf word,” sê Henwood en voeg by dat die bestaan van die Regering van Nasionale Eenheid waarskynlik van korte duur gaan wees.

“Die groot vraag is nou: Gaan ons ’n tydperk van politieke samewerking en gematigheid of ’n tyd van radikalisme en geweld binne?” Om stabiliteit te bewerkstellig, is dit belangrik dat die regering se onvermoë en/of onwilligheid om te regeer moet verander. Om dit reg te kry, is die regte, realistiese en toepaslike beleide nodig.

Grondhervorming

Hans-Jurie Moolman, direkteur van Moolman & Pienaar Ingelyf, sê dis ’n illusie om te dink dat die sloerdery om Suid-Afrika se oorblywende 6 000 grondeise afgehandel te kry die skuld van produsente, howe of die regstelsel is. Die tydsame proses moet heelhartig voor die deur van die staat gelê word.

Ongelukkig hou ’n klein groepie ekstremistiese politieke spelers die proses gyselaar, terwyl dit in landsbelang is dat die saak so spoedig moontlik afgehandel word.

Moolman sê die vryemarkmodel funksioneer wel fantasties en daar is drie maniere hoe grondeise tot op hede suksesvol afgehandel is. Die oorspronklike stuk grond kan aan eisers teruggegee word, eisers kan finansieel vergoed word vir die grond wat hulle verloor het, of hulle kan ’n alternatiewe stuk staatsgrond verkry.

“Die onafgehandelde eise word verskillend deur die onderskeie rolspelers gesien en veroorsaak geweldig ongemak,” sê Moolman. Terwyl die staat dit as ’n ongerieflike politieke speelbal sien, is grondeisers gefrustreerd omdat die saak sloer. Huidige grondeienaars, wie se grond onder eis is, is onseker oor hoe hulle hul grond intussen moet hanteer.

Omgewingsrampe

Geldenhuys sê die staat se rampkomitee moet beter gerat wees om produsente, wat aan natuurrampe blootgestel was, by te staan. “Die staat behoort om strategiese redes in tye van rampe baie meer effektief die nodige ondersteuning te gee om produksie van voedsel in stand te hou. Dit gaan nie daaroor dat boere voorkeurbehandeling moet kry nie, maar wel strategiese ondersteuning om Suid-Afrika se kosmandjie in stand te hou.”

Finansiële instellings is versoek om meer begrip te openbaar en alles moontlik te doen om die boere te help om hul krisisse te oorbrug. Produsente moet egter op hul beurt betyds uitreik na die banke indien kontantvloeiprobleme opduik, het Geldenhuys bygevoeg.

TLU SA is in gesprek met verskeie landbou-organisasies en die regering om te kyk of daar nie moontlik insetkosteversekering met die nodige regeringsondersteuning daargestel kan word nie.

Henk van der Graaf, uittredende ondervoorsitter van TLU Limpopo en Louis Meintjies, oudpresident van TLU SA.
Henk van der Graaf, uittredende ondervoorsitter van TLU Limpopo en Louis Meintjies, oudpresident van TLU SA.

Veiligheidskwessies

Ronnie Schilling, TLU SA se verteenwoordiger in die Oos-streek, het produsente aangemoedig om leiding by hul plaaslike plaas- en buurtwagte te neem, omdat dit die sleutel tot sukses van die Landelike Veiligheidsplan is. Hoewel die plan gebreke het, is dit tans die enigste plan, en die strategie moet daarom van papier tot aksie oorgaan. “Op die oomblik sit die meeste produsente agteroor en kyk hoe ons land se misdaad vererger. Dit kan nie só aangaan nie.”

Ná meer as 40 jaar in die polisiediens het Schilling self beleef hoeveel sterker ’n polisiestasie is wanneer dit die ondersteuning van die inwoners van daardie distrik het. ’n Stasiebevelvoerder, wat goeie verhoudinge met die omgewing se boere gehad het, het by geleentheid gesê dat hy niks sonder sy boere sou kon doen nie. Dit is die tipe vertrouensverhouding wat tussen boere en die polisie behoort te wees, eerder as die wantroue wat dikwels die realiteit is.

“Die onus rus op die staat om die veiligheid van al ons landsburgers te verseker, maar daar is ook groeiende konsensus dat ons regering dit nie alleen kan doen nie,” sê Schilling. “Daar is 2,75 privaat sekuriteitsbeamptes vir elke lid van die polisie. Daarom moet die staat en privaatsektor saamwerk, omdat dit tot groter sukses kan lei.”

Susan Marais, senior joernalis van Plaas Media, en Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.
Susan Marais, senior joernalis van Plaas Media, en Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.

Tegnologie

Nico Groenewald, voormalige landbouhoof van Standard Bank, het oor die geleenthede en uitdagings van tegnologie gepraat.

Terwyl Suid-Afrika se huidige mielie-oesskatting in die omgewing van 17 miljoen ton staan, word 35 miljoen ton se mielies jaarliks in China vermors. “As tegnologie net kan help om probleme uit die stelsel te verwyder, sal dit reeds ’n ongelooflike impak op die planeet kan hê. Dis veral belangrik dat ons jong mense by die prosesse moet betrek.”

Wêreldwyd het produsente aangedui dat hulle binne die volgende twee jaar hul gebruik van tegnologie met 39% wil verbeter. Europa en Noord-Amerika ry die kruin van dié golf met planne om onderskeidelik 62% en 61% meer tegnologie in te span, terwyl Suid-Amerikaanse produsente 50% meer tegnologie wil gebruik. Asië is egter nie te ywerig om meer tegnologie in te span nie en daar gaan die gebruik van tegnologie waarskynlik slegs met 9% toeneem.

Die meeste produsente – insluitend Europa en Noord-Amerika ­– beoog om veral in landboubestuursprogramme te belê, terwyl Suid-Amerika meer in tegnologie, wat afstandwaarneming moontlik maak, wil belê. Asië se boere stel weer meer in robotika belang.

Die hoë koste van tegnologie en die gelyklopende onsekerheid oor wat die werklike opbrengs op dié beleggings sal wees, is van die struikelblokke wat produsente weerhou om daarin te belê. – Susan Marais, Plaas Media

Sustainable farming – finding the sweet spot

Estimated reading time: 7 minutes Horizontal expansion in farming is becoming increasingly difficult in SA...

Voorbereiding vir ’n dissiplinêre verhoor

Estimated reading time: 4 minutes Werkgewers moet seker maak wat van hulle verwag word voor...

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg...

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en...