Estimated reading time: 4 minutes

Die voorkoms en omvang van probleme wat deur bloubosluise veroorsaak word, neem tans ongekende afmetings aan. Verskeie faktore dra hiertoe by, waaronder warmer toestande in sekere gebiede in die voorafgaande winter, veranderde reënvalpatrone en bloubosluisweerstand teen algemene dipstowwe.

As bloubosluise nie doeltreffend in die lente beheer word nie, kan dit tot ’n ontploffing in bloubosluisbevolkings in die somer lei, met ’n groter risiko van bosluisoorgedraagde siektes. In Figuur 1 word gevalle van geen bosluisbeheer vergelyk met gevalle waar doeltreffende beheer toegepas word.

Die basiese beginsels

Bloubosluise (Rhipicephalus decoloratus en Rhipicephalus microplus) is eengasheerbosluise wat hoofsaaklik op beeste voed. Dit neem minstens 21 dae vandat die bosluislarf op die bees klim, totdat dit as volgesuigde wyfie afval. Elke wyfie produseer dan ongeveer 2 500 eiers wat uitbroei. Onder gunstige omstandighede kan die volgende generasie larwes dan weer binne 30 dae op die weiding wees.

Onvolwasse bosluise, wat nie normaalweg gesien kan word nie, is hoofsaaklik verantwoordelik vir die oordrag van rooiwater (babesiose) en tot ’n mindere mate bosluisgalsiekte (anaplasmose). Beheermetodes en -middels wat keer dat volgesuigde bloubosluiswyfies afval en lewensvatbare eiers produseer, moet dus proaktief aan die begin van die somer gebruik word.

Jaarlikse siklus

In die winter oorleef min larwes op die weiding. Aan die einde van die winter bereik volwasse bloubosluisgetalle gewoonlik ’n laagtepunt, veral as dit ’n koue winter was. Bloubosluisbevolkings oorleef die winter hoofsaaklik deurdat eiers wat in die herfs geproduseer is, weens ongunstige omgewingstoestande (lae temperature) nie in daardie stadium uitgebroei het nie.

Eiers wat in die herfs geproduseer is, oorleef die winter maklik en word nie eens deur veldbrande vernietig nie. Hierdie eiers sal dan aan die begin van die lente, sodra dit reën en die temperature styg, uitbroei, en as eerstegenerasie larwes op die weiding die beeste besmet sodra hulle in die geaffekteerde kamp kom.

Onthou dat ’n nuwe besmetting telkens op die beeste wag as hulle na ’n nuwe kamp geskuif word.

Strategiese, proaktiewe beheer

In die lente word daar nie groot getalle volgesuigde bloubosluiswyfies op die beeste waargeneem nie (sien Figuur 1). Beesprodusente dip dus baie min of glad nie in die lente nie.

Indien die beginsel toegepas word om die beeste in die lente te gebruik om die eerstegenerasie bloubosluislarwes op te tel, en die beeste dan te dip voordat die volgesuigde wyfies afval, sal dit ’n betekenisvolle vermindering in bosluisgetalle in die somer en herfs tot gevolg hê (Figuur 1). Hierdie verlaging is slegs van toepassing op kampe waar eerstegenerasie bloubosluise in die lente doeltreffend beheer is.

Normaalweg is die aanbeveling dat dipmiddels met ’n maksimum interval van 21 dae gebruik word in die lente, totdat die beeste deur al die kampe beweeg het.

Beheer met avermektiene

Die gebruik van een van die avermektiene – doramektien, ivermektien of moksidektien – as strategiese lentebehandeling, word aanbeveel vir die somer waar ’n hoër as normale aantal bloubosluise voorkom.

Sodra gemiddeld tien volwasse bloubosluiswyfies per bees waargeneem word, moet al die beeste aan die begin van die lente met avermektien behandel word. Hoewel weerstand van bloubosluise teen avermektien al aangemeld is, werk dit meestal steeds doeltreffend.

Afhangend van die avermektien gebruik, sal daar vir ‘n tydperk van so kort as 14 dae tot amper 100 dae, geen bloubosluiswyfies afval om ‘n volgende generasie te produseer nie. Vir optimale resultate kan een van die avermektiene herhaal word om beskerming te verleen in die grootse deel van die lente, wanneer die beeste blootgestel word aan nuwe eerstegenerasie besmetting soos hulle van kampe verwissel.

Die gebruik van twee behandelings in die lente, met ’n interval van 35 dae, is die doeltreffendste metode wanneer ’n ontploffing in bloubosluisgetalle in die voorafgaande somer en herfs voorgekom het.

Strategiese behandeling het ten doel om soveel as moontlik van die nageslag wat gedurende die voorafgaande somer en herfs geproduseer is, uit te wis, en binne een seisoen weer in beheer te kom van die bosluispopulasie op ‘n spesifieke plaas.

Vir meer inligting, kontak dr Chris van Dijk by epos dairyvetza@outlook.com.

,hartwater, Dorpers, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom