Só lyk 2024 se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-finaliste

Estimated reading time: 8 minutes

  • Die 2024 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek finaliste is aangekondig.
  • “Hierdie is nie ’n 100-meter wedloop nie. Dis dalk eerder ‘n 100-jaar wedren.” Só beskou Charl Saunderson, eienaar van die Nooitgedacht Dorperstoet en ’n produsent van Kenhardt in die Noord-Kaap, sy klimaatsreis.
  • Droogtes is nie die enigste klimaatsuitdaging wat Suid-Afrikaanse produsente die hoof moet bied nie. Daarvan kan Hendrik Odendaal, wat al 42 jaar op die oewer van die Vaalrivier in die Standerton-distrik boer, getuig.
  • ’n Natuurbewaarder. Dít is die kern van wie Paul Collett is. Sy bewaringsboerderypraktyke bou voort op die goeie strukturele herstelwerk wat sy pa, David Collett, oor sy leeftyd van 42 jaar op hul Karooplaas gedoen het.
  • Die wenner in vanjaar se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek sal hierdie maand aangekondig word.

Om klimaatslim te boer, beteken nie dat ’n produsent die klimaat getem het nie, maar eerder dat hy geleer het hoe om klimaatsverandering se springgety en dooiegety só te bestuur dat die verwoestende invloed daarvan minimaal sal wees. Dít is die een ding wat vanjaar se uiteenlopende finaliste in die 2024 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek in gemeen het.

Charl Saunderson, Kenhardt (Noord-Kaap)

“Hierdie is nie ’n 100-meter wedloop nie. Dis dalk eerder ‘n 100-jaar wedren.” Só beskou Charl Saunderson, eienaar van die Nooitgedacht Dorperstoet en ’n produsent van Kenhardt in die Noord-Kaap, sy klimaatsreis. Dit kan ook as ’n afloswedloop beskou word, want hy boer vandag op die goeie grond wat sy pa, oupa en oupagrootjie vir hom nagelaat het en hy is reeds besig om dit vir sy kinders en kleinkinders se oorname voor te berei.

“Ek het die voorreg gehad om ’n gehalteboer vir ’n pa te hê,” vertel hy tydens Veeplaas se plaasbesoek. “My pa het bykans ’n halfeeu gelede reeds begin om die prosopisbome op die plaas te verwyder. Dié werk duur voort. Ons haal steeds jaarliks tussen vyf en 100 prosopisse uit. Die groot verskil is dat die dikste van dié indringers nou ’n duim dik is.”

Nadat die bome uitgehaal is, het die Saundersons op veldhervestiging begin fokus. “Dis belangrik om te weet dit gaan nie oor hoeveel reën ’n plaas kry nie, maar hoeveel reën die plaas kan behou.” Mettertyd het hy agtergekom dat klimaatslim boerdery nie net oor veldbestuur gaan nie, maar ook oor grondbestuur. Daarom het hy begin om op groot skaal mis in die grond in te werk.

“Deesdae word alle dooie goed op die plaas in ’n dam gegooi. Ná so twee of drie jaar word die dam dan skoongebrand en die bene word fyngemaal. Daardie as en beenmeel gooi ons dan saam met kraalmis in ons ploegvore.”

Lees meer oor die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek hier.

Gewoond-raak aan droogtes

Die Boesmanland is vir bykans ’n dekade deur droogte geteister en Saunderson sê juis die tydsduur daarvan was uitmergelend. “In hierdie geweste moet ’n mens maar droogtefiks raak – want droogtes is ’n gegewe, maar jy moet jou kop regkry. Droogte hoort in die grond, nie in jou kop nie. As ’n droogte eers tussen jou ore ingekruip het, het jy ’n groot probleem.”

Selfs te midde van die droogte het hy steeds klimaatslim planne gemaak. Hy het die geleentheid aangegryp om jaarliks tien ton kameeldoringpeule vir sy skape te voer. “Die idee was dat die pitte deur die skaap se spysverteringstelsel beweeg en geplant word.” Die plan het gewerk en daar pryk reeds ’n paar mooi kameeldoringbome op die grond.

“Ek gaan waarskynlik nooit die volle voordeel van die kameeldoringbome kry nie, maar my kinders en kleinkinders sal dit kan beleef. Hulle sal dalk eendag self tien ton peule op die plaas kan oes. Verder het ons skaduwee gemaak, die grond afgekoel en vasgehou, erosie gestop en die grond kos gegee.”

Hendrik Odendaal, Standerton (Mpumalanga)

Droogtes is nie die enigste klimaatsuitdaging wat Suid-Afrikaanse produsente die hoof moet bied nie. Daarvan kan Hendrik Odendaal, wat al 42 jaar op die oewer van die Vaalrivier in die Standerton-distrik boer, getuig.

Die Hoëveldse grasveldplaas beleef nie net dikwels lang droogtetydperke nie, maar soms moet hulle ook te midde van oorstromings die boerdery laat vlot, omdat die Vaalrivier dikwels sy oewers oorstroom ná ’n stewige reënbui. Soms kan weivelde selfs ’n hele week onder water staan voordat die rivier weer terugtrek. Dit lei dan natuurlik tot die uitbroei van muskiete, muggies en parasiete, wat dieresiektes kan oordra.

“Klimaatskommelinge tref ons dus ook. In twee weke kry ‘n mens ongelooflike goeie geelperskereën en dan kry ons maklik vir twee maande geen reën nie. Dit het vanjaar weer gebeur,” vertel Odendaal. “So kry kontantgewasse baie seer. Weiding ook, maar die voordeel van meerjarige gewasse is dat dit herstel as die reën val.”

Standerton kry ook gereeld ryp – dit het al selfs ’n paar keer (1985) oor Desember geryp. Odendaal se seun, Hendrik jr, boer sedert 2005 saam met sy pa en is hoofsaaklik verantwoordelik vir die saaiboerdery, terwyl Odendaal sr hoofsaaklik die veekomponent behartig. Die boerdery bestaan uit ’n saaiery (hoofsaaklik mielies en sojabone), ’n kommersiële Beefmaster x Droughtmaster-kudde, en ’n kontrak-braaikuikenboerdery. ’n Fyn onderliggende wisselwerking tussen dié boerderyvertakkings vorm die basis vir die Odendaals se suksesvolle klimaatslim boerdery.

Odendaal beskou homself nie noodwendig as ‘slim’ oor klimaatsake nie. Hy glo dat hy bloot die afgelope vier dekades deurlopend die goeie weidingsbestuurstegnieke toegepas het wat hy toentertyd as weidingkunde-student geleer het.

Hy boer egter nie in die verlede of op ’n outydse manier nie. Tegnologie word goed ingespan by rekordhouding en elektriese drade hou die boerdery se sowat 1 100 koeie netjies in lyn binne die 120 kampe wat hul hoëdrukbeweidingstelsel uitmaak.   

Paul Collett, Cradock (Oos-Kaap)

’n Natuurbewaarder. Dít is die kern van wie Paul Collett is. Sy bewaringsboerderypraktyke bou voort op die goeie strukturele herstelwerk wat sy pa, David Collett, oor sy leeftyd van 42 jaar op hul Karooplaas gedoen het.

Collett se oogmerk by Speelmanskop-boerdery is om deurgaans ’n gebalanseerde omgewing te skep, want dan kan grond, gewasse, lewendehawe en mense gedy. “Om die regte praktyk toe te pas het vir my nog altyd veel meer beteken as om te doen wat die meeste geld gaan maak.”

Toe hy in 2007 by die boerdery aangesluit het, het hy aanvanklik die boerdery se besproeiingsvertakking hanteer. Een van die eerste dinge wat hy verander het, was die groot hoeveelheid chemiese en sintetiese middels wat hulle destyds in die grond gesit het.

Nadat hy navorsing gedoen het, het hy besluit om ’n aangepaste Bybelse model toe te pas. Waar die Bybel voorstel dat grond elke sewe jaar moet rus, het hy besluit om elke ses maande sy grond te laat rus. In eenvoudige terme is mielies vir ses maande van die jaar geplant en dan is agt verskillende dekgewasse weer vir ses maande geplant. Dié wisselbou vind vir vier jaar plaas en daarna word mielies weer met lusern vervang. “Ek hou daarvan om ’n dekgewasmengsel te gebruik, want dis waar maksimale koolstofverbouing plaasvind.”

Hy het dié praktyk in 2012 begin volg en sedertdien het hul opbrengs behoue gebly, die grond se koolstofinhoud het van 1% tot 3,5% gestyg, en hul chemiese behoefte het aansienlik gedaal. “Ons gebruik deesdae slegs 260kg stikstof (N)/ha/jaar op ons mielies,” sê Collett.

Neute en dekgewasse

“Sedert 2012 was ons plaas se gemiddelde mielie-oes nog nooit minder as 17 ton/ha nie en vanjaar het ons selfs ’n rekordoes van 19,2 ton/ha behaal. Ons plant steeds net ’n enkelgewas én ons gebruik nog chemiese middels én ons moet soms nog die grond bewerk, maar dit is veel minder as in die verlede.”

In 2019 het hulle ’n pekanneutboord geplant met gemengde dekgewasse tussenin. Na vyf jaar is daar steeds geen chemiese middels op die grond gebruik nie en die bome is kerngesond.

Daar wei so 70 speenkalwers en 700 skape in ‘n ultrahoëdruk (UHD)-beweidingsgebied tussen die bome. Die diere word vier keer per dag om 10:00, 12:00, 14:00 en 17:00 geskuif. “Hulle kry dus vier keer per dag vars kos.” Twee weke nadat die skape en beeste uit ’n kamp geskuif is, word vrylopende lêhenne daarheen geskuif en Collett hou ook byekorwe aan om met die biodiversiteit te help.

Ná 16 jaar het hy die besproeiingsbeen aan ’n bestuurder oorhandig en spits hom deesdae op die hernuwing van sy weiveld toe. “Dis opwindend om te sien hoe gras wat in jare nie op ons plaas gesien is nie, weer ontkiem. Ek glo daar is uiteindelik baie potensiaal om ons droëveld te verbeter. Ek wil graag hierdie potensiaal vir meer van ons boere wys.”

Collett weet waarvan hy praat. Waar sy grond se indringingstempo vyf jaar gelede (2019) 3,6mm/uur was, kan dit deesdae 50mm in 63 sekondes absorbeer. “Dis onwaar om te sê ons kan nie die weer bestuur nie. As ons reg boer, kan ons ongelooflik baie doen om reën te behou.” – Susan Marais, Veeplaas

Die wenner in vanjaar se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek sal op 12 Augustus aangekondig word. Vir meer inligting, kontak Deidré Louw by deidre@plaasmedia.co.za.

Voorbereiding vir ’n dissiplinêre verhoor

Estimated reading time: 4 minutes Werkgewers moet seker maak wat van hulle verwag word voor...

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg...

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en...

Cover crop mixes: Composition and species for summer

Estimated reading time: 7 minutes Soil health is a key objective when designing a cover...