Estimated reading time: 6 minutes
Deur die verbetering van sy kudde se genetiese produksiepotensiaal, lewer Riaan Theron van RAT Brahmane in die Koppies-distrik van die Vrystaat, ’n waardevolle bydrae tot die stoet- en kommersiële vleisbeebedryf. Die RAT in RAT Brahmane staan vir Riaan Arno Theron.
Riaan fokus op akkurate teelwaardes met behulp van Breedplan, die gevorderde evaluasiestelsel vir vleisbeeste, wat op BLUP-tegnologie gegrond is om beraamde teelwaardes van aangetekende beeste te bereken. Sy uitgangspunt is dat Brahmane op die veld grootword, gehard is, en die korrekte syfers besit.
Riaan, wat onlangs as die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) se Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar aangewys is, sê hy fokus op geboortegewig en melkwaardes, sonder om ander teeleienskappe na te laat.
Waarde vir kommersiële produsente
Sy vertrekpunt vir stoetteling is om aan produsente, wat op sy stoetbulle se positiewe eienskappe in hul eie kuddes staatmaak, gehalte diere te lewer. Dit gee weer aan hom die sekerheid dat sy stoetbulle se nageslagte ’n geskikte geboortegewig vir kalfdoeleindes en goeie melkwaardes gaan hê.
Riaan voldoen aan sy teeldoelwit om stoetbulle, wat ’n lae geboortegewig en goeie melkwaardes kan oordra, te teel. “As jy ’n bul gebruik wat té swaar kalwers gee en jy moet die koei help kalf, verloor jy óf die kalf óf die koei, of beide, wat op sy beurt ’n wesenlike impak op die produsent se jaarlikse produksie-inkomste het.”
Die melkwaarde van bulle is eweneens belangrik. “As jy ’n bul gebruik wat nie melkwaardes oordra nie, sit jy uiteindelik met ’n vroulike kudde wat swak kalwers grootmaak.” As ’n koei genoeg melk produseer, sê hy, is jy redelik verseker van ’n speenkalf met ’n hoër 200-dae gewig. Vir die kommersiële produsent is melkwaarde sekerlik een van die belangrikste eienskappe, want die speenkalf se gewig het ’n direkte invloed op sy inkomste.
Akkurate teeleienskappe
Riaan se doelwit is om Brahmane se genetiese potensiaal te verbeter deur teelwaardes te verhoog, deurdat hy materiaal identifiseer met waardes naby aan, en selfs beter as, die gepubliseerde rasgemiddelde. Uitermatige waardes word egter vermy.
Die akkuraatheid van teeleienskappe word verbeter met die deurlopende meet en weeg van teeldiere asook hul nageslag. Volgens hom is dit egter ’n lang proses en is dit daarom uiters belangrik om voortdurend diere met hoë akkuraatheidsyfers te soek, en daardie diere te gebruik.
Bestuur van die stoet
Kalwers word in die veld by hul moeders uitgegroei. Vanaf 60 dae totdat hulle gespeen word, ontvang hulle ’n kruipvoer vir groeidoeleindes. Kalfgewigte word by geboorte geneem, en met speen word beide die moeder en kalf geweeg.
Die eerste seleksie vind plaas op die dag van speen. Alle kalwers met strukturele gebreke soos geknypte borsvloere, skewe bekke, swaar naelvelle, voetfoute en regop hakke word uitgeskot. “As ’n kalf se groei swak vergelyk met dié van sy kontemporêre groep, word die moeder saam met die kalf uitgeskot. Alle uitskotdiere word dan vir opname in die voerkraal voorberei.”
Die oorblywende kalwers word op ’n proteïendieet geplaas om ’n ordentlike karkas van ongeveer 300kg te ontwikkel, waarna hulle met ’n gebalanseerde afrondingsvoer verder afgerond word. Seleksie vind deurlopend plaas. Skou- en teeldiere word uit dié groep gekies en diere wat uitval, gaan reguit voerkraal toe.
Fase D-groeitoetse word met behulp van die Herdmaster-program op die plaas gedoen. Gedurende die proses word diere op vasgestelde tye geweeg, eienskappe soos naelvel en skede, temperament, en testisomtrek word gemeet, en skanderings van vleisgehalte word ook gedoen.
As ’n duimreël bereik ongeveer 5% van die bulle stoetbulstatus en 20% is goeie kommersiële bulle. In terme van die vroulike diere sal ongeveer 20% uitgeskot word, en die balans sal tussen die stoet of kommersiële kudde verdeel word op grond van hul voldoening aan prestasiesyfers. Geen uitskotdiere word aan die mark beskikbaar gestel nie.
Die kudde word jaarliks getoets vir brusellose, tuberkulose, en ander verwante gesondheidstoestande. Voeding en dieregesondheid word in samewerking met uitgesoekte verskaffers bestuur.
Riaan sê dat, behalwe vir die streng seleksie van sy bulle op grond van teelwaardes, fenotipiese seleksie ook vir hom belangrik is. “Daar is geen sin daarin om ’n bul met perfekte teelwaardes te hê wat dit nie ook in sy fisiese voorkoms vertoon nie.”
Meet en weeg is noodsaaklik
Riaan beklemtoon dat dit vir ‘n stoetteler van groot belang is om diere te meet en weeg. Kalwers moet na geboorte en met speen vir akkurate teelwaardes geweeg word. Sy kalwers word binne drie dae na geboorte op die skaal gesit en weeg gemiddeld tussen 28 en 35kg.
Wanneer kalwers gespeen word, moet hul moeders se gewig ook bekend wees aangesien die kalf ’n sekere persentasie van sy moeder se gewig moet wees. Sodoende kan daar ook gesien word hoe die ander kalwers in die kudde met die gemiddeld vergelyk.
Hy sê metings word gedoen namate die geselekteerde bulkudde groei. Sy bulle word baie streng en deurlopend geselekteer vanaf eerste seleksie tydens speen. Geselekteerde bulle word ná speen maandeliks geweeg, en metings word van die skede en skrotums geneem, terwyl die dier se temperament ook geëvalueer word. Die Landbounavorsingsraad se LNR-Diereproduksie skandeer die bulle dan vir vleisgehalte.
Riaan sê indien ’n dier se geboorte- en speensyfers asook sy eerste- of tweede-jaar gewig gemeet word, is daar reeds baie data wat akkuraatheid verseker. Riaan doen ’n Fase D-bulgroeitoets op sy plaas op grond van Breedplan se program. Hy is baie streng daarop gefokus om nie uitskotbulle wat vir die voerkraal bestem is, aan kommersiële produsente te verkoop nie.
Volgens hom maak sommige produsente die fout om hoë teelwaardes van veral 600 dae na te jaag. In sulke gevalle is die waarskynlikheid dan groot dat ’n kalf van ’n groot, swaar, volwasse bul, ’n hoë geboortemassa gaan hê. Daarom moet die fokus eerder wees op ’n teelwaarde wat naby aan die rasgemiddeld is.
Bobaas RAT-bulle vir die mark
Riaan meen daar rus ’n groot verantwoordelikheid op stoettelers om bulle te teel wat vir die koper ’n aanwins sal wees. Dit word deur middel van prestasietoetsing en akkurate teelwaardes bereik.
Riaan hou sy beste stoetbulle terug vir skoudoeleindes. Die res van die geselekteerde stoetbulle word uit die hand en op stoetveilings verkoop. Die volgende veiling waarop hy van sy stoetbulle sal aanbied, vind op 12 Maart tydens die Manso Select-veiling by die Afridome in Parys plaas. Hy verkoop ook van sy stoetbulle op die Sale of the Roses-veiling asook die Brahman-beestelersgenootskap se jaarlikse nasionale veiling.
Vir meer inligting, kontak Riaan Theron by 082 921 2347 of riaan@rsms.co.za.