Thursday, December 12, 2024

Nasionale SA Merino-veiling: Pronkstuk van die Merinobedryf

Estimated reading time: 2 minutes

Altesaam 46 Merinoramme is by vanjaar se nasionale Merino-veiling, wat op 16 Augustus by die Botaniese Sport-kompleks op Graaff-Reinet gehou is, aangebied. Die hoofborg van die geleentheid was BKB, wie se afslaer, JP Marais, sy staal as jong afslaer op die podium gewys het.

Lees meer oor die onlangse BKB Merino Classic hier.

Die ram Mega Exceptional uit die Mega Merino-stoet van Jacques en Andries Pienaar van Klipplaatsfontein by Colesberg, is vir die hoogste prys van R150 000 verkoop. Mega Magnum het die tweede-hoogste prys van R140 000 gehaal en Mega Hotgun die derde-beste prys van R85 000. Albei is uit die Mega Merino-stoetery.

  • Mega Exceptional is vir die hoogste prys van R150 000 aan die Ramoloko-broers en mnr Shai, almal van Lesotho, verkoop. Heel regs voor is Jack Ramayisa, die hanteerder, en JP Marais, BKB-afslaer. Agter staan Jacques en Andries Pienaar, die verkopers. (Foto: Johanette van Heerden)
    Mega Exceptional is vir die hoogste prys van R150 000 aan die Ramoloko-broers en mnr Shai, almal van Lesotho, verkoop. Heel regs voor is Jack Ramayisa, die hanteerder, en JP Marais, BKB-afslaer. Agter staan Jacques en Andries Pienaar, die verkopers. (Foto: Johanette van Heerden)

Die vierde-hoogste prys van R70 000 is vir ’n stoetram van die Buffelspoort Merino-stoet van Tinus du Plessis betaal. Die gemiddelde prys van die ramme wat op die veiling verkoop het, was R36 300.

Diep spore kry erkenning

Die nasionale veiling is op 15 Augustus voorafgegaan deur ’n algemene jaarvergadering, waartydens Merino SA se lede en raad sake soos finansiële beplanning en die huidige ekonomiese klimaat bespreek het. Merino SA se bestuurder, Willie van Heerden, het die uittredende president, Adrian McNaughton van Charmac Merino’s, vir sy insette en ‘rustige manier van dinge doen’ bedank. McNaughton was vir vier jaar president en het 12 jaar in Merino SA se raad gedien.

  • Pierre Vlok, BKB se bestuurder van wol in die westelike streek, is al ongeveer 30 jaar in die wolbedryf betrokke. Hy sê die telers van beide poena- en gehoringde ramme het uit hul pad gegaan om uitstekende diere te teel wat as ’n pronkstuk in die Merinobedryf beskou kan word.
    Pierre Vlok, BKB se bestuurder van wol in die westelike streek, is al ongeveer 30 jaar in die wolbedryf betrokke. Hy sê die telers van beide poena- en gehoringde ramme het uit hul pad gegaan om uitstekende diere te teel wat as ’n pronkstuk in die Merinobedryf beskou kan word.

Erelidmaatskap is tydens die dinee na afloop van die vergadering, aan Andries Pienaar van die Trumps Merinostoet en Robert Rubidge van die Wellwood Merinostoet oorhandig vir hul besonderse bydrae tot die Merinobedryf van Suid-Afrika oor die jare. McNaughton het ook erelidmaatskap ontvang vir sy diens aan die Merinobedryf.

  • n Ligte oomblik tussen Elize en Willie van Heerden, Merino SA se bestuurder, en hul dogter, Melissa Valentine.
    n Ligte oomblik tussen Elize en Willie van Heerden, Merino SA se bestuurder, en hul dogter, Melissa Valentine.

Isak Staats, BKB se algemene bestuurder van wol en sybokhaar, was die gasspreker met sy spitsvondige praatjie, ‘Hoe sien jy jou gat?’ wat aan gaste lekker stof tot nadenke gegee het. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Merino SA by 049 892 4148 of merinosa@eastcape.net.

Brommers kan ‘n skaap lewendig opvreet

Estimated reading time: 4 minutes Brommers wat skape aanval, vreet die diere feitlik lewend op. Groenbrommers...

Only an effective vaccination plan can prevent lumpy skin disease

Estimated reading time: 6 minutes Every year producers suffer substantial losses because of their cattle...

Feeding for fertility: How early-life nutrition impacts dairy herds

Estimated reading time: 7 minutes The Guinness World Record holder cow for lifetime milk production,...

Só lyk ’n goeie voerkraallam

Estimated reading time: 5 minutes Die ideale voerkraallam is laat-volwasse, toon uitstekende groei, handhaaf goeie...