Estimated reading time: 4 minutes
Een van die belangrikste vereistes van ‘n trekker in ‘n voerkraal-omgewing, is sy beweeglikheid en hoe maklik dit is om hom te gebruik. Die tweede vereiste, wat net so belangrik is, is die laagste moontlike slytasie. Die Kubota-trekkers wat hulle oor die afgelope paar jaar aangekoop het, sê Andries Kriek van Middelvlei Boerdery op Theunissen in die Vrystaat, voldoen absoluut aan hierdie vereistes én meer.
Middelvlei Boerdery is ‘n gemengde boerdery met ‘n voerkraal as hoofvertakking. Al die ander fasette van die boerdery is daarop gemik om die voerkraal te ondersteun. Hulle verbou veral mielies en voergewasse vir kos vir die voerkraaldiere.
‘n Trekker wat sy man kan staan
Volgens Andries bly slytasie op trekkers maar ‘n probleem. Veral wanneer trekkers heeltyd vorentoe en agtertoe beweeg (shunt), en die kragaftakker baie gekoppel en ontkoppel word, kan slytasie veroorsaak dat jou trekker later gereeld staan. Dit veroorsaak ‘n groot probleem wanneer diere op tyd gevoer moet word.
“Kubota gebruik nuwe-generasie tegnologie,” sê hy verder. “Hulle kragaftakkers en koppelaars is hidroulies, wat beteken dat daar feitlik geen wrywing is nie.”
Die eerste twee Kubotas wat hulle gekoop het, was M9540-modelle en, sê Andries, toe hulle die trekkers begin gebruik, het hulle agtergekom dat die brandstofverbruik van hul voermengers met ‘n goeie 12 tot 15% verlaag het.
Lees meer oor Oos-Kaapse Kubota-handelaar bied pasmaak-oplossings vir boere.
Hanteerbaarheid soos min
“Ons was ook verstom oor hoe lekker hanteerbaar die trekkers is. Hulle het ‘n ongelooflike kort draaisirkel vir ‘n vierwiel-aangedrewe trekker. ‘n Mens kan dus in knap ruimtes werk, wat hulle ideaal maak vir die voerkrale.”
Wat hulle net so beïndruk het, was hoe maklik die vorentoe-agtertoe-meganisme werk. Dit is iets wat in ‘n voerkraal ook ‘n reuserol speel om take makliker en vinniger klaar te maak. Omdat dit ook ‘n hidrouliese meganisme behels, verlaag dit slytasie drasties.
“Jy kan doodgewoon jou koppelaar intrap, ‘n hefboom trek, en die trekker is in trurat. Omdat dit ‘n hidrouliese meganisme is, hoef die trekker nie eers ordentlik tot stilstand te kom nie. Die slytasie is minimaal. Dit is veral handig as mens ‘n laaigraaf op die trekker het, waar jy baie vorentoe en agtertoe moet beweeg.”
Omdat die Kubota so maklik hanteerbaar is, is dit ‘n plesier om dit op die lande te gebruik wanneer rygewasse geplant word. Sy kort draaisirkel, tesame met sy lekker vorentoe-agtertoe-vermoë, maak hom ‘n plesier op die lande, sê Andries.
Al hierdie eienskappe het natuurlik ’n groot invloed op die tyd wat dit neem om ‘n taak te voltooi. Gerieflikheid, doeltreffendheid, ekonomie en langslewendheid, glo hy, onderskei die Kubota van sy mededingers.
Ontwerp om die elemente te oorwin
“Die Kubota-trekker,” sê Os du Randt, handelsmerk-ambassadeur by Kubota, “is oorspronklik ontwikkel om in ryslande in Japan te kan werk. Hiervoor was twee eienskappe ‘n vereiste, naamlik die vermoë om baie kort in beperkte ruimtes te kan draai, en tweedens die beskerming van die meganismes teen die nat, modderige toestande van ‘n rysland. Vandaar die geseëlde eenhede.”
Om ‘n kort draaisirkel te bewerkstellig, gebruik die trekker ‘n bevel and pinion-meganisme (skuins- en tandwiel) wat dit in staat stel om 30 grade korter te kan draai, sonder dat die meganika onder spanning geplaas word. In van die modelle wat veral vir boordwerk ontwerp is, is daar nog ‘n bykomende meganisme wat jou in staat stel om die vooras se spoed met die druk van ‘n knoppie te verdubbel, wat dan die trekker se neus vinniger omtrek, en dus die draaisirkel nóg korter maak.
Ná die eerste aankope van die twee M9540-modelle, sê Os, het Andries onlangs nog ‘n M7040, ‘n M8540 en ‘n M135GX aangeskaf.
“Die M-reeks is ons premiumreeks wat heeltemal in Japan ontwerp en gebou word, en al die onderdele word ook in Japan vervaardig. Afgesien van die M-reeks, het ons nog die B-reeks, wat kompakte trekkertjies tot by 20kW verteenwoordig, en die L-reeks met trekkers van tussen 20 en 40kW. Ons roem ons daarop dat ons trekkers die antwoord is vir beperkte ruimtes en ekonomie.”
Vir meer inligting, skakel Andries Kriek by 082 829 4277 of Os du Randt by 082 990 2392. Of besoek www.smithpower.co.za. – Izak Hofmeyr, Plaas Media
