Estimated reading time: 7 minutes
Die Leniesdeel- en Tlakgameng-vetveeskou in Noordwes het vanjaar weer topgehalte osse in die op-die-hoef- en aan-die-haak-afdelings gelewer. Die osse is eers geweeg en gemerk, gevolg deur ’n borgefunksie op die eerste dag by die Leniesdeel-boeresaal. Altesaam 164 osse wat ongewissel moet wees, in die A-graad graderingsklas kwalifiseer, en gemiddeld 110 tot 130 dae in voerkraaltoestande gevoer is, is vanjaar ingeskryf.
Op die tweede dag van die skou is hulle op-die-hoef beoordeel, waarna die wenners in die onderskeie gewigsklasse aangewys is. Daarna is die osse na die Vryburg-abattoir vervoer, waar hulle geslag en die karkasse aan-die-haak beoordeel is. Die wenners in hierdie afdeling is tydens ’n geleentheid by die Tlakgameng-boerevereniging aangekondig. Plaas Media was mediaborg van hierdie vetveeskou.
’n Ryk geskiedenis
Volgens Frans Seevinck, ’n komiteelid, is hierdie vetveeskou een van die oudste van sy soort in die land en word al sedert die vroeë 90’s aangebied. Dit was toe vir ’n paar jaar nie aangebied nie, maar het tien jaar gelede herleef. Sedert 2018 het die Leniesdeel- en Tlakgameng-boereverenigings hande gevat en die naam van die skou het daarmee saam verander.
Seevinck sê hulle is trots op die feit dat hierdie skou in 2023 as die Suid-Afrikaanse Vetveebeoordelaarsvereniging (Safja) se Suid-Afrikaanse kampioen-beesvetveeskou aangewys is. Hy beklemtoon dat die voortbestaan van hierdie skou van borge afhanklik is.
“Hierdie is een van die geleenthede wat ons gemeenskap geskep het om saam te kom en samehorigheid te bevorder. Die kompetisie dui vir ons aan wat die mark vereis en waar ons as produsente in terme van ons eie kommersiële kuddes staan. Dit help om te bepaal waar daar ruimte vir verbetering is en is ’n goeie leerskool vir kommersiële en stoetboere,” sê Seevinck.
Uitblinkers en goeie gehalte diere
Andrew Adams, sekretaris van Safja, en Lubbe Jacobs, Safja-ondervoorsitter, het die op-die-hoef beoordeling behartig. Die beoordelaars vir die aan-die-haak afdeling was Paul Maré, senior Safja-beoordelaar, Jan Horn, junior Safja-beoordelaar, en Albertus van Niekerk, ’n beoordelaar van die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic). Verskeie deelnemers het uitgeblink, met Johan Wessels van WJA Wessels-boerdery in Leniesdeel, wat as die aan-die-haak enkelkampioen aangewys is.
Adams is vol lof oor die wyse waarop hierdie skou aangebied is, veral die betrokkenheid van die borge. Hoë-gehalte osse is vertoon en hy glo dat die diere en karkasse wat hier goed gevaar het, ook in Safja se nasionale kompetisie goed kan vaar. Daardie kampioene sal in 2025 aangekondig word.
Safja betree ook opwindende tye. “Ons wou nog altyd nouer met Samic saamwerk. Gesprekke is tans onderweg oor hoe Safja en Samic die vetveebedryf saam kan verbeter. As alles goed verloop, kan ons ’n goeie samewerkingsooreenkoms vir die 2025-seisoen in plek hê.”
Meet van gehalte
Jacobs sê vetveeskoue is waardevol omdat die gehalte van diere met ander diere en teen kriteria wat deur Safja daargestel is, gemeet kan word. Hy sê vetveeskoue in Noordwes het toegeneem. In 2024 is altesaam agt vetveeskoue aangebied as deel van Safja se kompetisie, teenoor ses in 2023. ’n Beesvetveeskou is vir die eerste keer in Potchefstroom en Delaryville aangebied. Saam met Leniesdeel en Jakkalskop is twee lamskoue ook aangebied, sowel as die Vergeleë- en die Piet Plessis-vetveeskou.
Jacobs sê die beoordelingskriteria vir op-die-hoef sluit ’n goeie bouvorm, boude, middelstuk en voorkwart in. Goeie vetverspreiding is ook belangrik. Safja se reëls bepaal dat die karkas van ’n geslagte dier nie ligter as 200kg en nie swaarder as 340kg mag wees nie. Die onderskeie gewigsklasse word vandaar bepaal. Tydens die karkasbeoordeling van ’n vetveeskou word op vetverspreiding, bouvorm en uitslagpersentasie gelet. Jacobs raai boere aan om osse op grond van goeie lengte, breedte en diepte te selekteer voordat hulle in ’n voerkraal vir ’n vetveeskou voorberei word.
Wenners: Aan-die-haak enkelkarkas
- Johan Wessels van WJA Wessels-boerdery van Leniesdeel (punt: 87; Beefmaster-karkas).
- Koos Reinecke en Gordon Brown van Aberfield, Tlakgameng (punt: 86,50; Beefmaster-karkas).
- Owen Taute van Walker Farming, Vryburg (punt: 85; Bonsmara-karkas).
- Owen Taute van Walker Farming , Vryburg (punt: 83,50; Bonsmara-karkas).
- Gert en Thea Coetzee van Buffeldoorn-boerdery, Tlakgameng (punt: 82,80; Bonsmara-karkas).
- Toto Oosthuizen van JJO-boerdery, Tlakgameng (punt: 81,50; Beefmaster-karkas).
- Carey Lee van Tlakgameng Bonsmaras, Tlakgameng (punt: 80; Bonsmara-karkas).
- Toto Oosthuizen van JJO-boerdery (punt: 94; Simbra-karkas).
- Owen Taute van Walker Farming (punt: 78; Bonsmara-karkas) en Muller Fourie, Leniesdeel (punt: 78; Santa Gertrudis-karkas).
Wenners: Aan-die-haak beesgroep
- Owen Taute van Walker Farming, Vryburg (punt: 73,80).
- Owen Taute van Walker Farming, Vryburg (punt: 72,95).
- Niel Fourie en Niel Harvey van Ottowa Ranches, Tlakgameng (punt: 72,63).
- Toto Oosthuizen van JJO-boerdery, Tlakgameng (punt: 72.50).
- Toto Oosthuizen van JJO-boerdery, Tlakgameng (punt: 72,38).
- Carey Lee van Tlakgameng Bonsmaras, Tlakgameng (punt: 71,25).
- Koos Reinecke en Gordon Brown van Aberfield, Tlakgameng (punt: 70,95).
- Gert en Thea Coetzee van Buffeldoorn-boerdery, Tlakgameng (punt: 70,50).
- Johan Wessels van WJA Wessels-boerdery, Leniesdeel (punt: 69,88).
- Toto Oosthuizen van JJO-boerdery, Tlakgameng (punt: 69,63).
Op-die-hoef: Superos (+541kg)
- Gielie Uys van Buffalo Mountain Safari’s, Jakkalskop.
- Wessel Kriel van Moongate Safari’s, Jakkalskop.
- Wessel Kriel van Moongate Safari’s, Jakkalskop.
- Johan Wessels van WJA Wessels-boerdery, Leniesdeel.
- Niel Fourie en Niel Harvey van Ottowa Ranches, Tlakgameng.
Op-die-hoef: Klas A (360-425kg)
- Carey Lee van Tlakgameng Bonsmaras, Tlakgameng.
- Koos Reinecke en Gordon Brown van Aberfield, Tlakgameng.
- Gordon Brown van Brown Estates, Tlakgameng.
- Koos Reinecke en Gordon Brown van Aberfield, Tlakgameng.
- Carey Lee van Tlakgameng Bonsmaras, Tlakgameng.
Op-die-hoef: Klas B (426-455kg)
- Gordon Brown van Brown Estates, Tlakgameng.
- Pieter Nieuwoudt van Veldbees Bovelder, Piet Plessis.
- Carey Lee Tlakgameng Bonsmaras, Tlakgameng.
- Hanno Hayward van Forest-boerdery, Leniesdeel.
- Frans Seevinck van Buckridge Bonsmaras, Tlakgameng.
Op-die-hoef: Klas C (456-491kg)
- Gert en Thea Coetzee van Buffeldoorn-boerdery, Tlakgameng.
- Gert en Thea Coetzee van Buffeldoorn-boerdery, Tlakgameng.
- Carey Lee van Tlakgameng Bonsmaras.
- Gordon Brown van Brown Estates, Tlakgameng.
- Gordon Brown van Brown Estates, Tlakgameng.
Op-die-hoef: Klas D (491-540kg)
- Toto Oosthuizen van JJO Boerdery, Tlakgameng.
- Niel Fourie en Niel Harvey van Ottowa Ranches, Tlakgameng.
- Koos Reinecke en Gordon Brown van Aberfield, Tlakgameng.
- Gert en Thea Coetzee van Buffeldoorn-boerdery, Tlakgameng.
- Owen Taute van Walker Farming, Vryburg.
Kyk hier na die terugvoer video:
Vir meer inligting kontak Lubbe Jacobs by 082 610 7491 of besoek die Leniesdeel- en Tlakgameng-vetveeskou se Facebook-blad. – Christal-Lize Muller, Plaas Media