Estimated reading time: 4 minutes
Kemin SA se jaarlikse voerkraaldag by sy hoofkantoor in Gauteng het weer groot aftrek gekry en meer as 400 mense het vir dié geleentheid geregistreer.
Hittestres kos die landbousektor wêreldwyd meer as R9 triljoen per jaar en dié koste sal styg indien klimaatsverandering teen die huidige koers volhou, sê prof Lance Baumgard, ’n uitgelese professor verbonde aan die Iowa-staatsuniversiteit se Departement Dierewetenskap. “Dit sal ook vererger indien genetiese seleksie aanhou om kwessies soos melksintese en maerder weefsel te prioritiseer, omdat dié prosesse hittevrystelling bevorder.”
Buiten dat dit veeproduksie negatief beïnvloed, word die aantal vrektes weens hittestres ernstig onderskat. In 2006 het ’n Kaliforniese hittegolf byvoorbeeld tot die dood van 40 000 melkkoeie en ’n miljoen kalkoene gelei. In 2022 is 10 000 vleisbeeste in Kansas oorlede nadat ’n hittegolf die gebied getref het.
“Dis egter moeilik om die presiese dodetal as gevolg van hittestres te bepaal, omdat baie diere eers ’n dag of twee ná die hittestres vrek. Vals diagnoses gebeur omdat fermentasie ná die dier se dood steeds aanhou en suurpens verkeerdelik as die oorsaak van die dier se dood aangedui word. Dan word die voedingkundige blameer,” sê prof Baumgard.
Lees meer oor die onlangse GSSA-kongres hier.
Laat koolstofkrediete vir jou werk
Riana Reinecke, ’n volhoubaarheidsnavorser van Asset Research, het klem gelê op volhoubaarheid en gesê die wêreld se eerste koolstofbelasting op lewendehaweprodusente gaan US$100 (R1 800) per bees kos. Denemarkte het in Julie vanjaar aangedui dat hulle dié belasting teen 2030 sal instel.
Kweekhuisgasvrystelling in ’n voerkraalstelsel vind meestal tydens die fermentasie/verteringsproses, die verrotting van organiese materiale soos mis en voer, brandstof en elektrisiteit plaas. Reinecke meen doeltreffende misbestuur kan voerkrale help om nie net koolstofkrediete te neutraliseer nie, maar die mis kan uiteindelik verkoop kan word. Voerkraaleienaars kan ook hul koolstofvoetspoor verbeter deur speenkalwers by herlewingslandbouprodusente te koop en groter oorleg aan die dag te lê wanneer voer aangekoop word. “Die tipe voer wat ’n bees ontvang, het ’n groot invloed op die koolsuurgasse wat vrygestel word.”
Moderne misbestuurtegnologie is egter duur en voerkraaleienaars moet dus eers seker maak dat die som sal klop. Dierewelsyn is nog ’n aspek wat verbeter kan word en wat direk tot ’n positiewe oudit bydra. ’n Goeie ouditstelsel is onontbeerlik, want ’n produsent kan nie beloon word vir iets wat nie bewys kan word nie. “Volhoubaarheid gaan uiteindelik oor die drie P’s – profyt, planeet en produk (diere).”
Lees meer oor Nampo Kaap se skaaphondprogram hier.
Doeltreffendheid vs gehalte
Prof Phillip Strydom, vleiswetenskaplike van die Stellenbosch Universiteit se Departement Dierewetenskap, het gesê die Suid-Afrikaanse rooivleisketting se pogings om meer doeltreffende diere te teel, kan vleisgehalte in gedrang bring. Die perfekte biefstuk is ’n kombinasie van goeie teling, voeding, bespiering en veroudering.
Sedert Suid-Afrika se vleiswaardeketting tussen die negentigerjare en die vroeë 2000’s gedereguleer is, is die klem op doeltreffendheid geplaas en het voerkrale begin koning kraai. “Die verhouding van afronding in voerkrale teenoor afronding op weiding het van 30:70 na 80:20 verander.”
Die gevolg was dat dieselfde hoeveelheid vleis in 2007 geproduseer is as in 1977 met 70% minder diere, 81% minder voer, 88% minder water, 67% minder grond, 22% minder bemesting, 18% minder metaangas en 12% minder stikstofoksied. “Dit beteken egter dat karkasgrootte met 30% in drie dekades verhoog het.” In 1993 het die gemiddelde karkas 210kg geweeg en teen 2020 was dit 300kg.
Aangesien die tempo waarteen ’n karkas verkoel ’n groot invloed op vleisgehalte het, is groter karkasse problematies, verduidelik hy. As die karkas se temperatuur nie vinnig genoeg daal nie, sal die pH te vinnig daal, rigor mortis sal te vinnig intree en dit sal skade berokken aangesien die proteïensamestelling tydens denaturasie te veel sal verander. Dié probleem word vererger deur die feit dat Suid-Afrika se koelkamerinfrastruktuur besig is om te verouder en koelkamers oorlaai word, omdat karkasse al hoe groter word. Vir meer inligting, kontak Wiaan Faber by epos wiaan.faber@kemin.com. – Susan Marais, Plaas Media