Thursday, September 19, 2024

Julie se ekonomiese oorsig: Rand, graan en vleis

Estimated reading time: 2 minutes

Die rand het tydens Julie redelik stabiel gebly teenoor die dollar en die euro en behou steeds ‘n sterk posisie vanaf Junie. Die rand het die maand R18,24 teenoor die Amerikaanse dollar en R19,75 teenoor die euro afgesluit. Die verbruikersprysindeks (VPI) het effens gedaal in Junie na 5,1% (jaar-op-jaar) terwyl die produsenteprysindeks (PPI) onveranderd op 4,6% (jaar-op-jaar) tydens Junie gebly het. Die prima-uitleenkoers bly onveranderd op 11,75%.

Die geelmielieprys het tydens Julie na ‘n mate herstel met ‘n R308/ton styging en die maand teen R4 069/ton gesluit. Hierdie styging in pryse kan heel moontlik toegeskryf word aan die stroopseisoen wat tot ‘n einde gekom het.

Beeskarkaspryse het tydens Julie ‘n redelike daling in pryse ervaar met die B2-karkaspryse wat die grootste daling getoon het. Die maand het afgesluit met ‘n gemiddelde A2-prys van R55,43/kg, die B2-prys van R45,056/kg en die C2-prys van R43,09/kg. Die gemiddelde speenkalfprys het tydens Julie ‘n redelike stabiele maand ervaar met pryse wat sywaarts beweeg het. Die pryse bly steeds onder druk as gevolg van hoë voerpryse en laer vraag. Die gemiddelde speenkalfprys het teen R31,87/kg die maand afgesluit.

Die skaapkarkaspryse (Figuur 1) het tydens Julie steeds die opwaartse tendens ervaar wat ons vanaf Mei sien, die pryse tydens Julie 2024 toon ‘n baie sterk korrelasie met die pryse wat ons in Julie 2023 ervaar het. Die A2-prys het teen R89,02/kg gesluit, die B2-prys teen R66,293/kg en die C2-prys teen R64,07/kg. Die gemiddelde speenlamprys het tydens Julie vir die eerste keer sedert April effens gedaal. Die gemiddelde prys het die maand teen R40,92/kg afgesluit.

Die prys van klas O-varkkarkasse het tydens Julie ‘n redelike verhoging ervaar maar die pryse bly steeds laag in vergelyking met laasjaar. Die prys het die maand teen R30,61/kg afgesluit. – Meyer van der Merwe, Siphiwe Tshabalala en WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.