Estimated reading time: 4 minutes
Die jaar staan einde se kant toe en dit is gewoonlik in hierdie tydperk dat werknemers se produktiwiteit afneem. Baie werkgewers het ’n verpligte vakansieverloftydperk gedurende Desember vir werknemers, en in die aanloop tot dié tydperk het werkgewers ’n laaste kans om seker te maak dat die besigheid steeds volhoubaar sal voortgaan, en ná die fees- en vakansietydperk voortbestaan.
Die tydperk in die aanloop tot die Desember-vakansie veroorsaak soms ongelukkigheid in die werksplek en kan verhoudinge versteur. Ten einde ongelukkigheid en werksverhoudinge in die werksplek sover as moontlik na behore te bestuur, moet noukeurige aandag aan vyf belangrike aspekte geskenk word.
Verlof en verpligte sluitings
Gedurende die feestyd-sluitingstydperk is die besigheid heeltemal gesluit, of word ’n minimale aantal werknemers benodig om slegs die noodsaaklikste take te verrig. Werkgewers moet verseker dat werknemers nie gedurende die jaar meer verlofdae neem as wat vir die verpligte verlofdae beskikbaar moet wees nie.
Indien geen verlofdae beskikbaar is vir die sluitingstydperk nie, sal die werknemer dié dae as onbetaalde verlof moet neem. Die werknemer se dienskontrak moet ook ’n klousule vervat wat die verpligte verloftydperk duidelik stipuleer.
Afhangend van die dienstydperk van ’n werknemer, sal hy of sy jaarliks geregtig wees op 21 aaneenlopende dae se verlof. Dit is gelykstaande aan 15 weeksdae betaalde verlof en ses naweekdae. Alternatiewelik mag ’n werknemer geregtig wees op een dag se verlof vir elke 17 dae gewerk, of een uur vir elke 17 ure gewerk. Die dienskontrak moet duidelik wees oor die bepaling van verlofdae. Sommige werkgewers gee meer verlof as 15 weeksdae betaalde verlof.
Openbare vakansiedae
Openbare vakansiedae word deur die Wet op Openbare Vakansiedae, 1994 (Wet 36 van 1994), of WOV, gereguleer, terwyl die terme en voorwaardes van indiensneming onder meer deur die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997), en meer spesifiek, Sektorale Vasstelling 13 wat op die landbousektor van toepassing is, gereguleer word.
Werkgewers moet kennis neem dat, sou daar gedurende die verpligte sluitingstydperk of normale vakansieverloftydperk ’n openbare vakansiedag voorkom, sodanige openbare vakansiedag uitgesluit word van die werknemer se verlofdae. Dit beteken dat indien ’n werknemer vyf dae verlof neem en twee openbare vakansiedae binne daardie tydperk val, kan die werkgewer slegs drie dae van die werknemer se beskikbare verlof aftrek.
Die WOV maak voorsiening vir ooreenkomste tussen werkgewers en werknemers om op ’n openbare vakansiedag te werk. Die ooreenkoms behels dat ’n ander weeksdag vir die openbare vakansiedag uitgeruil word. Hierdie ooreenkoms moet egter in die dienskontrak vervat word.
Bonusse
’n Algemene wanopvatting in die werksplek is dat werknemers geregtig is op ’n ‘dertiende tjek’, ook bekend as ’n bonus. ’n Bonus is normaalweg betaalbaar op diskresie van die werkgewer en as sulks moet werkgewers verseker dat hul werknemers daarvan bewus is dat bonusse nié deel uitmaak van die werknemer se verpligte diensvoorwaardes nie.
Dit is raadsaam om enige onduidelikhede rondom bonusse in ’n klousule in die dienskontrak te vervat. Dit sal ook verhoed dat ’n werknemer nie ’n redelike verwagting koester dat ’n bonus wel betaalbaar sal wees nie.
Indien ’n bonus wel deel vorm van ’n werknemer se diensvoorwaardes en daar nie spesifiek vermeld word dat die betaling binne die werkgewer se diskresie val nie, sal die werkgewer verplig wees om jaarliks dié bonus te betaal.
Alkohol in die werksplek
Daar is ’n tendens van toenemende alkoholgebruik namate die feestyd en jaareinde naderkom. Die verpligting op werkgewers om ’n veilige werksomgewing vir alle werknemers te skep, bly deurlopend van toepassing. Daarom is ’n werknemer wat onder die invloed van alkohol is, ’n groot risiko vir die werkgewer.
Werkgewers moet duidelike beleide, reëls en prosedures in die werksplek implementeer en handhaaf om hierdie risiko te beperk.
Kennistydperk by diensbeëindiging
Werknemers wat hul indiensneming vrywillig beëindig deur te bedank, mag nie tydens die kennisgewingstydperk enige vakansieverlof neem nie. ’n Werknemer in die landbousektor moet een week se kennistydperk gee indien die werker korter as ses maande in diens was, en ’n vier-weke kennistydperk indien hy of sy langer as ses maande in diens was.
Die LWO Werkgewersorganisasie staan werkgewers by om aan arbeidswetgewing te voldoen en om dit tot hul voordeel te gebruik om hul onderneming te beskerm. Die LWO Werkgewersorganisasie, as ’n geregistreerde werkgewersorganisasie by die Departement van Indiensneming en Arbeid, het die reg om lede by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verteenwoordig. Kontak die LWO by 086 110 1828 of christo@lwo.co.za.