Estimated reading time: 7 minutes
- Hurwitz Farming het onlangs die nuus gehaal nadat hul bul, Cyclone, teen R8 miljoen die duurste bul geword het wat nog in Suid-Afrika verkoop is.
- “R8 miljoen is baie geld, maar uiteindelik is dit ongelooflik dat ’n mens binne so ’n kort tydperk ’n wins sal begin sien.”
- “Die ras is destyds as die ‘wonderras van Afrika’ geloof,” onthou Simeon.
- Vandag bestaan die Hurwitze se Boranstoetery uit 3 000 diere – die grootste ter wêreld.
- Simeon sê die veiling is goed vir almal, want dit skep beleggersvertroue.
Kitsrykdom is ’n illusie – selfs in die wêreld van die beste Boran-telers, soos in die geval van Hurwitz Farming. Dit laat Simeon Hurwitz, wat Hurwitz Farming saam met sy broer, Jarren, besit, jou vinnig verstaan. Hurwitz Farming het onlangs die nuus gehaal nadat hul bul, Cyclone, teen R8 miljoen die duurste bul geword het wat nog in Suid-Afrika verkoop is.
Sedert Collen Tafireyi van die Sinyo Boranstoet in Zimbabwe die bul gekoop het, is Simeon deurgaans met Tafireyi in kontak, want hy glo persoonlike kontak maak uiteindelik van Hurwitz Farming ’n internasionale sukses. Hierdie sukses bou voort op die grondslag wat hulle oupa, dr Barney Hurwitz, 30 jaar gelede op die familieplaas in Davel gelê het.
Simeon sê so ’n duur bul moet produseer om te verseker dat die eienaar ’n behoorlike opbrengs op sy belegging sien. ’n Wins behoort binne die volgende vier of vyf jaar te realiseer. “R8 miljoen is baie geld, maar uiteindelik is dit ongelooflik dat ’n mens binne so ’n kort tydperk ’n wins sal begin sien.”
Klein treë lei tot groei
Oor jare het klein beleggingstreë tot reuse-beleggingsgroei gelei vir beide die Hurwitze en Borane in Suid-Afrika. Om die volle prentjie egter te verstaan, moet ‘n mens drie dekades terugstap.
Dr Evan Kadish, ’n neef van die Hurwitze, was jare gelede op die plaas betrokke terwyl hy hom as veearts bekwaam het. Te midde van sy studies het hy in die Boran begin belangstel en so is die familie aan die ras bekendgestel.
Dr Kadish en ’n klasmaat, dr Shaun Morris, het in 1993 die eerste 900 Boran-embrio’s van die Mafundzalo-kudde in Zambië na Suid-Afrika ingevoer. Dr Barney Hurwitz het die finansiering verskaf. Sonder sy oupa se sakekennis sou die oorgrenstransaksie nie kon slaag nie, sê Simeon. “Dit was pionierswerk, want die formele Boran-beestelersgenootskap is eers in 2003 gestig en geregistreer. Hulle moes die werk blindelings doen, omdat daar nie ’n genootskap was wat rigting kon gee nie.
“Die ras is destyds as die ‘wonderras van Afrika’ geloof,” onthou Simeon. Dit is ’n medium-raam, geharde ras wat met min tot geen bykomende koste op die veld grootgemaak kan word en baie goed by die wisselvallige Afrika-klimaat aangepas is. Die diere het goeie karkasse wat gewild is onder Suid-Afrika se voerkraaleienaars. Hulle is ook redelik goed weerstandig teen bosluisoorgedraagde siektes soos rooiwater, wat ’n probleem in die Davel-omgewing is. Die Borane word minimaal voorkomend gedip.
‘n Leerskool soos min
Nadat albei broers in ’n sakerigting gekwalifiseer het, het hulle in die 2000’s by die boerdery se voerkraalbesigheid in Theunissen betrokke geraak. Hulle het gou vasgestel dat daardie besigheid nie winsgewend was nie en die hele voerkraalbesigheid na Davel verskuif.
Op die plaas is hulle aan ander aspekte van die boerdery bekendgestel. “So het ons met stoetboerdery kennis gemaak. Ten spyte van groot foute het ons vyf stoete (Simmentaler, Boran, Simbra, Manso Brahman en Santa Gertrudis) bedryf – tot ons besef het ons moet begin fokus,” vertel Simeon.
Kruisteel-eksperimente
Terwyl die Hurwitze hul verskillende stoete bedryf het, het hulle met ‘n klein kommersiële beeskudde geëksperimenteer. Na verskeie foute en lesse uit verskillende kruisings, moes hulle besluit of hulle met die Borane voortgaan en of hulle van dié diere ontslae moet raak.
So woon Simeon en ’n plaasbestuurder toe in 2010 ’n veiling van Schalk van Oudtshoorn in Amsterdam by. Elke dragtige dier is daardie dag vir tussen R70 000 en R90 000 verkoop – veel meer as wat Simeon in daardie stadium gewoond was om vir ’n Brahman te betaal.
“Dit het die entrepreneur in my laat wonder: Hoekom word een vir tussen R19 000 en R25 000 verkoop, terwyl die mark bereid is om R70 000, R80 000 en R90 000 vir die ander te betaal?” Op daardie oomblik het hy besef dat hulle nie van hul eenvoudige Boran-kudde moet ontslae raak nie, maar eerder daarin moes belê.
Boran-fokus verskerp
Hulle het begin om landswyd Boranveilings by te woon. In 2011 het hulle drie diere op die nasionale Boranveiling in Parys gekoop. Die koei Julia (B 03 17), wat teen R200 000 die duurste van die drie was, het hul vlagskipkoei geword. Embriospoeling is gebruik om die res van die kudde met haar genetika op te bou. Kort daarna is die eerste Boran-bul, TLM 00 11, by Japie du Toit van Stofberg gekoop.
Die Hurwitze het ook aan die werk gespring om die geldigheid van die Zambiese genetika op hul grond te bewys. Uiteindelik het SA Stamboek besluit dat drie of vier van dié diere tog as SP-diere geregistreer kon word. Die meeste diere is egter as aanhangseldiere geklassifiseer en moes van daar af opgegradeer word.
“Ons het elke Boranveiling in die land besoek om genetika op te koop,” onthou Simeon. “Ons sou eenvoudig by die veiling aankom en blindelings mooi diere koop.” So het hulle bekend geword as produsente wat duur en goeie genetika wou koop. Hulle het baie oproepe gekry van produsente of lewendehawe-agente wat diere uit die hand wou verkoop.
Een so ’n gesprek is deur Embryo Plus gelei met Cyril Ramaphosa as koper. Simeon glo dié aankoop was een van die belangrikste transaksies wat hulle gedoen het.
‘n Internasionale voorloper
Vandag bestaan die Hurwitze se Boranstoetery uit 3 000 diere – die grootste ter wêreld. Terwyl die Hurwitz Boran-kudde uitgebrei het, het die broers besef dat hulle nie vyf verskillende stoetkuddes op een slag behoorlik kon hanteer nie. Daarom moes hulle van sommige van die stoete ontslae raak.
Van die kuddes is in kommersiële beeskuddes verander, terwyl ander as algehele stoetkuddes verkoop is. In 2013 het hulle hul ‘risiko versprei’ deur ’n Droughtmasterstoet te begin. Die diere kom oorspronklik van Australië af, met soortgelyke weersomstandighede as Suid-Afrika. Daarom het die vrugbare ras Simeon se oog gevang. Droughtmasters se vleisopbrengs per hektaar is ook nie te versmaai nie.
Die medium-raam diere is meestal rooi poenskoppe – eienskappe waarvan voerkrale hou. Die Droughtmaster was in daardie stadium nog nie in Suid-Afrika geregistreer nie, en die diere is gevolglik in Namibië geregistreer. Simeon wou egter nie te veel in dié kudde belê nie, omdat dit nog nie in Suid-Afrika geregistreer was nie. Gevolglik het hulle aanvanklik net 20 diere gekoop, wat mettertyd natuurlik aangeteel het. Vandag staan die Hurwitz Droughtmasterkudde op tussen 400 en 500 diere.
Veilings en verkope
“Ons het in die verlede twee produksieveilings gehad (in Augustus en Oktober),” sê Simeon. “In beginsel is dit dieselfde diere, maar net in twee groepe verdeel. Daar is in albei groepe diere wat aan elke smaak voldoen, want party kopers wil ’n peperduur stoetdier koop, terwyl ander bloot ’n ekstra koei of twee soek om op hul grond te wei. Daar moet iets vir almal wees by ’n veiling.”
Die Augustus-produksieveiling het vanjaar vir die tiende keer plaasgevind. Deesdae hou hulle ook in Februarie ’n sogenaamde samewerkingsveiling of collaboration auction saam met Hotspot Cattle, en het besluit om in Mei ’n vierde veiling – die Hurwitz Friends and Family Sale – te hou. Mense wat voorheen by hulle genetika gekoop het, kan daardie diere se nageslag weer op die veiling verkoop.
Simeon sê die veiling is goed vir almal, want dit skep beleggersvertroue. “Die beesbedryf gaan 100% oor verhoudings. Die diere is wel die kern, maar dit gaan oor verhoudings. Uiteindelik verkoop ’n mens diere aan mense wat jou vriende en rugby-pêlle word. En nou het hulle weer die gemak om selfs diere uit klein kuddes daar te verkoop.”
Vir meer inligting, kontak Simeon Hurwitz by simeon@hurwitz.co.za of Antia van der Westhuizen by antia@hurwitz.co.za. – Susan Marais, Plaas Media