Estimated reading time: 5 minutes
- Die mikpunt van die behoorlike, higiëniese ontwerp van suiweltoerusting en -infrastruktuur, was sy vertrekpunt, is die voorkoming van biologiese, chemiese of fisiese besmetting van die produk of materiaal deur middel van indringing, aansameling of groei.
- So ’n ontwerp het die sogenaamde hazard analysis critical control points (HACCP)-voedselveiligheidsbestuurstelsel as vertrekpunt, met die doel om voorsienbare higiëniese risiko’s tot ’n minimum te beperk en voorkomings- en versagtingsmaatreëls soos reiniging en ontsmetting te bewerkstellig.
- Toerusting moet maklik uitmekaargehaal en weer aanmekaargesit kan word.
- Die ontwerp van toerusting moet daarop gemik wees om kruisbesmetting tussen rou- en verwerkte produkte te vermy deur aparte kanale in te bou.
- Higiëniese ontwerp-risikobestuur in ’n suiwelaanleg is die grondslag vir produkveiligheid, gehalte en verbruikersgesondheid.
Die higiëniese ontwerp van suiwel-infrastruktuur was die onderwerp van bespreking tydens ’n onlangse webinaar wat deur die Suiwelstandaardagentskap (SSA) in samewerking met die Food Risk Forum aangebied is. Die spreker was Peet Grobler, voorsitter van die Suider-Afrikaanse afdeling van die European Hygienic Engineering Design Group (EHEDG), asook hoof van voedselveiligheid van die OFT-groep en verkoopsbestuurder van Sentratek.

Die mikpunt van die behoorlike, higiëniese ontwerp van suiweltoerusting en -infrastruktuur, was sy vertrekpunt, is die voorkoming van biologiese, chemiese of fisiese besmetting van die produk of materiaal deur middel van indringing, aansameling of groei.
So ’n ontwerp het die sogenaamde hazard analysis critical control points (HACCP)-voedselveiligheidsbestuurstelsel as vertrekpunt, met die doel om voorsienbare higiëniese risiko’s tot ’n minimum te beperk en voorkomings- en versagtingsmaatreëls soos reiniging en ontsmetting te bewerkstellig.
Lees meer oor verantwoordelike versorging van melkkalwers.
Tien ontwerpbeginsels beïnvloed die risikobestuursproses, het hy gesê:
1. Verstaan jou risiko
Masjienoppervlaktes word as direk of indirek gedefinieer. Direkte oppervlaktes kom direk met die produk in aanraking, terwyl indirekte oppervlaktes net so belangrik is omdat daar altyd ’n risiko van besmetting is.
Die tipe risiko moet duidelik verstaan word. Veral drie tipes risiko’s – fisies, biologies en chemies – is ter sprake. Die moontlike oorsprong van hierdie risiko’s moet op ’n holistiese basis bepaal en bestuur word.
2. Skoonmaak tot op mikrobiese vlak
In terme van reiniging is daar twee prosesse: Eerstens is daar die oop oppervlakke, wat moeilik-bereikbare plekke insluit, en tweedens geslote oppervlakke soos tenks en pasteuriseerders. Albei het verskillende uitdagings. Daarom moet toerusting sodanig ontwerp word dat doeltreffende reiniging moontlik is en bakteriese indringing, oorlewing en reproduksie soveel as moontlik beperk word.
3. Geskikte materiaal
Die materiaal waarmee toerusting vervaardig word moet totaal versoenbaar wees met die produk, die omgewing, die reinigingsvereistes sowel as die chemikalieë en skoonmaakmetodes wat vereis word. Veral lasse moet maklik gereinig kan word om die opbou van vullis te beperk. Oppervlaktes moet glad en egalig wees vir doeltreffende reiniging en om die opbou van vullis te beperk. Dit moet versoenbaar wees met die omgewing en die tipe chemikalieë wat vir ontsmetting gebruik word.
4. Dreinering
Alle toerusting en pype moet van binne en buite self kan dreineer en maklik skoongemaak word. Horisontale oppervlaktes moet vermy word en oppervlaktes moet altyd ’n val weg van die produk af hê.
5. Toeganklike toerusting
Gemaklike toegang tot al die komponente is ’n vereiste. Toerusting moet maklik uitmekaargehaal en weer aanmekaargesit kan word. Dit is veral belangrik by oppervlaktes wat in direkte kontak met die produk kom. Vinnige en doeltreffende toegang dra by tot die doeltreffendheid van die aanleg, en verminder die risiko van besmetting.
6. Seëls en lasse
Laspunte tussen pype, tenks en ander komponente moet dig wees, maar maklik om skoon te maak. Skroefdraad kan bakterieë huisves, en moet dus vermy word. Doelgemaakte spesiale higiëniese lasse en klampe verseker ’n digte seël en voorkom lekkasie van die produk of skoonmaakprodukte wat tot kruisbesmetting kan lei.
7. Openinge
Die ontwerp moet so soomloos as moontlik wees, sonder growwe voeë, holtes of ander plekke waar vullis kan versamel. Gladde oppervlaktes is noodsaaklik om doeltreffende reiniging te vergemaklik. Sweiswerk moet glad en reëlmatig wees sonder ongelykhede waar vullis vasgevang kan word.
8. Holtes
Vermy ontoeganklike holtes wat moeilik is om skoon te maak deur toe spasies te vermy of dit so te ontwerp dat maklike toegang vir reiniging moontlik is.
9. Vermy kruisbesmetting
Die ontwerp van toerusting moet daarop gemik wees om kruisbesmetting tussen rou- en verwerkte produkte te vermy deur aparte kanale in te bou, veral waar produkte in die ope lug gemeng, getap of verpak word. Dit sluit doeltreffende reinigingsmetodes en aparte reinigingstelsels vir rou- en verwerkte produkte in, tesame met ’n deeglike naspeurbaarheidstelsel vir elke stadium van die verwerkingsproses.
10. Dokumentasie, inspeksie en geldigverklaring
Alle higiëniese ontwerpbeginsels moet aan regulatoriese standaarde voldoen. Higiëniese ontwerp-risikobestuur in ’n suiwelaanleg is die grondslag vir produkveiligheid, gehalte en verbruikersgesondheid. Deur op die beginsels van reiniging, materiaalkeuse, gemak van skoonmaak, deeglike dreinering en voorkoming van kruisbesmetting te fokus, kan verwerkers die risiko van besmetting en bederf aansienlik beperk.
Hierdie beginsels verseker dat suiwelprodukte veilig is en aan die hoogste standaarde voldoen. Daar is ’n magdom riglyne wat risiko-identifikasie en -versagting vergemaklik, het hy gesê. EHEDG, byvoorbeeld, het nie net riglyne vir risikobestuur geformuleer nie, maar bied ook gereeld gevorderde ontwerpskursusse aan en het ook ’n lys van EHEDG-gesertifiseerde toerusting. – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Kyk die webinar hier:
Vir meer inligting, besoek die EHEDG-webtuiste, www.ehedg.org.