Sunday, March 9, 2025

Boere maak sports op Brits

Estimated reading time: 6 minutes

Meer as 200 jongboere van regoor OBARO se bedieningsarea het verlede Vrydag en Saterdag in spanverband kragte gemeet om te sien wie as die 2025 OBARO Inter Unie-kampioene gekroon gaan word.

Twintig spanne het oor twee dae meegeding in vlotbou, vlotroei, toutrek, rip-rugby, paalgooi, kleiduifskiet, sakdra, bylgooi en boogskiet. En natuurlik moes die spanne se gees so hoog as moontlik gevlam het.

  • ’n Punt is ’n punt, ongeag hóé die byl bly sit!

Uiteindelik het die Brits Buite Pêrre met die louere en ’n kontantprys van R100 000 weggestap. Dit was die tweede jaar in ’n ry wat dié groep jongboere van Brits hierdie mylpaal bereik het.

Die Brits Buite Pêrre is voor van links: Ernst Meintjies, Charlie Prinsloo, Herman du Preez, en Hanco Sipsma. Agter van links: Ockie Werner, Cobus Klopper, Hein Klopper, Sydney Blignaut, Justin le Roux, Steph Meintjies, en Lambertus Scheepers. (Foto: Olga-Louise Lemmer)

Die tweede plek is aan Loskop Suid toegeken en dié span het ook die geesbeker verower. Dit beteken dat hulle totale prysgeld vir die naweek op R75 000 beloop het – R50 000 vir die tweede plek en R25 000 vir die geesbeker.

Loskop Suid se span is voor van links: Rudolph Pretorius, Samuel Schmidt, Duan Minnaar, Mossie Oosthuizen, en Christo Basson. Agter van links: Nicol van Wyk, Herbert Hawkey, Francois Brann, Christo Duvenhage, Reg Coetzee, en Anton Botes. (Foto: Olga-Louise Lemmer)

Die Hoedspruit Vlakvarke het die derde plek opgeraap. Wat dié prestasie besonders maak, is die feit dat dit die eerste keer is dat dié span aan die kompetisie deelneem. Hul totale prysgeld het R25 000 beloop.

Die Hoedspruit Vlakvarke is voor van links: Ruan Burger, Hannes Malan, Rudie “Danie Gerber” von Abo, Jaco Scholtz, Hammie Wessels, Hannes Geldenhuys, en Lee van der Merwe. Agter van links: Muis Joubert, Koos Boshoff, Schalk van der Merwe, Nicky Claassen, Stephen Krüger, en Wynand Scholtz. (Foto: Olga-Louise Lemmer)

Pret met ’n doel

Martin Greyling, voorsitter van die Brits Jongboere-vereniging, sê die idee van ’n Inter Unie het uit ’n gesprek voortgespruit wat hy en Nic Bronkhorst, hoof uitvoerende beampte (HUB) van OBARO, na die Covid-19 pandemie gehad het.

In 2019 het die vereniging in samewerking met Burre Burger, HUB van Droogtehulp, Hoërskool Wagpos, en OBARO as hoofborg, ’n Droogtehulpfees gehou waartydens R1,7 miljoen ingesamel is om mense in droogtegeteisterde gebiede te ondersteun.

Hulle het in 2021 weer op dié sukses probeer voortbou nadat Covid 19-regulasies gelig is, deur ’n plattelandse musiekfees te hou, maar die gees was nie dieselfde nie en daardie geleentheid het nie dieselfde sukses behaal nie. Tog kon die boerevereniging steeds die betrokke wins aan Hoërskool Wagpos skenk, wat die skool se fondse ietwat verstewig het.

Só het Greyling en Bronkhorst met mekaar gesels, en gesê hulle sal ’n plan moet beraam om jongboere nader te trek en die gemeenskap weer te bemoedig. Dít het tot die stigting van die Inter Unie gelei.

Die eerste jaar het die Brits Jongboerevereniging die Inter Unie saam met OBARO aangebied, maar sedert verlede jaar het OBARO die leisels volledig in hul hande geneem. “Ek ondersteun dit 100%, want OBARO kan nie partydig wees nie. Dit gaan hier oor jongboere en die toekoms van landbou,” sê Greyling.

Aangesien die Brits Jongboere so ’n groot boerevereniging is, het hulle spesiale vergunning gekry om twee spanne in te skryf – die Brits Skou Pêrre en die Brits Buite Pêrre. “Ons het meer as sewentig lede, waarvan die jongste lid 20 is en die oudste 44 is, so daar is ’n stewige ouderdomsverskil.”

Die ouer manne neem as die Skou Pêrre deel, terwyl die jonger manne in die meer kompeterende Buite Pêrre afdeling meeding. “Die ouer manne ding nooit mee om fisies te wen nie, maar eerder net om deel te neem en die geleentheid te geniet. Die Buite Pêrre is meer ernstig en daarom het hulle dit nou vir die tweede keer gewen.”

Daar is nog nie uitsluitsel oor hoe dié wengeld aangewend gaan word nie, erken Greyling. “Ons is ‘n hegte kommittee wat saam oor die saak besin.” Die vereniging is egter nou betrokke by al die skole op die dorp, verskeie kerke en kinderhuise. Die fondse kan ook vir gemeenskaplike kwessies, soos plaasveiligheidspatrollies, ingespan word.

OBARO staan by boere

Johan van der Heever, OBARO se voorsitter, sê die geleentheid gaan oor veel meer as net die kompetisie. “Ons land se produsente is elke dag in kompetisie met die hele wêreld. En dis belangrik dat ons moet onthou dat ons enige uitdaging die hoof kan bied – mits ons in spanverband veg. Ons boer immers nie alleen nie.”

Buiten vir die sosiale aspekte van die naweek, is dit ook belangrik dat die produsente munt slaan uit die nuwe verhoudings wat hulle gebou het, sê Van der Heever. “Dié is ’n gulde geleentheid om gedagtes met medeprodusente uit te ruil. Of jy nou van grondbone, tabak of groente wil weet – hier is ’n paar kenners op elke gebied betrokke die naweek.”

Van der Heever het afgesluit deur die produsente te herinner aan die spanne van die Noord-Kaap, wat weens verspoelings nie die geleentheid kon bywoon nie. Sommige produsente was vasgekeer en kon glad nie hul plase verlaat om die geleentheid by te woon nie. Tog was daar ander produsente wat ten spyte van hul vloedskade hul weg kon oopsien om die geleentheid by te woon.

“Die gebeure in die land oor die afgelope paar weke het my weer laat besef: Ons as boere moet vir mekaar help en sorg. Daar is niemand anders wat oor julle worry nie. OBARO deel ook in daardie lief en leed. Julle is deel van die OBARO-familie en daarom wil ons julle ook help.” – Susan Marais, Plaas Media

Danksy TalTec kon die boere bietjie in ’n dipgang afkoel.

On buying a cheaper Chinese vehicle

Estimated reading time: 4 minutes Gert, our farm mechanic, often gets consulted by young staff...

The future calf in mind: Supplementation of beef cows

Estimated reading time: 5 minutes The nutritional requirements of beef cows change as they proceed...

Laat die beeste die praatwerk doen

Estimated reading time: 7 minutes Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar...

Damage caused by game: Who is legally liable?

Estimated reading time: 5 minutes This raises the question as to whether someone can be...