Estimated reading time: 7 minutes
- Die Sakkie (oftewel Izak) en Nicky Nell Boerbokboerdery se Boerbokstoet (stoetnommer 106) is een van die oudste aktiewe Boerbokstoeterye in die land.
- Tydens Veeplaas se besoek op die twee plase, was Sakkie en Nicky dit eens dat daar baie kuddeboere in die land is wat uitstekend vaar deur met stoetgehalte ooie te boer, goeie gehalte ramme te koop, en streng seleksie toe te pas.
- Behalwe vir die Boerbokboerdery, neem die twee graag deel aan skoue en is gekwalifiseerde Boerbok-beoordelaars.
- Wanneer iemand met Boerbokke boer sonder om ag te slaan op die diere se belangrike eienskappe, is die kanse baie goed dat die eindproduk slegs ’n slagwaarde gaan lewer.
- Streng seleksie is die wagwoord en diere wat nie presteer nie, word summier uitgeskot.
Die Sakkie (oftewel Izak) en Nicky Nell Boerbokboerdery se Boerbokstoet (stoetnommer 106) is een van die oudste aktiewe Boerbokstoeterye in die land. In 2025 sal die Nell-familie al 100 jaar in die Boerbokbedryf betrokke wees.
Louis Nell (sr) het een jaar baie groot skade met sy Angora-bokke by ’n skuur op sy plaas in Jansenville gely. Hy het daarna, in 1925, besluit om eerder met Boerbokke te boer. Hierdie besluit het verder uitgekring tot in die jaar 1959, toe hy een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging was.
Ná hom het sy seun, Louis Nell (jr), in sy voetspore gevolg. Louis (jr) het weer vier seuns gehad, onder wie Izak, oftewel Sakkie, wat vandag saam met een van sy drie kinders, Nicky, boer. Die twee woel en werskaf op die plase Brakrivier en Groenlaagte met kommersiële en stoet-Boerbokke, Kalahari Reds, Angoras, Dorpers en beeste.
Reëls vir goeie rede
Tydens Veeplaas se besoek op die twee plase, was Sakkie en Nicky dit eens dat daar baie kuddeboere in die land is wat uitstekend vaar deur met stoetgehalte ooie te boer, goeie gehalte ramme te koop, en streng seleksie toe te pas.
Behalwe vir die Boerbokboerdery, neem die twee graag deel aan skoue en is gekwalifiseerde Boerbok-beoordelaars. “Wanneer ons die ramme toets, kyk ons na dié wat eienskappe soos manlikheid, karakter, plooie, oogbanke, korrekte pote en hakke toon,” sê Nicky. “ ’n Boerbokooi moet oor die nodige vroulike eienskappe beskik om haar bokkies groot te maak. Verder is ’n bok se lengte, diepte en breedte oor die kruis belangrik.”
Hy voeg by dat die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging ’n goeie rede het vir elke reël wat rondom die rasstandaarde gemaak word. “Daar is, byvoorbeeld, ’n goeie rede waarom ’n Boerbok se lyf wit en die kop rooi moet wees; dit is dat die pigment van die gekleurde gedeelte die dier teen sonskade of sonkanker beskerm.” Die kleur by Boerbokke wat in hierdie stadium die meeste voorkeur in die bedryf geniet, is ‘Bonsmara-rooi’.
Wanneer iemand met Boerbokke boer sonder om ag te slaan op die diere se belangrike eienskappe, is die kanse baie goed dat die eindproduk slegs ’n slagwaarde gaan lewer. “Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar as jy jou daarop toespits om met gehalte bokke te boer,” sê Sakkie. “Dan kry jy ’n slagwaarde plus aanteelwaarde vir jou bokke. En dit beteken jy kan jou bokke vir meer as net hul slagwaarde verkoop.”
Geharde diere laat die somme klop
Die hooffokus van hulle onderneming is om goed-aangepaste ramme met goeie balans te teel, sodat ’n ram wat in die veld afgelaai word, dadelik sal aanpas om sy werk behoorlik te doen.
Behalwe dat hulle ekstensief boer en, waar moontlik, wisselweiding toepas, word ’n groot gedeelte van hul inkomste uit goeie voedingspraktyke gegenereer. “Terselfdertyd moet ons in ag neem dat ons eindproduk vir die slagmark geoormerk is,” sê Sakkie. “Dit is vir ons belangrik om meer uit ’n bok te kry as wat ons insit. Daarom maak ons grotendeels op die veld staat en gee slegs vir ons diere byvoeding wanneer dit nodig is.”
Hy glo dit sal die einde van hul boerdery beteken as die diere voltyds gevoer sou word. Hy gebruik ’n voorbeeld: “Kom ons neem aan dat die lampersentasie van ’n trop ooie 150% is. Voeg nou daarby die hoeveelheid voerpille wat ’n ooi teen sowat R6/kg vreet. Dit bring die som te staan op R15/dag wat dit ’n produsent kos om die ooi te onderhou en R450 vir die hoeveelheid voer wat sy maandeliks vreet. Indien die ooi se bokkies op 100 dae gespeen sou word, is die voerkoste per ooi sowat R1 350.”
Boer ekonomies met goeie oordeel
Streng seleksie is die wagwoord en diere wat nie presteer nie, word summier uitgeskot. “Daar is twee lamseisoene,” verduidelik Nicky. “Ons paar die ooie in die veld en hou dié wat swaardragtig is in kampe nader aan die huis. Dit is vir ons belangrik om ekstra toesig te hou in lamtyd. Daarom lam die ooie in kleiner kampe.”
Die eerste ses weke van ’n klein bokkie se lewe is baie belangrik en die ooie moet genoeg melk hê. Wanneer die bokkies enkele weke oud is, word hulle volgens ’n stelsel wat die ram en ooi se data insluit, genommer. Wat die stoetbokke betref, word hierdie inligting aan SA Stamboek gestuur. “Ons gaan die jong ooie deur wanneer hulle sowat 12 maande oud is en kies dan 50 tot 60 van hulle as vervangingsooie op die plaas.” Die res van die ooie gaan na hul veiling.
Die jong rammetjies word op vier maande gespeen. “Ons ondersoek hulle vir enige ooglopende foute en sit hulle tussen die ouderdom van ses tot sewe maande op spesiale ramveld waar hulle dan mooi uitgroei. Daarna word hulle met die nodige voeding afgerond om gereed te wees vir die veiling, of om mee te skou. Ons ramme is gewoonlik op sowat 18 maande gereed vir die veiling.”
’n Deurlopende mark
Die mark vir Boerbokke het deur die jare verbeter en Sakkie voorsien dat daar altyd ’n aanvraag vir dié ras sal wees. “Die aanvraag daal gewoonlik ietwat tussen Januarie en Mei, en dan klim die pryse weer kwaai tussen Junie en Januarie. As jy in ag neem hoe die bevolking in ons land en die wêreld toeneem, glo ek ons sal altyd ’n mark vir ons diere hê.”
Die Nell’s glo een van die belangrikste maatstawwe vir ’n veeboerdery is ’n liefde vir die betrokke dier of ras. Sakkie glo dit sal moeilik wees om suksesvol met iets te boer as ’n mens nie ’n passie daarvoor het nie. “Gelukkig kan ’n Boerbok baie maklik in ’n mens se hart inkruip.” – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Sakkie Nell by 082 575 6095 of sakkie.nell@outlook.com, of Nicky Nell by 081 468 9477 of njnell@live.co.za.