Thursday, December 12, 2024

Biosekuriteit op die plaas (deel 7): Biosekuriteit in kommunale gebiede

Estimated reading time: 7 minutes

  • Haarwurm en ander rondewurmparasiete kom nie baie algemeen voor by kuddes wat oornag in ’n kraal geplaas word en wei op baie kort gras wat met beeste, bokke en perde gedeel word nie.
  • Staatsveeartse wat poog om uitbrekings van skaapbrandsiekte te beheer, kla dikwels dat dit onmoontlik is om alle diere met een poging te dip of ent, aangesien hulle in die berge en op omliggende plase rondloop.
  • ’n Trop- en kuddegesondheidsprogram sal daaglikse behandeling van diere met voetprobleme moontlik maak.
  • Daar is baie meriete in ’n kuddegesondheidsprogram waarin ‘n veeprodusent met meer ondervinding die kraal een keer ‘n maand besoek.
  • Om moontlike besoedeling te voorkom, raai ons gemeenskapsboere aan om slegs weggooibare plastiese spuite te gebruik en dit nie te hergebruik nie.

Ten spyte van algemene persepsies is die lampersentasie van skape in landelike kommunale gebiede baie hoog. Ongelukkig is lamvrektes ’n jaarlikse ramp met minder as 10% wat op ’n algemene basis gespeen word.

Haarwurm en ander rondewurmparasiete kom nie baie algemeen voor by kuddes wat oornag in ’n kraal geplaas word en wei op baie kort gras wat met beeste, bokke en perde gedeel word nie. Tog is deurdrenking met duur wurmmiddels die algemeenste, indien nie die enigste nie, gesondheidsbehandeling wat in baie klein kommunale troppe en kuddes toegepas word.

Beheer van siektes

In my praktyk het byna alle uitbrekings van minder bekende siektes in die algemeen voorgekom as diere uit ander streke ingebring is. Enkele voorbeelde is skaapbrandsiekte, beesvirusdiarree (BVD), sponssiekte en ’n baie seldsame hartwateruitbreking.

Staatsveeartse wat poog om uitbrekings van skaapbrandsiekte te beheer, kla dikwels dat dit onmoontlik is om alle diere met een poging te dip of ent, aangesien hulle in die berge en op omliggende plase rondloop. Sommige word in plakkershutte weggesteek, omdat die eienaars vrese het oor dinge soos eienaarskapsgeskille en veediefstal, of omdat daar te min veewagters is om die skape na die behandelingsgebied te bring.

In die sogenaamde Lalies, die tradisionele gebiede waar grondbesit by tradisionele leiers berus, sien ’n mens dikwels skape met wolverlies en al het die veeartsdienste deurlopende veldtogte wat op beheer gemik is, blyk suksesse wisselend te wees. Sommige gemeenskappe het diptenks wat oor baie dekades bygedra het tot die vermindering van bosluisoordraagbare siektes soos hartwater. Hierdie stelsel bied egter steeds baie uitdagings.

Lees deel 6 van die reeks van biosekuriteit-artikels.

Baie diere, indien nie die meeste nie, oornag in krale naby hul eienaars se huise. Hulle word soggens na nabygeleë weiding geneem en aan die einde van die dag teruggejaag na die kraal. Bokke vind gewoonlik hul eie pad terug. Dit gebeur dat sommige diere in die veld agterbly en per ongeluk met ander troppe saamtrek; en dit kan lei tot die verspreiding van kontaksiektes soos geslag- of omgewingsiektes.

Die praktyk om diere oornag in ’n kraal te hou, het nadele vanuit ’n biosekuriteits-, gesondheids- en welsynsoogpunt, maar skep tog ‘n geleentheid vir waarneming en siektebeheer. Diere word daagliks gesien en kan behandel word voordat siektes vorder of versprei. Baie huishoudings in die Lalies bestaan uit bejaardes en kinders wie se ouers in stedelike gebiede werk – nog ’n faktor wat siektebeheer bemoeilik.

Daaglikse roetines

’n Trop- en kuddegesondheidsprogram sal daaglikse behandeling van diere met voetprobleme moontlik maak. Dit kan gedoen word deur ’n klein voetbad by die ingang van die kraal te bou, dit een keer per week of soos nodig, met insekdoder en/of sinksulfaat (10%) te vul. Dit kan vrotpootjie, bosluise en voetluis beheer en voorkom.

Die gebruik van ’n opgietmiddel teen bosluise, luise en brommers kan met min moeite in die kraal toegedien word omdat diere gewoonlik baie mak is en hanteer kan word. ‘n Klein drukgang by die ingang kan ook help met die beheer van siektes.

Maandelikse roetines

Die diere in die familiekraal het dikwels verskillende eienaars waarvan die meeste familielede is wat die kraal van tyd tot tyd besoek. Daar is baie meriete in ’n kuddegesondheidsprogram waarin ‘n veeprodusent met meer ondervinding die kraal een keer ‘n maand besoek.

In my praktyk werk ons stelsel waarin ons ook die gemeenskap se voorste veeprodusent onderrig, soos volg:

  • Alle pasgebore lammers ontvang ‘n bloednierinenting en ‘n rooi verfkol op die rug of kop.
  • Alle lammers wat reeds die vorige maand ‘n rooi kol gekry het, ontvang ‘n tweede dosis bloednierinenting en ‘n tweede rooi kol.
  • Lammers met twee rooi kolle kan hul eerste bloutonginenting en ‘n blou verfkol ontvang; dié met een blou kol kry bloutong B en ‘n tweede kol, ensovoorts.
  • Diere kan jaarliks in die lente die dooie Slenkdalkoors-entstof ontvang en beeste kan teen knopvelsiekte ingeënt word. ‘n Swart verfkol op skape kan aandui dat hulle ingeënt is.
  • Alle ooie wat sigbaar dragtig is, ontvang ‘n dosis bloednierentstof of behandeling teen Pasteurella en siektes soos bloednier, sponssiekte en baarmoedersponssiekte en bloedpens. Dit sal die teenliggaampies in biesmelk verbeter en help om die pasgebore lam te beskerm. Ons ondervinding is dat speenpersentasies in die eerste jaar van ‘n laagtepunt van 30% tot ‘n goeie 70% kan styg as gevolg van ‘n beter siektevoorkomingsprogram.

‘n Opgeleide persoon kan die Famacha-metode (geteikende selektiewe behandeling) maandeliks toepas om haarwurm en ander rondewurms te beheer.

Kalwers kan maandeliks hanteer word met die oog op kastrering, onthoorning en bosluisbehandeling. Kalwers wat die vorige maand geprosesseer is en ouer as twee maande oud voorkom, kan ’n kombinasie-entstof vir spons-, lam- en miltsiekte ontvang. Dis dalk ’n bietjie vroeg, maar ons het herhaaldelik kalwers gekry wat op vier maande aan sponssiekte gevrek het.

Lees meer oor die belangrikheid van ‘n verkopersverklaring.

Hantering van entstowwe

Dooie geaktiveerde entstof: Hoewel dit nie aanbeveel word om dosisse oor ’n lang tydperk uit die entstofbotteltjies te onttrek nie, is die realiteit dat kommunale troppe en kuddes dikwels net ’n paar dosisse elke maand benodig. Die vervaardigers beveel aan dat ongebruikte dooie entstof weggegooi word en hulle kan uiteraard nie verantwoordelik gehou word as die entstof bietjie-bietjie gebruik word nie.

Om moontlike besoedeling te voorkom, raai ons gemeenskapsboere aan om slegs weggooibare plastiese spuite te gebruik en dit nie te hergebruik nie. Die entstofbottel moet onmiddellik na gebruik met ’n paar druppels warm gesmelte was verseël word en dan tot die volgende maand in die yskas gebêre word. Produsente word altyd ingelig dat die gebruik daarvan geheel en al op eie risiko is. Dit word meestal suksesvol in kuddes gebruik en hoewel dit nie ideaal is nie, is dit die enigste oplossing in gemeenskappe met min hulpbronne.

Lewende entstowwe: Lewende entstowwe moet binne ’n paar uur gebruik word en gemeenskapsboere word aangeraai om saam te werk om byvoorbeeld bloutong-entstof met hul onmiddellike bure te deel. In baie gevalle is daar dalk nie genoeg dosisse vir al die diere in ’n kudde nie en ons beveel dus aan dat die jonger diere geprioritiseer word. Die gebruik van verfmerkers verseker dat die diere wat nie in ’n bepaalde maand ingeënt is nie, by die volgende geleentheid ingeënt word. Die kommunikasie tussen huishoudings en samewerking in die gemeenskap is baie doeltreffend en vind selfs by die kerk, tradisionele seremonies, begrafnisse, en dies meer plaas.

Skaapbrandsiekte-inspuiting: ’n Driemaandelikse inspuitroetine met Ivermektien word in kommunale gebiede en selfs op klein plasies in landelike gebiede gebruik om skaapbrandsiekte suksesvol te beheer. Dit het ook bytluise, tampans en skadelike bosluise verminder en geen tekens van parasietweerstandigheid is nog bespeur nie. In talle troppe het dit het die wolopbrengs met meer as 50% verbeter. Ons beveel aan dat ander insekdoderklasse tussendeur die driemaandelikse Ivermektien-inspuiting aangewend word om moontlike weerstand teen Ivermektien te verminder. Ongelukkig sal Ivermektien nie veel nut hê vir haarwurmbeheer nie, aangesien die praktyk tot weerstandigheid lei.

Voeding en siektebeheer

Die beperkte voedingsbronne in kommunale gebiede het ’n groot invloed op siektebeheer. In die winter kan vitamien A een of twee keer toegedien word om immuniteit aan te help. Die strategiese voorsiening van aanvullings aan sigbaar dragtige diere in die kraal kan geskied deur die dragtige diere van die res van die trop of kudde te skei.

Baie gemeenskapsboere produseer hul eie mielies en daar is gewoonlik mielies en reste beskikbaar as aanvulling vir dragtige en groeiende diere. Met goedkoop bykomende bestanddele as deel van die resep is hierdie ‘n bekostigbare praktyk. Lusern, kuilvoer en talle kommersiële aanvullings is duur vir hierdie gemeenskappe as gevolg van die klein volumes wat vervoer en verkoop word.

Kleinboere in die Lalies gebruik ‘n Dundee-lek, ’n sjokoladegraanresep en ’n fosfaatlekresep wat geskik is vir vermenging in klein hoeveelhede. Mielies word dikwels net so gevoer en in ‘n paar gevalle is selfs klein hoeveelhede oliekoekmeel ongemeng gevoer, met gevolglike gesonder lammers met beter immuniteit. – Dr Johan van Rooyen, Steynsburg Dierehospitaal

Tabel 1: Gesondheidsprogram vir kommunale boere (meeste kalwers word in Oktober gebore).

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 of veearts.sdh@nokwi.co.za.