Monday, February 3, 2025

BEK amper oral onder beheer

Estimated reading time: 2 minutes

Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) het bekendgemaak dat alle uitbrekings van bek-en-klouseer (BEK) – buiten dié in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap – as opgelos en afgehandel bestempel word. Dít is vandag deur die Nasionale Departement van Landbou (NDA) bevestig. Die NDA het ook bevestig dat geen nuwe uitbrekings van BEK aangeteken is nie.

Volgens die departement was daar in die afgelope vier maande geen nuwe uitbrekings van BEK in die Oos-Kaap nie. Die siektebestuursarea bly egter in plek en die situasie word voortdurend gemonitor om te verseker dat geen infeksies ongemerk voortduur nie. ‘n Totaal van 73 plase in die Kouga- en Koukamma-munisipaliteite se diere het die siekte onder lede gehad of is voorkomend geïmmuniseer.

In die Pongola- en Mtubatuba-areas van KwaZulu-Natal is daar geen tekens van die verspreiding van BEK nadat die laaste gevalle laat in 2024 aangemeld is nie. Die geaffekteerde diptenks is steeds onder kwarantyn en diere by nabye diptenks is voorkomend ingeënt. Die minister van landbou het ook gesê hy oorweeg om die siektebestuursarea te wysig.

RPO verwelkom aankondiging

Dr Frikkie Maré, hoofuitvoerende beampte van die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het gesê hy verwelkom die aankondiging deur owerhede. “Dis baie positief, want dit voel of daar vordering gemaak word.”

Vir so lank as wat BEK-uitbrekings aktief is en siektebestuursareas in plek is, voel dit asof daar nie veel gebeur nie en dit kan produsente se moed breek, het dr Maré bygevoeg. “Namate provinsies BEK-vry verklaar word, beweeg ons na ‘n punt toe en dit is verblydend. Dit bring die hoop dat ons weer ons BEK-vrye status kan herwin.”

Dr Maré het produsente egter gewaarsku dat dié besluit van die WOAH nie beteken dat alle markte oornag weer vir Suid-Afrikaanse diereprodukte geopen sal word nie. “Dit gaan ‘n redelike proses verg om grense vir ons produk oopgemaak te kry.”

Die vordering bied egter ten minste die moontlikheid dat ander lande weer ondersoek na Suid-Afrikaanse produkte sal begin instel. – Susan Marais, Plaas Media

Korrekte bewyslewering is belangrik

Estimated reading time: 4 minutes Tydens dissiplinêre verhore en arbitrasieverrigtinge is die werkgewer verantwoordelik om...

As die SAPD weier om klagtes te aanvaar en ondersoeke nie vorder nie

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die...

The consequences of not reporting livestock theft

Estimated reading time: 5 minutes South Africa is unique in publishing official livestock theft statistics,...

Predation takes on new dimensions

Estimated reading time: 7 minutes Jackals and caracals remain Karoo livestock producers’ greatest concern, with...