Estimated reading time: 10 minutes
Wat is my en die georganiseerde landbou se verantwoordelikheid in die landbou? Dit was die vraag waarmee Willem Symington, president van Agri Noord-Kaap (Agri NK), die organisasie se 45ste jaarkongres in Kimberley afgeskop het.
Symington het in sy presidentsrede gesê landbouproduksie word nie net deur uiterste klimaatstoestande geraak nie. Ander faktore soos finansies, rentekoerse, produksiekoste en so meer laat die winsmarges op landbouproduksie krimp en die risiko’s wat produsente daagliks in die gesig staar, raak al hoe groter. Ons moet besef produksie kan nie in isolasie plaasvind nie. Landbouers moet met ander rolspelers hande vat om volhoubaar te boer.
Hy het gesê landbouprodusente word nie meer na waarde geag nie, en as die landbouers nie self aan ’n positiewe beeld begin bou nie, gaan dit ’n invloed op landbousekuriteit hê. Die landbougemeenskap van Suid-Afrika is egter daarvoor bekend dat hulle opstaan wanneer hulle ’n terugslag ervaar het.
“In Suid-Afrika vertel boere nie hoe swaar ons gekry het in die droogte van die afgelope paar jaar nie – ons vertel eerder vir mekaar wat ons daaruit geleer het en hoe ons daaruit gekom het. Landbouers in die Noord-Kaap is ook bekend daarvoor dat hulle by hul gemeenskappe betrokke raak en help om plattelandse gemeenskappe weer op te bou. Dit is die voordeel wat die plaaslike regerings tot hul beskikking het, maar nie na behore gebruik nie.”
Hy sê landbouers het al male sonder tal gepoog om verhoudings met die provinsiale regering op te bou en aan hulle te verduidelik waar die probleemgebiede is, maar hierdie pogings is telkens tevergeefs. Een van die grootste probleme in die landbousektor is die swak paaie en dit kry die minste aandag. Hy het die wens uitgespreek dat hierdie verhouding met die Departement van Landbou en ander departemente in die komende jaar versterk sal word.
Toekomsvisie van landbou
Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA, het oor die stand van landbou vandag en die toekomsvisie wat Agri SA vir die landbou het, gesê mense kyk gerieflikheidshalwe maklik weg van die rol wat landbouers speel. Tussen 1900 en 1958 het die wêreldbevolking van 1,7 tot 3 miljard gegroei. Teen 2018 het dit reeds tot 6 miljard vermeerder en teen 2025 gaan dit op 10 miljard staan.
Die landbou se taak is om aan al daardie mense voedsel te verskaf, maar hulle kry nie ekstra grond om dit te doen nie. Landbouers moet beplan om meer te produseer met minder hulpbronne, en moet dus volhoubaar kan boer.
“Voedselsekerheid hang van bekostigbaarheid, beskikbaarheid, gehalte, veiligheid van voedsel, volhoubaarheid en aanpasbaarheid af. ’n Paar belangrike faktore gaan die volhoubaarheid van suksesvolle boerdery bepaal. Dit sluit voedselsekerheid, dieregesondheid, uitvoermarkte, infrastruktuur, landelike veiligheid, beleid en die regulatoriese omgewing in.”
Volgens Kotzé is die Landbou- en Agriverwerkingsmeesterplan (AAMP) ’n baie goeie dokument wat gebruik kan word, nie as ’n wet nie, maar as ’n riglyn om die toekoms van volhoubare landbou te verseker. Agri SA wil graag daarmee werk.
Hy sê Agri SA se korttermynvisie is:
- Beter kommunikasie tussen rolspelers in die waardeketting asook beter kommunikasie met belanghebbendes buite die direkte waardeketting soos die politici.
- Die verbetering van landbou se beeld.
- Die bou van kapasiteit om ook die belange van die landbougemeenskap in Suid-Afrika se beskerm en te bevorder.
Gemeenskapsbetrokkenheid
Tydens die Agri NK-kongres is gemeenskapsbetrokkenheid en landbouers se rol daarin bespreek. In ’n paneelbespreking met Jasper Nieuwoudt van Vanrhynsdorp en Wilco Fourie, president van die Oranjerivier Landbou-unie (ORLU), onder aanvoering van Wiaan Janse van Rensburg, visepresident van Agri NK, het Nieuwoudt gesê ’n suksesvolle gemeenskap is waar almal in die gemeenskap inkoop en saamwerk om ’n sukses van daardie gemeenskap te maak. Daar is ’n interafhanklikheid tussen al die rolspelers, en daardie skakels moet sterk gehou word. As een van die skakels breek, is die ketting daarmee heen.
Die ideaal sal altyd wees om plattelandse gemeenskappe te behou, maar dit kan slegs gedoen word deur die doeltreffendheid en winste van boerdery te verhoog en produsente betrokke te maak by gemeenskapsake, want landbou is in die meeste gevalle die ruggraat van daardie plattelandse gemeenskappe.
Fourie het beklemtoon dat die opbou van die platteland nie deur die regering gedoen gaan word nie. Die behoud van die klein gemeenskappe lê in die hande van die boere. “Elke gemeenskap se behoefte verskil van die volgende en daarom moet elke landbouer self besluit watter plan hy kan maak om die behoefte in sy gemeenskap aan te spreek.”
Fourie sê mense moet uit die groef van tegnologie kom, want individue het te gewoond geraak om nie saam te werk nie. “Ons moet saamkom, saam bid vir ons gemeenskap en saamwerk om daardie behoeftes te bevredig.”
Familieboerderye
Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het ’n paar teerpunte oor familieboerdery aangeraak en veral die manier hoe so ’n praktyk van een geslag na ’n volgende oorgedra moet word.
Hy sê die sukses van ’n familieboerdery gaan oor die aangee, omgee en deel word van die besigheid. “Jy besit nie die familiebesigheid nie, jy leen dit net van jou kleinkinders en kan net vir ’n bepaalde tyd hoof wees van die onderneming, maar in die een of ander stadium moet dit aan die volgende geslag oorgegee word.”
Uit sy ervaring met verskillende familiebesighede het hy agtergekom daar is verskeie redes waarom ’n familiebesigheid kan misluk.
- Families brei vinniger uit as wat die besigheid groei en elkeen eis sy pond vleis.
- Besigheidsbelang teenoor familiebelang. Vorster sê dit is nie elke individu se reg om gefinansier te word nie. Die groot belang lê in die familiebesigheid.
- Swak opvolgings- en gebrekkige finansiële beplanning is ook ’n rede waarom familiebesighede kwyn. Voorsiening moet gemaak word vir aftrede. Dieselfde geld vir boedelbeplanning. Te veel mense kan afhanklik raak van die familiebesigheid en daar is geen opvolgstrategie nie. Daarom is die ouers geneig om te lank in die familiebesigheid te wil aanbly.
- Gebrekkige of geen grondwet vir die familiebesigheid nie. Dit is belangrik dat daar ’n grondwet moet wees waarvolgens die besigheid bestuur word, anders gaan dit nie lank neem voordat die besigheid ten gronde bestuur sal word nie.
Vorster glo die belangrikste element in ’n suksesvolle familiebesigheid is goeie kommunikasie. Alles begin by ’n familiedroom, maar daardie droom kan ook van geslag tot geslag verander. Daarom moet daar ruimte wees om aan te pas en elkeen in die besigheid moet weet wanneer om die stokkie aan die volgende geslag oor te gee.
Klimaatsverandering en landbou
Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, een van die sprekers tydens ’n paneelbespreking oor die toekoms en beskikbaarheid van water en die bestuur daarvan, het gesê Suid-Afrika stuur op ’n enorme waterkrisis af as daar nie ingrypende veranderings kom nie. Hierdie veranderings moet by die produsent self begin.
Hy sê Agri SA neem deel aan inisiatiewe om ’n watermandaat te formuleer met dien verstande dat alle watergebruikers deur die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998) gemagtig sal wees en dat geen onwettige gebruik van water geduld gaan word nie. Sowat 40% van die beskikbare water word vermors en die mandaat beywer hom vir doeltreffende watergebruik. Daarom moet die verifikasie en bekragtiging van waterregte so spoedig as moontlik voltooi word. Onbenutte waterbronne moet so gou as moontlik geïdentifiseer en ontwikkel word.
Prof Mike Muller, ’n ingenieur en ontwikkelingspesialis, sê die waterkrisis spruit in die eerste plek uit die langdurige droogte wat die land beleef het, maar ook uit die swak bestuur van water, veral deur munisipaliteite. Hy sê die landbou kry dikwels die skuld vir oormatige watergebruik, maar dit is nie waar nie. As meer damme gebou en water beter bestuur word, sal ’n groot deel van die krisis reeds opgelos wees.
“Klimaatsverandering is ’n werklikheid, maar dit is nie einde van die pad nie. Daar is al telkemale oorstromings en meer intense reënstorms voorspel, maar daar word nie voorsiening hiervoor gemaak nie. Daarom het die swak bestuur van klimaatsverandering ’n groter impak as wat werklik nodig is,” sê hy.
Vir meer inligting, skakel 053 832 9595 of besoek Agri-Noord-Kaap se webtuiste www.agrink.co.za. – Koos du Pisanie, Plaas Media