Sunday, March 9, 2025

Williston-landbouskou 2025: Sonskyn na die reën

Estimated reading time: 5 minutes

Williston-landbouskou is ’n hoogtepunt op die Karoo se landboukalender. Ten spyte van knellende landboutoestande en droogtes waaronder boere gebuk gaan, stuit hierdie gemeenskap nie vir die uitdagings nie en gaan die skou jaarliks van krag tot krag. Alle gastehuise op die dorp was vol bespreek en die skoolkoshuis was vir verblyf beskikbaar gestel.

Na die inweeg van vee by die Cavalier Williston Abattoir, het skougangers Donderdagaand gesellig saamgekuier en gesels oor die welkome reën wat oral in die distrik geval het. Berig is ontvang dat 75 tot 100mm uitgesak het in die Klein Sakrivier waar Hernus le Roux woon. Aangesien hy by die slaglamkompetisie en die Jeugskou betrokke is, moes hy amper Vrydagoggend te voet deur die rivier stap om by die skou te kom.

Die skou is bekend vir sy groot jaarlikse perde-kampioenskap en het sommer vroeg Vrydagoggend afgeskop met sowat 100 inskrywings. Die hoogtepunt van hierdie kompetisie is wanneer mense van heinde en verre Saterdagmiddag die finale kompetisie geniet.

Duiwe en hoenders is ook vroeg Vrydagoggend ingepen en is al jare lank deel van die skou. Die pryse in hierdie afdeling, is laat Saterdagmiddag oorhandig.

Daar is saans baie lekker gekuier en die idee om die bestaande sinkstoor by die kuierarea in te lyf, was briljant. Al die gaste kon nou die kroning van die skoukoningin, die skaapkop-eetkompetisie en die vertoning deur Ricus Nel baie geniet. Williston-skoubestuur onder die bekwame leiding van Keith Coetzee kan hulself op die skouer klop vir die uitstekende gehalte van die skou, sowel as die fasiliteite en die welkome kuiergeleentheid wat hul vir boere en gaste van oraloor daarstel.

Annalien Erasmus van Prince Alfred Hamlet het tweede gekom in die SA-ryklas onder 18 tydens die Williston-skou. Sowat 100 perde is ingeskryf en die finale kompetisie is op Saterdag 22 Februarie aangebied.

Dohne Merinos

Die Dohne Merino-telers het ’n kuddeskou aangebied. Sewe vertoners is verwag, maar weens te veel reën in die distrik kon net 3 vertoners by die skou opdaag. Sowat 30 stuks vee is vertoon.

Philip en Jan-Frederik van Schalkwyk van Walkraal boerdery, Williston het die kampioen sowel as reserwe kampioen vertoon.

Die beoordelaars was Thinus van Schalkwyk van BKB, en Hannes van der Westhuizen van OVK, met Jan Esau van BKB as ringmeester. Keith en Kennet-Keith Coetzee was die organiseerders.

  • Philip en Jan Frederik van Schalkwyk van Walkraal Boerdery, Williston het die kampioen- sowel as reserwe kampioen-Dohné Merino by die Williston-skou vertoon. Van links is Jan Esau, ringmeester; Kenneth-Keith Coetzee, organiseerder; Hannes van der Westhuizen, beoordelaar van OVK; Philip en Jan Frederik van Schalkwyk; Keith Coetzee, skou-president; en Thinus van Schalkwyk, beoordelaar van BKB. Die hanteerders is Pietie Tieties en Keenan Malgas.

Boerbokke

By die Boerbokke was daar 6 vertoners en 140 stuks vee is beoordeel. Albert van Zyl, ’n geregistreerde Boerbokkeurder, was die beoordelaar met Adriaan Louw as ringmeester. Wilhelm Steenkamp was die organiseerder.

Die kompetisie is oorheers deur die Nico Botha Boerbokstoet van Britstown. Die grootkampioen-ooi is vertoon deur hierdie stoet, met die eienaar Casper Byleveld en sy seuns wat die pryse in ontvangs geneem het. Die reserwe kampioen was van CNC Boerdery van Prieska waar Martin Compion, bestuurder van die stoet, die pryse ontvang het.

Die grootkampioen-Boerbokram, sowel as reserwe kampioen-ram, het gekom uit die Nico Botha Boerbokstoet van Casper Byleveld en sy seuns, Dawie en Nico.

Melkbokke

By die melkbokke was daar sterk kompetisie tussen 8 vertoners wat 73 diere ingeskryf het.

Die kampioen-melkbok is vertoon deur Ockert Vermeulen van Fraserburg en die reserwe kampioen deur Jan-Frederik en Philip van Schalkwyk van Williston.

Die beoordelaar was Walter Curlewis, wie baie beïndruk was met die gehalte van die diere. Dewald Esterhuysen was die ringmeester.

Dorpers en Witdorpers

’n Gesamentlike kuddeskou van Dorpers en Witdorpers is aangebied. Daar was 9 telers en 140 diere. Weer het die reën sommige vertoners van die skou weggehou. Die beoordelaars was Gideon Viviers, en Ilze en Johnny Coetzee. Frans Louw junior was die ringmeester.

Die kampioen-ooi het uit die Dorperstoet van Chris en Marinus Blom gekom. Matie le Roux het die reserwe kampioen-ooi vertoon.

Jeugskou

Die Jeugskou vorm ’n belangrike platvorm vir jongmense om, soos in die perdeklasse, deel te neem aan die Williston-skou. Weens wye en baie welkome reën in die distrik, is die opkoms hier ook in die wiele gery.

Ses en sestig kinders het van wyd en syd gekom om aan 15 klasse deel te neem. In sommige van die klasse, soos die melkbokke, was die belangstelling só groot dat hulle tot drie uitdunne moes hou. Die organiseerder, Hernus le Roux, het Plaas Media bedank vir hul teenwoordigheid en borgskap.

Slaglamkompetisie

Een van die groot hoogtepunte, was die Cavalier Williston Abattoir-slaglamkompetisie. Hier is 120 karkasse beoordeel. Die wenners van die kompetisie is Saterdagmiddag aangewys.

Die enkelkarkaskompetsie is deur Roux Steenkamp van Carnarvon gewen met ’n punt van 99,24%. Hy het hier ook die tweede en derde plekke behaal. Steenkamp het ook die groepkarkaskompetisie gewen met ’n punt van 96,45%.

Die tweede plek is behaal deur sy pa, Bertus Steenkamp, met Isak van der Colff van Williston in derde pel.

In die slaglamkompetisie vir opkomende boere, het Juhilan van Wyk en Gert Esau mekaar weer die stryd aangesê. In beide die enkel- sowel as groepkarkaskompetisies het Juhilan die botoon gevoer, met Gert tweede. Die organiseerder, Dewitt Hodgson, sê die gehalte van inskrywings tussen die boere en opkomende boere is so na aan mekaar, dat hulle al in dieselfde kompetisie kan meeding.

Skaapkop-eetkompetisie

Die Toppie du Toit-wisseltrofee is deur Wilhelm Steenkamp verower nadat hy ’n skaapkop en twee biere verorber het. Dit was ’n groot hoogtepunt van die skou, met mans én dames wat aan die kompetisie deelgeneem het. – Koos du Pisanie, Plaas Media

On buying a cheaper Chinese vehicle

Estimated reading time: 4 minutes Gert, our farm mechanic, often gets consulted by young staff...

The future calf in mind: Supplementation of beef cows

Estimated reading time: 5 minutes The nutritional requirements of beef cows change as they proceed...

Laat die beeste die praatwerk doen

Estimated reading time: 7 minutes Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar...

Damage caused by game: Who is legally liable?

Estimated reading time: 5 minutes This raises the question as to whether someone can be...