Estimated reading time: 6 minutes
Produsente moet vanjaar ligloop vir geomagentiese storms, omdat die sonsiklus in 2025 sy hoogtepunt gaan bereik. Dié tipe storms kan veroorsaak dat presisie-landboutoerusting vir dae aaneen onklaar raak. Só waarsku dr Pierre Cilliers, ’n navorser en fisikus verbonde aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (SANSA).
“Inligting- en kommunikasietegnologie word al hoe meer by boerderybedrywighede geïntegreer, daarom is landbou meer afhanklik van tegnologie wat deur ruimteweer beïnvloed word,” sê dr Cilliers en voeg by dat ruimteweer hoofsaaklik na uitbarstings op die son se oppervlak verwys.
Tydens dié uitbarstings word groot massas materie uitgeskiet en na die aarde toe geslinger. Dit staan bekend as die sonwind en buiten vir die gelaaide massa, sleep dit ook gedeeltes van die son se magneetveld saam, wat tot magnetiese versteurings op die aarde lei. “Dit gebeur via ’n rippel-effek in die magnetiese veldsterkte,” sê dr Cilliers.
Wanneer hierdie deeltjies met die gasse in die aarde se boonste atmosfeer bots kan dit intense fluktuasies in die ionosfeer se digtheid veroorsaak. “Hierdie fluktuasies staan as ’n ionosferiese storm bekend, en veroorsaak steurings op alle satellietseine wat deur die ionosfeer na die aarde gestuur word, ook dié van navigasiestelsels soos GPS.”
Gannon-storm
Een voorbeeld van hoe ’n ruimteweerstorm landbou negatief raak, het verlede jaar tussen 10 Mei en 11 Mei plaasgevind toe ’n reusagtige G5-geomagnetiese storm die aarde getref het. Dit was die sterkste ruimteweerstorm wat die aardbol in dekades beleef het, sê Dr Cilliers. Dit was ook die eerste keer dat die suiderligte, oftewel aurora australis tot by SANSA se observatorium in Hermanus sigbaar was.
Terwyl talle Suid-Afrikaners die kleurspel bewonder het, het verskeie Amerikaanse landbouprodusente egter ’n nagmerrie beleef. Aangesien dié storm te midde van die Amerikaanse planttyd was, was baie graan en oliesaadprodusente besig om deurnag met hul GPS-toerusting te plant.
Die ruimtenuusblad Space.com het op 11 Desember 2024 ’n berig getiteld “Powerful solar storms are a nightmare for farmers” gepubliseer. Daarin het talle produsente in die midweste van die VSA getuig dat hul presisietoerusting in daardie tydperk als behalwe presies was.
Elaine Ramstad, ’n produsent van Noord-Minnesota, sê omdat sy ’n ruimteweer-entoesias is, het al haar neefs en niggies haar tydens die Gannonstorms gekontak om te laat weet dat die auroras hulle gek maak. “Ons trekkers het opgetree asof hulle deur duiwels besete was!”
Dié probleem het weer in die begin van Oktober 2024 opgeduik toe Ramstad besig was om suikerbeet te ontblaar. “Die trekker het twee keer rye oorgeslaan – terwyl dit op outomatiese stuur was – en toe het dit heeltemal ontspoor, en ek moes teruggaan en dit oordoen. Teen die aand het ek heeltemal beheer oor die outomatiese stuur (autopilot) verloor.”
’n Produsent van Indiana, Michael Spencer, beaam Ramstad se ervarings. “Hierdie herfs was die eerste keer wat ek die aurora kon sien. Die skoonheid het my hoendervleis gegee, maar dit het ook my trekker se ingeboude tegnologie laat dans [rondspring]. Toe die storm rondom 7 Oktober gepiek het, het my trekker se outomatiese stuur links en regs oor ’n ry gespring en ek was gedwing om die sisteem te herset.”
Agtech beïnvloed
Dr Cilliers sê die Amerikaanse produsente se ervarings stryk met die teoretiese invloed wat ionosferiese storms oor die korttermyn op die aarde se magneetveld en ionosferiese elektrondigtheid kan hê. “Dít beteken dat enige tegnologie wat van die aarde se magneetveld gebruik maak, of deur vinnige veranderings in die aarde se magneetbelt affekteer word, of radioseine gebruik wat deur uitbarstings op die son affekteer word, oor die korttermyn onakkurate resultate lewer.”
Die tegnologie wat spesifiek deur die storms geraak word, sluit die volgende in:
- Globale Posisioneringstelsel (GPS) vir navigasie in trekkers en hommeltuie wat gebruik maak van radioseine vanaf GPS-satelliete.
- Elektroniese sensors om reënval, groei en opbrengs te meet, wat die inligting herlei met radioseine.
- Selfone vir kommunikasie, wat oorlaai kan word deur radiosteurings wat die son uitstraal tydens ruimteweeruitbarstings op die son.
- Rekenaars en Internet vir beplanning, monitering, marknavorsing en die naspeuring van voertuie wat inligting via telefoonlyne, mikrogolfkommunikasiestelsels, en selfoonradio herlei.
Dr Cilliers sê die beste manier om dié probleem te oorkom, is om te weet wanneer so ’n storm gaan tref en in daardie tyd liefs die tegnologie wat daardeur geraak word, nie te gebruik nie. “SANSA hou dié storms fyn dop. Ons deur staan oop om saam met die landboubedryf te werk om dié probleem te oorkom met relevante waarskuwings.”
Diere ook beïnvloed
Die uitdagings rondom magneetveld-veranderings word egter nie tot moderne tegnologie beperk nie. Baie lewendige wesens gebruik die aarde se magneetvelde inderwaarheid as kompasse, sê Dr Cilliers. “Seediere soos haaie en walvisse is ’n sprekende voorbeeld.” Die Universiteit van Stellenbosch het inteendeel ’n paar jaar gelede ’n net ontwerp wat magnetiese velde gebruik om haaie te ontmoedig om té naby aan die strand te kom. “Wanneer die haaie deur die magneetveld swem, het dit hulle verwar en hulle het eerder teruggekeer na die oop see.”
Baie seediere wat op die seebodem swem, gebruik magneetvelde as rigtingwysers omdat hulle nie die voordeel van sonlig het om te sien waar hulle swem nie. “Hulle kan baie lank koers hou met behulp van die velde,” sê Dr Cilliers. “Wanneer die magneetveld verander, is dit egter baie verwarrend vir die diere en eindig die seediere dikwels op die strand.” Wedrenduiwe is ook baie sensitief vir fluktuasies in die aarde se magneetveld. “Wedvlug-organiseerders wil weet of daar sonaktiwiteit is alvorens ’n wedren plaasvind. Die gevolglike geomagnetiese veranderinge verwar die duiwe en dan vlieg hulle glad nie na die regte eindbestemming toe nie.”
Hoewel navorsing om die invloed van magneetveldverandersings op plaasdiere te toets steeds ontbreek, sê Dr Cilliers dit sal hom nie verbaas as magneetvelde sommige spesies kan beïnvloed nie. “Uit prof Jan Bonsma se navorsing aan die Universiteit van Pretoria, weet ons dat beeste byvoorbeeld sensitief is vir die 50Hz-elektriese velde onder kragdrade. Dís hoekom beeste nie graag onder kragdrade wei nie. Dit sal goed wees as iemand dalk soortgelyke navorsing oor magneetvelde sou aanpak.”
Daar is reeds wetenskaplike bewyse dat ruimteweer ’n daadwerklike invloed op gewasproduksie het. In 2021 is ’n navorsingstuk, “Investigating the impact of space weather on agricultural products over Chokie mountain basin in Ethiopia” in die wetenskaplike joernaal Acta Geophysica gepubliseer.
Dié studie het die verband tussen oesopbrengs (tef, koring en mielies) en die aantal sonvlekke, temperatuur en neerslag in elke agro-ekologiese sone ontleed deur gebruik te maak van 31 jaar (1990–2019) se data wat in die Chokie-bergkom in Ethiopië versamel is. Die studie het bevind dat die voorkoms van ruimteweer tydens periodes met ‘n hoë sonvlektelling oor die algemeen lei tot vermindering van koring en tef oor die studiegebied. Gevolglik is die verskuiwing van bewerkingstrategie vir plaaslike gemeenskap nodig tydens die voorkoms van 11-jaar sonsiklus. Dr Cilliers sê dit sal interessant wees om te sien hoe só ’n studie op plaaslike bodem daarna sou uitsien. – Susan Marais, Plaas Media
Vir meer inligting kan lesers die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap skakel by 028 312 1196 of vir dr Pierre Cilliers e-pos by pjcilliers@sansa.org.za. Alternatiewelik kan SANSA se webtuiste besoek word by https://spaceweather.sansa.org.za/ of besoek https://x.com/SpaceweatherSA?mx=2