Monday, February 3, 2025

RMIS stel eerste fase van naspeurbaarheidsplatform bekend

Estimated reading time: 3 minutes

Naspeurbaarheid en planne om ’n werkbare stelsel in plek te kry wat nie net voordelig vir die rooivleis-waardeketting is nie, maar ook in lyn met internasionale standaarde is, is al ’n paar jaar ’n besprekingspunt in die rooivleisbedryf.

Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) het besef daar is ’n dringende noodsaaklikheid om ’n werkbare naspeurbaarheidstelsel in plek te kry om die rooivleisbedryf staande te hou en het die bul by die horings gepak en begin om ’n platform te skep vir almal in die waardeketting.

Fase 1 skop af

’n Naspeurbaarheidsplatform waarby alle rolspelers maklik kan inskakel, is geskep om as gereedskap te dien om verskillende aspekte van die bedryf vir almal in die waardeketting te vergemaklik.

Die voorbereiding van hierdie taak is voltooi en die eerste fase, om inligting te bekom en rolspelers in die waardeketting betrokke te kry, het op 1 November afgeskop.

Tydens die bekendstelling van Fase 1 het Dewald Olivier, uitvoerende hoof van RMIS, gesê hierdie platform is ontwerp om deursigtigheid, doeltreffendheid en mededingendheid in die rooivleisbedryf te bevorder.

Wie is betrokke?

Fase 1 behels die identifisering van produksie-eenhede. Dr Philip Oosthuizen, bedryfshoof van RMIS, sê die doel van dié fase is om ‘die kaart van Suid-Afrika in te kleur’ deur elke plaas in die land en sy eienaar, hetsy dit ’n kommunale boer of kommersiële boer is, en die ligging van voerkrale en abattoirs te identifiseer. 

Elke produksie-eenheid kry ’n eenheidsnommer of ’n Global Location Number (GLN) en sal die basis van die RMIS-naspeurbaarheidsplatform vorm met die doel om:

  • Die uitbreek van dieresiektes te beheer en bestuur.
  • Veediefstal te bekamp.
  • Handel van rooivleis te verbeter deur naspeurbaarheid en produksiedata te deel.
  • Marktoegang tot kommersiële waardekettings en uitvoermarkte te verhoog.

Die doel van die platform

Hy sê die produksie-eenheid se GLN sal in die toekoms gebruik word om die ligging van ’n verkoper aan ’n koper (nasionaal en internasionaal) te verifieer en ook om digitale vervoerdokumente (soos Artikels 6, 8 en gesondheidsverklarings) aan te vra.

Die RMIS-naspeurbaarheidsplatform is so ontwerp dat dit verskeie rekordhoudingstelsels integreer om as liggingsverwysing vir die deel van naspeurbaarheidsdata te dien.

Oor onsekerheid in die geval wanneer ’n plaas verkoop word, sê Dr Oosthuizen die plaas behou sy nommer en RMIS sal net die eienaar se inligting verander. As net ’n deel van die plaas verkoop word, sal RMIS die eienaars kontak om te bepaal wat die situasie is en dit op dié manier hanteer. Kommunale boere wat saam op een plaas boer sal as ’n eenheid registreer en een persoon sal as die “eienaar” aangewys word.

Fase 2 en 3

Hy sê hulle gaan probeer om die hele naspeurbaarheidsplan binne ’n jaar af te handel en in werking te stel. Fase 1 behoort tussen drie en ses maande voltooi te wees. Fase 2 behels om die platform van die produksie-eenhede digitaal op ’n volgende vlak te sit, soos om die vervoerdokumentasie digitaal beskikbaar te kry. Dit gaan boere se lewe baie makliker maak.

Fase 3 is om die rekordhoudingstelsels wat reeds bestaan, op die platform te integreer. Op hierdie manier kan rolspelers die rekordhoudingstelsels wat hulle reeds in plek het, gebruik, maar wanneer ’n ondersoek ingestel moet word, kan RMIS inligting vanaf die ander stelsels nader trek. 

Die ideaal is om teen die einde van 2025 deur al die ander fases te wees en ’n werkbare konsep op die tafel te hê.

’n Beroep word op kommersiële en kleinboere, abattoirs en voerkrale gedoen om betrokke te raak en te registreer. Om te registreer, besoek https://rmis.co.za/services/traceability/. Die minimum inligting word benodig. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Korrekte bewyslewering is belangrik

Estimated reading time: 4 minutes Tydens dissiplinêre verhore en arbitrasieverrigtinge is die werkgewer verantwoordelik om...

As die SAPD weier om klagtes te aanvaar en ondersoeke nie vorder nie

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die...

The consequences of not reporting livestock theft

Estimated reading time: 5 minutes South Africa is unique in publishing official livestock theft statistics,...

Predation takes on new dimensions

Estimated reading time: 7 minutes Jackals and caracals remain Karoo livestock producers’ greatest concern, with...